Elke kampkis kort 'n goeie fles. Kies een van dié sewe flesse vir julle volgende vakansie Krugerwildtuin toe, en sorg dat almal wakker is by die watergat.
'n Sonsopkoms is net soveel beter met 'n goeie koppie koffie. Maar hy móét goed warm wees.
Dís hoe ons getoets het
Ons het die flesse eers met warm water uitgespoel en toe vol kookwater getap. Ná agt uur het ons die temperatuur gemeet met 'n industriële termometer en 'n koppie water geskink. Ons het die fles toegedraai en ná 10 ure weer 'n temperatuurlesing gedoen.

Leisure Quip
Hierdie is een van die goedkoper vlekvryestaalflesse. Hy het redelik aan die agterspeen getrek in die temperatuurtoets en die deksel, wat ontwerp is om skink te vergemaklik, het gelek, maar dis goeie waarde vir geld. Vir R200 is jou koffie nog redelik warm as julle vroegoggend stop op die Piekenierskloofpas op die N7 op pad Namibië toe.
8 uur: 72.3°C
18 uur: 49.8°C
R200 by Game

Leisure Quip 1L
Hierdie fles se talente het my beindruk, siende dat dit net R200 kos. Dis mooi vaartbelyn met 'n eenvoudige prop, dus kan jy melkerige koffie met 'n geruste hart daarin hou. Dis effens ligter as sy mededingers wat 'n mens laat wonder oor sy duursaamheid, maar ek spekuleer nou...
8 uur: 83.3°
C 18 uur: 65.6°C
R200 by takealot.co.za

Isosteel Duo 1L
Hierdie is sonder twyfel die beste speler in dié span. Dis goed geprys en hou hitte die heel beste! Die water was vuurwarm ná agt uur en ná nog tien ure sou jy steeds 'n haalbare koppie koffie kon maak.
Die twee koppies aan elke kant maak dit effens bonkig, maar twee is beter as een, né. Die maklikskinkdeksel was die beste van die klomp, maar ek sou nie melk in die fles gooi nie.
8 uur: 87.4°C
18 uur: 73.4°C
R270 by Trappers

Cape Union Mart 1L
Die fles lyk nja en dis kompak. Dit het nie te sleg gevaar in die hitte-afdeling nie, maar sy prop is treurig. Die maklikskink-deksel het so stadig geskink, teen die tyd wat my koppie vol was, het die son lankal gesak. Dit sal my egter nie keer om die fles te koop nie, ek sal bloot die hele prop uitskroef en skink.
8 uur: 75°C
18 uur: 51.8°C
R 350 by Cape Union Mart

Atlasware 500 ml
Wat het jou onder-10-rugbymeneer altyd gesê: "Hoe groter hulle is, hoe harder val hulle." Die Atlasware-fles het 'n hele paar grootmenere uitgestof. Die Duitse ontwerp lyk superkoel, maar meer belangrik, dit hou goed la-a-a-ank warm. Dis rateltaai én het 'n 100%-vervangingswaarborg.
8 uur: 77.6°C
18 uur: 51.4°C
R350 by Trappers (Die 1L-fles kos R500.)

Eva Solo-vakuumbeker 1L
Die fênsie Deense koffiekan gaan beslis uitstaan by die Kirstenbosch-piekniekkonsert, maar jy gaan deur jou nek betaal vir dié aansien. Nes die Addis en Milton-flesse, is dit ook gemaak van plastiek en glas, maar sy't houding. Die fles het haar goed van haar taak gekwyt, maar eintlik betaal jy 'n stewige prys vir die koelfaktor.
8 uur: 79°C
18 uur: 62°C
R601 by bankskitchenboutique.co.za
Stanley Classic 1L
Stanley is vanjaar 100 jaar oud, maar soos Anthony Hopkins (78) is dié ou flesse nog lank nie koud nie. Miljoene mense wêreldwyd maak staat op die fles met sy kenmerkende groen kleur en smal skroefdeksel vir 'n koppie sawwelyf op die langpad. Die Isosteel Duo het effens beter gevaar in die temperatuurtoets, maar die Stanley het steeds beindruk. Die taai fles het 'n lewenslange waarborg.
8 uur: 84°C
18 uur: 67.9°C
R700 by Trappers
Fleswenke
• Was die fles met warm water en skottelgoedseep (of koeksoda). Sorg dat ál die dele droog isvoor jy dit wegpak.
• Vermy tee of koffiemet melk, veral in flesse met maklikskink-deksels - dit kan gou muf raak.
• Skink eerskookwater in die fles en laat staan dit vir 30 sekondes voor jy warm vloeistofinskink. En laat staan yswater vir ten minste drie minute daarin voor jy kouedrinkgoed skink.
• Elke keer as jy diedeksel oopdraai ontsnap van die hitte, moet dus nie die fles onnodig oop en toemaak nie. Kry liewer twee kleiner flesse indien jy warm koffie voor ontbyt enná aandete wil drink.












