Reis

Dink mooi voor jy kla: Die werklike koste van ’n kampplek se tarief

Mense sê soms grappenderwys kamp is 'n geval van middelklasmense wat 'n fortuin betaal om soos plakkers vakansie te hou. Onlangs hoor ek ook hoe 'n inbeller op 'n reisprogram sê dat kamptariewe aan uitbuiting grens. Ek verskil van hom en glo ook nie hy besef die omvang van die inset- en bedryfskoste wat nodig is om 'n kampterrein se kop bo die water te hou nie.

As jy goedkoop wil kamp, gaan jy moet aanvaar dat swak, min of geen geriewe nie jou voorland is. Dis ook nie werklik "goedkoop" nie, want om selfversorgend te wees verg 'n stewige belegging in die tegnologie en ingeboude of toegevoegde katoeters om lig, water en energie te verskaf wat dalk nie op die terrein beskikbaar is nie.

Daar is basies drie maniere om kamptariewe te bepaal, naamlik op 'n koste-, waardetoevoeging- of 'n heersende markprysbasis. Tariewe word ook beïnvloed deur die seisoen, hoe lank jy kamp en die getal mense per staanplek.

Uit 'n koste-oogpunt moet kampplekke se bestuur sorgvuldig die totale koste van hulle aanbod bereken. Dus word 'n totale pakket aangebied wat meer behels as net 'n staanplek, waterpunt, kragpunt en ablusiegeriewe.

Om te kamp bied 'n totale ervaring en daar is baie verskuilde kostes waarvan die inbeller nie bewus is nie. Die belegging in die gehalte van geriewe en ontspanningsgeriewe moet bygereken word by die vaste bedryfskoste soos elektrisieit, belasting, salarisse en maandelikse munisipale heffings - en ook veranderlike kostes soos die aanstel van seisoensarbeid in spitstye.

Risiko- en korttermynversekering, dekking vir persoonlike aanspreeklikheid en voorsiening vir onderhoud voeg 'n enorme las by maandelikse uitgawes. Dit bring my by die tweede basis om tariewe te bepaal, naamlik die heersende tarief in die nabye omgewing.

'n Kampplek ver van enige mededingers af verg 'n eiesoortige berekening van 'n sinvolle tarief. Oornagplekke kan natuurlik hulle eie prysmeganisme skep as daar nie ander opsies naby is nie. In die Dinokeng-wildreservaat, byvoorbeeld, is daar 'n groot verskeidenheid kampplekke te kus en keur.

'n Kleinerige kampplek met byna geen addisionele attraksies nie sou onwys wees om dieselfde tariewe te hef as 'n oord wat oor 'n waterwurm, warm swembad, speletjieskamer en private ablusiegeriewe beskik. Die derde basis is juis gegrond op die addisionele waarde wat tot die kampervaring gevoeg word.

Die kleinerige kampplek is boomryk en elke staanplek het 'n uitsig oor watergate waar diere lafenis kom soek. Die bome is met naamplaatjies gemerk en 'n voëllys kan van hulle webtuiste afgelaai word.

Die groter oord se staanplekke is in 'n meer kompakte uitleg naby aan die swembad en speletjieskamer gerangskik.

Wildkyk is beslis nie hier hoog op die agenda nie, maar wel vermaak vir die hele gesin. Wifi word ook ingesluit by die kamptarief. By die groter oord word die tarief dus bepaal op grond van addisionele voordele wat aan die gesin gebied word, terwyl die kleiner en stiller plekkie die kampeerder noop om sy eie vermaak saam te bring of te skep.

Ligging speel ook 'n rol. Staanplekke met 'n uitsig oor die see of toegang tot verhitte swembaddens kan byvoorbeeld 'n hoër tarief regverdig.

In Europa kos dit duurder om op geplaveide staanplekke te staan as op gras; tentkampeerders betaal minder as hulle nie elektrisiteit gebruik nie; en ryhuise wat aan krane gekoppel word, moet meer betaal.

Ek glo die heersende tariewe op tuisbodem is beslis nie 'n voorbeeld van uitbuiting nie. Om te kan kamp is eintlik 'n voorreg - en vir die meeste Suid-Afrikaners 'n "luukse".