Die wabouer Invader, wat veral bekend is vir sy twee goedgevestige modelle, die Duo en Quattro, het nou ook 'n variant van eersgenoemde bekend gestel wat hy die Duo X noem. Hoewel die twee Duo-modelle se basiese konsep dieselfde bly, is die X 'n model in eie reg.
Pleks van 15 duim-wiele is 17 duim standaard op die nuweling, terwyl die 1,8 t-as plek maak vir 'n 2 t-weergawe. Ook die gewigte en grootte verskil effens: Die X is 100 mm langer en 50 mm hoër én breër.
Die tarragewig is 50 kg meer, maar die brutovoertuigmassa bly 1 500 kg. Waar die standaardmodel een 105 Ah- battery kry, het jy in die X twee van hulle én jy word met 'n 375 W-omskakelaar bederf.
Die neuskas kry twee vlak laaie by; van die buitestort af het jy nou direkte toegang tot jou klerekas in die regterpaneel; en die dak kantel nou elektries eerder as met gasstutte. Die einste oranje model is - tong in die kies - Fanta gedoop. Ons bekyk Fanta van hoek tot kant.

Onderdak of dakloos?
Buiten die twee afswaaihoekstutte by die stert om die kampwa stewig te laat staan, pas 'n los poot oorkant die neuswiel om die wa se voorkant verder te stut. Dit werk met 'n slinger. Voor jy verder opslaan, moet jy besluit of jy die stoeptent oor die kombuis wil opslaan.

Die tent is natuurlik 'n welkome skerm teen die son, maar dit hou die wêreld ook droog langs die wa wanneer dit reën óf as dit die nag erg dou. As jy vinnig by 'n oornagplek intrek, is daar nie veel rede om die tentdak uit te slaan nie, maar as jy 'n dag of drie staan, doen 'n mens dit eerder.

Die stoepdak is aan die dak vas, en as jy dit gelig het soos jy opslaan, gaan jy nie bykom nie, laat staan nog enigiets uitslaan.Die stoepdak slaan 270º oop, wat beteken dit vorm 'n skans oor die hele linker- en voorkant - en ook oor die bed wat oor die A-raam uittrek.

Die dak het 'n paar los en vaste pote wat almal verleng kan word, en dis nie te veel werk vir een mens nie.
Met die dakseil heeltemal uitgevou is jy gereed om die dak te lig. In die kas links van die linkerwiel is 'n skakelaar vir die kompressor. Sodra jy dit aanskakel, lig die dak met vier silindriese pale wat elke hoek daarvan stut.

Vir veiligheid moet jy ook 'n splitpen deur elk van die silinders pas wanneer jy dit klaar gelig het. Die voorste deel van die dak moet nou nog 'n klein entjie verder lig om dit 'n effense helling te gee.

Die skakelaar vir die twee elektriese motors wat dit vir jou doen, is in die deur. Jy kan nou al die dakpale haaks en geanker kry en siedaar, jy het heerlike oopplangesinskamer langs die wa. Om die dak te laat sak is net so eenvoudig.
Begin deur die splitpenne te verwyder. Langs die kompressorskakelaar is 'n klep waardeur lug uit die stelsel kan ontsnap.

Jy kan tot 'n mate beheer hoe vinnig die dak sak, wat jou kans gee om die kantseil mooi terug in die romp te druk voor jy dit heeltemal laat sak.
Voorlaaier
Die bed trek soos 'n groot laai uit oor die A-raam, maar eers moet jy 'n veiligheidsknip by die deur skiet gee wat die bed in die ry op sy plek hou.

Met die laai heeltemal uitgetrek swaai stutpale van die onderstel af op om die bed te ondersteun. Dieselfde veiligheidsknip moet jy nou in sy nuwe posisie inhaak sodat die bed mooi geanker staan.
Daar is ook 'n tweede knip op die ander hoek van die bed wat jy moet inhaak. Soos jy die laai uitgetrek het, vou die seil - wat oor die bed is - uit, maar jy moet ook 'n U-raam aan die binnekant by die koppenent opswaai.

Tussen die U-raam en die dak pas 'n los paal wat verleng kan word, en jou tent oor die bed span dan netjies styf.
As jy in die middel van die vloer staan en na die bed kyk, is daar kassies links en regs van jou met een blad aan elke kant waarop jy goed kan neersit.

Op die rande onder die blad is selfs strookligte wat afskyn grond toe. Dis nie net prakties nie, maar sorg ook vir 'n swierige afwerking. Die twee blaaie is onderskeidelik 33 x 144cm en 32 x 127cm groot.

Die gesigwasbak, met warm en koue water, is in die hoek oorkant die deur met wat lyk soos 'n enkelrusbank langsaan. Behalwe dat dit dus sitplek is, slaan dit op om jou toegang te gee tot 'n draagbare kassettoilet.
Langs die bank is 'n 220V-sok. Die oop ruimte voor die bed bied genoeg en gemaklike plek vir twee mense: Dis 'n goeie 87 x 100cm. Waar jy opklim na die bed toe, is 'n tweede bankie, ook met los kussings.

As jy die sitplek oplig, is jy by die batterykas. Die proppe regs agter die bankie is aan die omskakelaar gekoppel, ingeval jy 220V-krag nodig het by 'n bestemming waar dit nie beskikbaar is nie.
Bo die omskakelaar is ook twee USB-sokke en 'n sigaretaanstekersok.Die tenthoogte bo die bed wissel van 880mm tot 720mm bo die matras met die laagste deel by die koppenent. Jy kan dus tot so halfpad gemaklik regop op die bed sit.
Hier is altesame ses kassies aan die binnekant waarvan twee oopmaak in die klerekas (wat jy ook van die buitestort af kan bykom).
Badkamer toe
Die opsionele los storthokkie slaan langs die regterkant op en pas opgevou in 'n sak wat maklik in die neuskas pas. Dit is basies 'n reghoekige raam waaraan seil soos 'n rok hang, maar die ontwerp verdien 'n pluimpie.

Die raam lyk aanvanklik soos een plat yster, maar dit het arms wat uitvou met die seilkante daaraan vas. Die raam haak in teen die romp en jy sit met 'n netjiese oopdakstorttent langs jou kampwa.
'n Deel van die seilkant teen die wa kan wegrits sodat jy direkte toegang het tot jou klerekas. Net links hiervan is 'n ritssluiter in die hoek - die stortkop met sy verlengpyp is hieragter.

Die kas met die Victron-kragstelsel is regs van die stort en huisves die omskakelaar, sonpaneelbeheerder, laaier en smeltdrade. Die batterye staan die diepste, maar die res van die komponente is teen die kant vasgesit, wat beteken hier is nog laaiplek vir ekstra kampgoed.
Al is die deuropening 550 x 400mm groot, is die oop volume binne 780 x 460mm (en 360mm diep).

Die 3kg-gassilinder staan in die neuskas hiernaas, met nog oop pakplek langs dit, en bo dit trek een van die plat laaie uit vir kleiner los goed wat jy hier alles bymekaar kan hou. (Daar is 'n soortgelyke laai aan die ander kant wat bo die ys-vrieskas uittrek.)
Tuis in die kombuis

Die ys-vrieskas trek uit die neuskas, met die res van jou buitekombuis wat uit die twee kaste daarnaas uittrek.
Eerste is die tweeplaatgasstoof, wat gemonteer is aan die binnekant van die deur wat platslaan. Die stoof het ook 'n los skermplaat wat 150mm hoog staan en nie net die wind wegkeer nie, maar ook oliespatsels keer.
Onder die gasstoof trek 'n glyraam uit met twee los plastiekskottels. Bo die een die naaste aan die bakwerk is 'n kraan met sy swaaikop vir warm en koue water. 'n Kas met 'n smal rakkie of twee is in die romp agter die stoof met plek vir goed soos rakmelk en speserye.
As jy iets hier nodig kry, maak seker jy kry dit voor jy doenig raak op die stoof, want anders moet jy oor die warm plate strek.
Jou werkblad word gevorm deur die deur van die kas hiernaas oop te maak. Dit is 740 x 470mm groot, en in die middel is 'n versonke los snybord (480 x 300 mm) van bamboes met die naam "Invader" daarop.
In die romp agter die blad is 'n paar oop rakkies vir jou vrugte of blikkieskos, plus twee laaie wat links uit die kas trek. Dit het sponsvorms binne wat jou glase en borde heel hou op 'n slegte pad.
Buiten die dakmotors se skakelaar is van die ander skakelaars ook hier in die deur: Die 12V-hooftoevoer, ligte, waterpomp, geiser en gas- of elektriese verstelling van die geiser. Die twee elektroniese skerms bo dit wys die watervlak (in liter) en batterysterkte.
Die twee kassies regs van die deur is naby genoeg as jy van jou kruideniersware hierin wil pak.
Ry & Sleep sê
As oranje miskien nie jou kleur is nie, het jy ook 'n keuse tussen grys of groen.
Spesifikasies
Vervaardiger Invader Off-Road Campers
Model Duo X
Slaapplek 2
Grootte 4,25 x 1,85 x 1,85 m
Wiele 17"
As 2 t
Tarragewig 910 kg
Dravermoë 590 kg
BVM 1 500 kg
Onderstel Gegalvaniseer
Romp Veselglas
Prys R408 000
Handelaarsnetwerk Hoofkantoor in Kaapstad en 8 takke in ander provinsies. Ook in Namibië.
Kontak 021 948 9920; info@invader.co.za; invader.co.za
Van die mededingers
Unieke boswaens vir 2

Obiqua T2 BVM 1 600 kg, R273 700
Die romp bestaan uit veselglaspanele met 'n skuimbinnekant, en die wa het 'n staalonderstel.

GT Camper Exclusive BVM 1 500 kg, R274 069
Die romp is gegalvaniseer en gepoeierverf, en die onderstel is gegalvaniseer.

Conqueror UEV-14i BVM 1 800 kg, R403 139
Die romp bestaan uit aluminium en 'n sintetiese samestelling, en die onderstel is gegalvaniseer.




















