Buitelewe

Kyk net hoe slim: Ammo-oondjie

MORNé DETTMER van Langebaan deel sy plan vir 'n oond: Ek het hierdie broodoondjies wat soos varkies lyk, gestaan en kyk en gedink ek kan mos my eie oondjie prakseer. Ek het dadelik gedink aan my ou ammokis uit my weermagdae.

Ek was bekommerd oor die verflaag oor die ammokis en het eers daarin vuurgemaak om hom behoorlik skoon te brand. Daarna het ek hom mooi skoon uitgevee en toe was my oondjie reg vir my eerste probeerslag.

Ek het hom oor die kole gesit met my klein broodpannetjies vol deeg binne-in en 'n paar kole op die deksel. En al moet ek nou self so sê, was my eerste probeerslag nie te sleg nie.

Die verfreuk en -geur waaroor ek so bekommerd was, was nie 'n probleem nie en die broodjies het heel gaaf uitgekom.

Hulle was ongeveer 30 minute in die oond.

Ek moet nog 'n bietjie skaaf om dit presies reg te kry, maar intussen het ek groente in foeliepakkies heel ordentlik in my ammokis-oondjie gaar gekry. Volgende gaan ek probeer om 'n hoendertjie in hom gaar te maak. En ek dink hy behoort 'n heel gawe roker ook te maak.

Die lekkerste is dat ek nou 'n heerlike kampoondjie het - en dit het my nie 'n sent gekos nie.