Privaatheid is soms 'n luukse wanneer 'n mens kamp. Ludwig Nelson van die Strand vertel van hulle slim plan om die probleem hok te slaan.
"Ons kamp veral in droë gebiede in ons daktent en gazebo, en dan is privaatheid maar aan die skraps kant.
'Met 'n onlangse besoek aan die Kgalagadi se Nossob-kampterrein was ons weer in dié bootjie en ek het besef ek sal 'n plan moet maak. Ek kon nog nooit vat kry aan die "telefoonhokkie"-tente wat kampwinkels vir dié doeleindes verkoop nie en het toe besluit om my eie meerdoelige vertrekkie te bou wat goedkoop en lig is en klein opvou.
'Ek het vir my 'n hoepel gaan koop, sy las oopgetrek en hom binne-in met 'n stuk rubbertuinslang versterk. Voor ek hom weer geheg het, het ek tien gordynringeingeryg en toe stukkies tou op drie punte vasgebind. Dit werk net beter vir balans.
'Ek het dié drie toue in die middel aan een lang tou vasgebind - sodoende kan ek die hoogte van my vertrekkie verstel.
'Ek en my vrou, Elmine, is daarna materiaalwinkel toe. Omdat ons die vertrekkie nie vir stort wil gebruik nie, het ons 'n stuk denimmateriaal gekoop en die bo- en onderkant van dié stuk met oorskietseilmateriaal omgewerk. Die denim werk goed, want daar is nie 'n manier dat iemand deur dit kan sien nie. Ons het tien knippies aan die bokant vasgemaak waarmee ons die materiaal aan die gordynringe ehang het.
'Binne-in kan 'n mens hakies aan die hoepel hang waaraan jy jou klere met die uit- en aantrekproses kan hang.
'Vir ons doeleindes het ons 'n klompie sakkies aan die boonste seilgedeelte vasgestik om goed in te sit. Ek moet jou sê, dié plan het ons probleem met privaatheid maklik opgelos."






