Ek het die Kgalagadi-oorgrenspark die eerste keer in 2019 saam met my goeie vriendin (en fotografiementor) Louise Victor besoek. Die Kgalagadi bied waarskynlik die mees uiteenlopende natuurlewetonele van enige nasionale park in die land.
Die personeel en ander toeriste wat ek al in die park ontmoet het, is ook altyd baie vriendelik. In November 2022 is ek en my man, Jacques, weer soontoe. Ons het tien nagte bespreek - 'n week by Twee Rivieren en die res van die aande by Nossob.
Ongelukkig het veldbrande groot dele van die park 'n maand of twee vantevore vernietig en gevolglik het ons rondom Twee Rivieren maar min te siene gekry - een springbok, een rooihartebees en een blouwildebees om presies te wees!
Selfs die voëls het hulle skaars gehou. Maar toe hoor ons by ander toeriste dat hulle 'n leeuwyfie met drie welpies naby die Kij Kij-watergat gesien het. Die mannetjie het glo ook daar rondgehang.

Ons het die pad noord na Kij Kij gevat en vol hoop naby die watergat stelling ingeneem. Terwyl ons wag dat die leeus dalk weer hulle verskyning maak, het ek roofarende en duiwe (daar was 'n menigte van hulle!) met my Nikon D850-kamera en 'n Tamron 150-600 mm-lens afgeneem.
Ná 'n rukkie het mense in die verbyry ons vertel dat hulle die leeumannetjie in die rigting van die Tierkop-watergat op die nabye duinepad gesien het. Ons het in daardie rigting gery, maar ná sowat 9 km niks gesien nie, en weer omgedraai. Terug by Kij Kij was dit egter steeds doodstil, toe besluit ek en Jacques om maar terug te keer Twee Rivieren toe - dit was in elk geval al laat in die middag.
Ons was skaars 2 km van Kij Kij af toe Jacques skielik sê: "Is jy reg vir die leeu?" Ek dog eers hy probeer my net opbeur, maar dis toe nie 'n grappie nie. "Is jy reg?" het hy - dié keer meer dringend - gevra.
Sonder dat ek dit besef het, het hy reeds die leeuwyfie langs die pad gewaar. Toe ek kyk na waar hy beduie, kon ek in die eerste oomblik net 'n wildebees uitmaak... maar sien toe die leeu wat aan sy gesig hang! Die wyfie het gestoei om die groot bul sover te kry om te val terwyl hy haar met sy hoewe bydam.

Hoewel die wyfie soms haar kloue van voor af in die wildebees sou inslaan, het sy nooit haar greep op sy snoet verslap nie. Die wildebees het sy kop so hard as wat hy kon, geskud. Maar dit het die leeu net nóg stywer laat klou in haar poging om hom plat te trek.

Die geveg het vir sowat 20 minute geduur voordat die wildebees uiteindelik los- gekom het. Die wyfie het weer 'n keer na hom gemik, maar toe hy haar bestorm, het sy die aftog geblaas.

Ek was die hele tyd aan die leeu se kant omdat ek geweet het sy het drie kleingoed om te voer en in die kaalgebrande veld was daar maar min prooi.





















