Buitelewe

Ken jy kamera-taal?

Met sensors is groter beter. 'n Volraam is dieselfde grootte as die raam van 35 mmfilm, 'n crop-sensor (ook genoem DX of APS-C) is kleiner. 'n Kamera met 'n volraamsensor kan saam met ouer filmlense gebruik word en steeds mooi foto's neem. Die grootte maak dit ook meer geskik vir swakligsituasies. 'n Crop-sensor is goedkoper en daar is 'n hele paar goeies op die mark. As jy daarby 'n telefotolens gebruik wat geskik is vir 'n volraamsensor, kry jy ekstra vergroting. Dus kan 'n crop-sensor goed werk vir diere- of voëlfotografie.

Dit verwys na hoe vinnig 'n kamera foto's per sekonde kan neem wanneer jy die sluiterknoppie inhou. Hoe hoër die syfer, hoe meer geskik is jou kamera vir aksiefoto's.

'n Digitale kamera "onthou" beeldmateriaal as spikkels: Klein kleurdotjies. Een megaspikkel is gelykstaande aan een miljoen spikkels. Hoe meer megaspikkels 'n kamera kan onthou, hoe groter is die resolusie van die beelde wat dit kan afneem. Resolusie verseker nie beeldgehalte nie, daar is ander faktore wat 'n rol speel, soos outofokus en die kamera se beeldverwerker.

Moet dus nie blindelings die kamera met die meeste megaspikkels koop nie. 'n Topgehalte 12-megaspikkelsensor is beter as 'n gemiddelde een van 25.

As jy inzoem, wil jy graag 'n voorwerp wat ver is, van nader afneem. Dis 'n belangrike eienskap van kompakte en oorbruggings-(bridge) kameras. Jy sal twee zoemlesings op die lens sien: opties en digitaal. Opties maak die beeld groter deur die glaselemente in die lens te gebruik sonder om resolusie en beeldgehalte te affekteer. Digitale zoem maak die beeld groter deur sagtewaretruuks te gebruik. Omdat jy eintlik die foto kleiner maak, verloor jy vinnig beeldgehalte.

Digitale zoem behoort nie jou keuse te beïnvloed nie, die optiese zoem is wat die meeste van die kamera se gehalte sê.

'n RAW-lêer is 'n ongeredigeerde, nieverkleinde hoëresolusiefoto. Die meeste D-SLR en goeie kompakte kameras kan foto's in hierdie formaat neem. RAW gee jou die beste moontlike beeldgehalte en jy kan jou foto's vryelik redigeer. RAW-lêers is wel groot en gaan gou jou geheuekaart en hardeskyf volmaak. Jy het ook spesiale sagteware nodig om dié lêers te redigeer.

'n JPEG-lêer is 'n foto wat op die kamera verklein is om die lêer kleiner te maak. Dis 'n universele formaat, wat beteken jy kan dit op bykans enige stelsel met die meeste sagteware oopmaak. Omdat die lêers reeds gemanipuleer is, kan jy nie te veel daaraan karring sonder om verder gehalte te verloor nie. Jy kan 'n JPEG-lêer maklik laat druk as 'n groot, geraamde kunswerk vir jou sitkamer, maar met 'n RAW-lêer kan jy iets so groot soos 'n advertensiebord laat druk. Kies 'n kamera wat in albei formate kan foto's neem.

Die meeste nuwe kameras kan werk met Wi-Fi, wat jou in staat stel om foto's na jou foon of iPad te stuur sodat jy hulle na jouself kan e-pos of op Instagram kan laai. Jy kan ook jou foon as afstandbeheer gebruik as jy met 'n lang beligtingstyd eksperimenteer of jouself in die foto wil plaas.

Omtrent elke digitale kamera kan video's neem, maar sommige is beter as ander. As video's neem vir jou belangrik is, maak seker die kamera kan in Full HD skiet en dat dit 'n sok vir 'n eksterne mikrofoon het. Die ingeboude klank van die meeste kameras is nie baie goed nie. Handverstelling is ook handig wanneer jy video's skiet. Kyk ook of jy die fokus kan verstel terwyl jy die video neem; vra die winkelassistent.

Besoek Canon se webtuiste vir meer inligting oor nuwe produkte!

Canon

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM