Egpaar hou geskiedenis van Voortrekkers se Groot Trek lewendig by die Lewende Laer by die Voortrekker-monument in Pretoria, skryf Antoinette Slabbert.
Om 'n melktert op 'n oop vuur te bak soos Oumagrootjie dit gedoen het tydens die Groot Trek is nie so eenvoudig nie en beslis nie iets wat enige kok in 'n japtrap kan afhandel nie.
Dít is egter wat Endrietta Janse van Rensburg gereeld in die Lewende Laer by die Voortrekkermonument doen, en besoekers is welkom om te gaan kyk hoe dit gedoen word en 'n happie te proe.
Jaco vertel dat mense wat in die laer kom oorslaap, aanvanklik maar senuweeagtig is. "Dit is vir hulle vreemd dat daar nie 'n deur aan die wa is wat kan toemaak nie." En as die wind waai of die weer swaar is, is daar nie wegkruipplek nie.
Geklee in Voortrekkerdrag, kappie en al, wat sy self gemaak het, is Endrietta daar van Donderdag tot Sondag en selfs oornag as gasvrou vir enigiemand wat in die sewe waens wat die laer vorm, wil oorslaap. Aan haar sy is haar man, Jaco, wat 'n dryfsweep kan klap dat dit klink of die weerlig reg langs jou slaan.
Geen os sal dit waag om nadat hy dié geluid gehoor het stil te staan nie. Nee, dis vorentoe, oor die Drakensberge!
Die egpaar is lid van die Trekkervereniging, 'n groep wat reeds in 2014 gestig is en die wabedryf en laerkultuur huldig.

Vir baie jare het hulle gereeld die land vol getrek met waens na groot kultuurfeeste, waar hulle onder meer demonstrasies gelewer het van die lewe in 'n Voortrekkerlaer - kerse maak, mielies stamp, koffiebone maal, botter karring, sweep klap, rieme brei en, natuurlik, die melktert.
Die laaste paar jaar is hulle by die Voortrekkermonument, waar besoekers al dié demonstrasies kan sien.
"Alles in die laer vat lank," sê Endrietta. Daar moet jy nie haastig wees nie. Vroeg-vroeg moet die vuur al brand. Dan maak jy die beslag vir die kors aan en voer die pan uit. Haar pan is 'n replika van 'n pan van die Groot Trek wat in die Voortrekkermonument uitgestal word.
Die vulsel word op die vuur gemaak.
Dít word in die uitgevoerde pan gegooi en dan is dit terug vuur toe. Van die kole moet bo-op die pan se deksel gesit word om seker te maak dit bak ook van bo.
Sy het haar resep via 'n vriendin uit 'n tydskrif van die 1900's gekry en bak dit nou al vier jaar lank. Dit het geen kaneel in nie. Die Voortrekkers moes bestanddele gebruik het wat hulle gehad het.
"Hulle hoenders en vee het saam getrek, so hulle het altyd vars melk en eiers gehad. Ander basiese bestanddele moes hulle saam trek."
Die resep het natuurlik ook nie oondtemperature nie. "As jy jou hand vir tien tellings bo die vuur kan hou, is die temperatuur reg." Dit kan ook in 'n bakoond gebak word.
Ná 'n uur kom die pan af en dan moet dit vir nóg 'n uur staan om af te koel en te stol voordat die deksel afkom en die kok dit kan sny vir die smul.
Jaco vertel dat mense wat in die laer kom oorslaap, aanvanklik maar senuweeagtig is. "Dit is vir hulle vreemd dat daar nie 'n deur aan die wa is wat kan toemaak nie." En as die wind waai of die weer swaar is, is daar nie wegkruipplek nie.
Saans voordat almal waens toe gaan, maak Endrietta lekker boerekos en almal sit om die vuur en gesels oor die wakultuur. Die volgende oggend is daar tradisionele koffie en beskuit en die kinders kan aan aktiwiteite deelneem na gelang van hul ouderdom.
'n Paar maande gelede is 'n werkende smidswerkwinkel in die laer ingerig en Jaco wys vaardig hoe die trekkers hul eie messe gemaak en koeëls gegiet het. "Dit was die vrouens se werk om koeëls te maak," vertel Endrietta.
Die egpaar lewer gereeld praatjies oor die laerlewe. "Nou die dag vra 'n oom my hoekom doen ek dit," vertel Endrietta. "Dis vir ons kleinkinders," sê sy. Hulle wil hê die nageslag moet hul kultuur ken en eerbiedig.
Wat kos dit?
- Die kultuurpakket waarvoor besoekers alles op die terrein van die Voortrekkermonument kan beleef (buiten die museumteater) kos R205 per persoon vir Suid-Afrikaners en R275 vir buitelanders. Om 'n nag in die Lewende Laer oor te slaap, betaal volwassenes R480 per persoon en kinders jonger as 12 R250.
Endrietta se Lewende Laer-melktert
Kors:
- 2 k koekmeel
- 5 ml bakpoeier
- 125 ml suiker
- 100 g botter
- 1 eier
- 100 ml melk
- 'n knippie sout
Vulsel:
- 5 k melk
- 15 ml vanieljegeursel
- 250 g botter
- 1,5 k koekmeel, gesif
- 1,5 k suiker
- 8 eiergele
- eierwitte
- 15 ml mielieblom
Metode : Vir die kors, meng die droë bestanddele saam. Werk die koue botter in die mengsel in met die hand.
Klits die eiers en voeg by.
Met die vingers, meng en bewerk die deeg in 'n stywe deeg.
Plaas op 'n bord wat met meel bestrooi is en sprinkel meel bo-op.
Maak toe met kleefplastiek en laat rus in die yskas vir 30 minute.
Rol uit en gebruik om een 22 cm-pan of twee kleiner panne uit te voer.
Vir die vulsel, verhit vier koppies melk, vanieljegeursel en botter in 'n kastrol.
Gebruik die vyfde koppie melk om die meel, suiker en eiergele in 'n pasta te meng.
Meng die pasta in die warm melkmengsel in en kook tot dik.
Haal van die vuur af en vou styfgeklitste eierwitte in. Gooi op die kors in die tertpan en sit terug op die vuur vir een uur. Haal af en laat afkoel vir 'n uur om te set. Geniet!




















