Dis Oujaarsdag en as jy soos die meeste van ons is, lê jy waarskynlik iewers in 'n beswyming van te veel - te veel oorskiet Kersboud, koekstruif en Quality Street-tjoklits.
Saam met die "vreetsaamheid" kom daar ook daardie gevreesde Krismis-kilogramme - maar dis môre se bekommernis. En as jy 2023 met hope avontuur gaan kombineer, gaan die vakansiefuifery nie vir lank rondom jou middel spook nie.
Hier is 'n lysie avonture van reg oor die land. Trek die kalender nader, kyk na die vakansiedae en langnaweke en bereken hoe jy jou verlof tot die beste manier moontlik kan benut.
Wes-Kaap
Kom tot bo-op Tafelberg
Dis nou nie Kilimandjaro of Everest se basiskamp nie, maar daar is tog iets spesiaal daaraan om bo-op Kaapstad se bekendste baken te staan en oor die stadskom uit te kyk. Tog is dit verbasend hoeveel Suid-Afrikaners nog nooit self bo-op Die Berg gestaan het nie. Maak nie saak of jy 'n binnelander of 'n Kaapie is nie, nou is die tyd!
As jy fiks genoeg is, kan jy sommer die Platteklip-roete te voet pak, maar moenie dit onderskat nie! Jaarliks moet daar tientalle stappers van die berg gered word. Maak seker jy het 'n stapmaat, genoeg water en snoepgoed en 'n volgelaaide selfoon.
En het jy geweet, Suid-Afrikaners word in hul verjaardagmaand bederf met 'n pasella-retoerkabelkarretjie rit. Besoek www.tablemountain.net vir meer inligting oor kaartjiepryse, weer en besprekings.
Oos-Kaap
Beste Baviaans
Die 240 km-grondpad tussen Willowmore en Patensie bly maar een van Suid-Afrika se mooiste en mees ongerepte wildernisstreke. Die Baviaanskloof is 'n botaniese lushof met 'n diverse 1 200 plantspesies, 293 voëlsoorte en 'n magdom van dier- en reptielspesies. Daar is talle kampeerplekke en interessante verblyf wat wegkruipertjie speel tussen reuse- geelhoutbome en op die rand van die Baviaanskloof-rivier. Die hele familie kan na hartelus visvang, stap, fietsry en swem in versteekte swemgate so reg uit 'n Timotei-sjampoe-advertensie.
As jy egter kans sien vir iets met meer borshare, begin nou al oefen vir die 230 km-Trans-Baviaans-24-uur-bergfietsmarathon. Dié rowwe dag-en-nag-trap staan nie verniet bekend as een van die wêreld se uitdagendste bergfietswedrenne nie. Dit is nou al so gewild dat daar elke jaar twee byeenkomste plaasvind. 2023 s'n vind plaas op 12 en 19 Augustus.
Besoek www.baviaans.net vir wenke oor die Baviaanskloof en transbaviaans.co.za vir inligting oor die Trans-Baviaans-bergfietsmaraton.
Noord-Kaap
Laat waai by Augrabies
Wanneer dit kom by buitelug-avontuur is daar min nasionale parke in Suid-Afrika wat kan kers vashou by Augrabies.
"Aukoerebis" beteken "Plek van Groot Geraas" in die Khoekhoen-taal. Lank voor jy die natuurlike skouspel raaksien, hoor jy dit van ver . . .
Benewens die watervalle is hier talle aktiwiteite wat jou bloed gaan laat bruis. Jy kan uit jou kar ontsnap om te stap, fietstrap en klim na hartelus - daar is geen grootwild wat jou wil eet of plattrap nie.
Die Garieprivier het oor die millennia 'n 18 km lange ravyn deur graniet en gneis gekerf en sodoende 'n paradys vir landskapfotograwe en sterrekykers geskep.
Jy hoef ook nie al die pad Victoria-waterval toe te gaan om witwaters aan te durf nie. Sowat 14 km buite Augrabies wag die puik Khamkirri-rusoord op jou. Hier word daar dosyne avonture aangebied, onder meer witwaterkajak en riviervaarte, perdry, MTB- en velddrafroetes en kunsvlieghengel vir geelvis.
Besoek www.khamkirri.co.za en www.sanpark.org/augrabies vir inligting.
Vrystaat
Gooi dit by die Gariep
Die Gariepdam-natuurreservaat en die puik Forever Resorts-vakansieoord is 'n vakansieplek wat jy nie wil misloop nie. En nee, dis nie net 'n aftrekplek vir Valies op pad Kaap toe nie.
Bespreek 'n paar aande hier en kyk wild, draf om die dam en speel tussen die ysterklipkoppies. Jy kan ook lafenis soek in die cappuccino-kleur water waar jy kan seil, visvang en ontspan op 'n "booze cruise." Of skryf in vir die Lake Gariep Run-veldwedloop wat op 29 April by die nabygeleë Oviston-natuurreservaat en die pragtige Schalkwykskraal-plaas plaasvind. Jy kan kies tussen 'n rustige 10 km en die meer uitdagende 50 km.
Besoek www.forevergariep.co.za en www.lakegarieprun.co.za vir meer inligting.
Noordwes
Skubaduik in die Bosveld
Om in die Bosveld te skubaduik klink dalk so vergesog soos oom Schalk Lourens se stories oor Hans, die 20 voet lange mamba. Maar daar tussen Ventersdorp en Lichtenburg kan jy diep duik in die soel waters van die Marico Oog. Die water is verbasend helder en dis 'n sprokieswêreld tussen die waterleliewoude. Suid-Afrika se skubaduikgemeenskap reken dis die beste binnelandse duikplek in die land. Selfs al duik jy nie, kan jy steeds jou tent hier kom opslaan langs die kristalhelder water. Die kampeerterrein het groot groen grasperke, wilgerbome vir skadu en uitstekende ablusiegeriewe.
Bespreek 'n duiksessie by www.diveinn.co.za/marico-oog/. As jy net wil kampeer, bel vir Willie Mulder by 084 512 9185 vir meer inligting.
KwaZulu-Natal
Tropiese wegbreek in Noord-Natal As jy egter op soek is na 'n bietjie soel soutwater, gaan jy nie sommer beter kry as die onderwaterwêreld tussen Kosibaai en Cape Vidal nie.
Duisende helderkleurige tropiese visse en ander seelewe wag op jou onder die water. Die regte mense om mee saam te gaan duik hier is Safari and Surf, wie se hoofkantoor in St. Lucia is.
Die voëllewe in die kuswoude is ook puik - kyk uit vir die witaasvoël wat tussen die raffiapalmbome rondhang en ander geveerde deugies soos kolpensies, bosloeries en konkoits.
Besoek www.safariandsurf.com om 'n duik te bespreek. Cape Vidal-natuurreservaat word deur KZN Wildlife-Ezemvelo bestuur. Besoek hul webwerf www.kznwildlife.com vir meer inligting.
Mpumalanga
Klouter by Waterval-Boven
Die selferkende rockspaaiders noem die klipharde sandsteenrotswande naby Waterval-Boven (of Mgwenya, as jy nou regtig wil) "The Restaurant at the End of the Universe", na die alombekende boeke van Douglas Adams. Dié ougat dorpie wag stil-stil op jou reg op die randjie van die eskarp en ongelukkig blits reisigers dikwels hier verby op pad na die Krugerwildtuin en Laeveld. Hier is egter hope om jou besig te hou.
Indien rotsklim te gevaarlik klink, kan jy altyd jou bergfiets opsaal of 'n kunsvlieg of twee gooi vir 'n wilde forel. Roc 'n Rope Adventures is die mense om die kranse mee te verken. Besoek hul webwerf by www.rocrope.com of bel 013 120 4600.
Limpopo
Kyk wild vanaf 'n kwadfiets
Kom klim op 'n kwadfiets hier in die Waterberge naby Bela-Bela - en benader wildkyk vanaf 'n ander oogpunt. Stofstreep deur die Mabula-natuurreservaat terwyl jy sit-sit-so tussen die Groot Vyf. Die aktiwiteit word deur 'n ervare gids begelei wat 'n ogie hou oor die wat dalk hulself as die Evel Knievel van die Bosveld ag. Die kwadfietse is ook so gestel dat jy nie vinniger as 20 km per uur kan la(at)waai nie. Die fokus hier is eerder natuur en wildlewe as adrenalien. Boonop is die reservaat ook sowat twee uur se ry vanaf Pretoria, wat dit ideaal vir 'n daguitstappie maak. Besoek www.mabula.co.za vir meer inligting.

Gauteng
‘Zipline' in Cullinan of abseil vanaf Loftus
Nou ja, om die betonoerwoud se openbare parke en natuurreservate te verken laat beslis die adrenalien pomp, maar soms om al die verkeerde redes. Jy wil nie heeltyd oor jou skouer loer vir boewe of struikrowers wat wag om jou fiets of selfoon te gryp nie. Adventure Zone buite Cullinan is egter 'n veilige plek om tyd in die natuur deur te bring. Daar is 'n blitsvinnige kabelglybaan (zipline), pragtige staproetes tussen tipiese Hoëveldse landskappe oortrek met kiepersol en soetdoring, en kwadfietsavonture. Hulle het ook onlangs takke oopgemaak naby die Voortrekkermonument en Loftus Versfeld - waar jy vanaf die oospaviljoen kan abseil.
Adventure Zone bied ook pakkette vir kinderpartytjies en korporatiewe spanbougeleenthede. Besoek adventurezone.co.za.
- Marais is 'n avontuurskrywer en fotograaf van Kaapstad.




















