Aasvoëls word bedreig, maar 'n onlangse projek om dié geveerdes te bewaar, gee hoop.

Dit het meer as 50 mense 18 uur geneem om meer as 160 aasvoëls 1 042 km ver te vervoer in Afrika se grootste aasvoëlverskuiwing.
Dié grootse poging is die resultaat van spanwerk tussen VulPro, 'n organisasie wat hom bemoei met die bewaring van aasvoëls in Afrika, en Shamwari, 'n private wildreservaat in die Oos-Kaap.
"Die eerste fase van 'n projek om die toekoms van die wilde aasvoëlbevolking in Suider-Afrika te verseker, is suksesvol afgehandel met 160 Kaapse en witrugaasvoëls wat nou Shamwari hul tuiste noem," lui 'n verklaring oor dié projek wat deur die rolspelers uitgereik is.
Die 160 aasvoëls is deel van 'n projek wat oor twee jaar strek om 'n teelfasiliteit, VulPro at Shamwari, te vestig vir siek of beseerde aasvoëls wat gerehabiliteer is en kan broei, maar nie weer in die natuur vrygelaat kan word nie.
Die betrokke aasvoëls is aanvanklik by VulPro se fasiliteit in Hartbeespoort in Noordwes aangehou, maar bly deesdae in spesiale kampe by Shamwari.

Maar hoe gaan 'n mens te werk om soveel aasvoëls oor so 'n groot afstand te vervoer?
DHL het die vervoer en sekuriteit verskaf en We Wild Africa ('n nieregeringsorganisasie wat hom beywer vir natuurbewaring) het die aasvoëls gelaai en finansiering vir die kratte (waarin hulle vervoer is) verskaf. Prof. Katja Koeppel van die Universiteit van Pretoria se fakulteit veeartsenykunde en dr. Johan Joubert van Shamwari het 'n wakende oog oor die geveerde vriende se welstand gehou tydens die verskuiwing.
Volgende aan die beurt, vir fase twee van die projek, is broeipare - dit sluit lapgesig-, witkop- en kapaasvoëls en nog witrugaasvoëls in. Die kampe is in drie afdelings ingedeel - een naby die veeartse en uit die openbare oog vir ernstig beseerde aasvoëls, een aangrensend aan die bestaande rehabilitasiesentrum met 'n kunsmatige krans wat optimale toestande bied vir broeipare en 'n derde in die middel van die reservaat van waar gesonde, jong Kaapse aasvoëls vrygelaat sal word.
Die Kaapse aasvoëls sal uiteindelik by Shamwari vrygelaat word "in ooreenstemming met sy etos om die inheemse fauna en flora in die reservaat te herstel tot wat dit eens was". Al hierdie voëls sal met opsporingstoestelle toegerus word. Die nasate van die broeipare sal op hul beurt die langpad, terug na Hartbeespoort, aandurf om in die natuur vrygelaat te word.
'n Studie wat in Nature Ecology & Evolution gepubliseer is, dui op 'n "wydverspreide bevolkingsineenstorting" van onder meer aasvoëls. Dit gebeur, volgens die navorsing, omdat aasvoëls se habitat vernietig word, hul kos minder word en hulle gejag word - alles tekens van die uitbreiding van die menslike bevolking.
Boonop word hulle vergiftig (per ongeluk en met opset), kragdrade skok hulle en hulle vlieg teen windturbines vas.
"In bewaringsterme beskou ek hierdie projek as so belangrik as die hervestiging van 160 renosters," sê Joe Cloete, Shamwari se uitvoerende hoof. "Aasvoëls is noodsaaklik vir 'n gesonde ekostelsel en word ernstig bedreig."
Cloete sê die projek is deurslaggewend vir Shamwari se "bewaringsreis".
Nog kampe gaan oor die volgende drie jaar gebou word. - Beeld-redaksie




















