Ry 4x4 in dié streek

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Bult jou 4x4-voertuig se spiere by Redelinghuys in die Bergrivier-streek.  Foto: JACQUES MARAIS
Bult jou 4x4-voertuig se spiere by Redelinghuys in die Bergrivier-streek. Foto: JACQUES MARAIS

Vat jou 4x4 en gaan verken die Bergrivier-streek! Tussen Piketberg, Velddrif, Porterville en Redelinghuys is talle gewilde 4x4-roetes.

Om jou 4x4-vernuf in die veld te gaan toets het die afgelope paar jaar al hoe gewilder geraak.

Dolf Botha, die bestuurder van die Klein Tafelberg Training and Adventure Centre, sê daar is twee dinge wat die Bergrivier-streek bo die res laat uitstaan wanneer dit by hierdie aktiwiteit kom. "Dit is die pragtige uitsigte van bo-op die berge en die groot verskeidenheid van roetes, sowel sand as klip."

Bregda Mostert, die mede-eienaar van Die Ark Kampterrein en Kamers, stem saam oor die 360 °-uitsig oor Tafelberg en Klein Tafelberg, en voeg by dat die Renosterveld se blomme ook 'n trekpleister is. "Ons het 'n 4x4-roete wat deur Renosterveld en oor die berg gaan. Daarbo is 'n lapa waar die mense dan piekniek hou."

Meeste 4x4-roetes het verskillende vlakke. "Dit begin gewoonlik gegradeer van een tot vyf, waar een maklik en vyf moeilik is. Daar is roetes wat net sand- of net kliproetes is of, soos Klein Tafelberg, wat 'n kombinasie is," sê Dolf. "Die meeste van die plekke het 'n paar roete-opsies, van maklik tot moeilik, en ook verskeie afstande. By Klein Tafelberg is daar twee roetes. Die eerste is 'n 13 km-lange kombinasie van sand (70%) en klip (30%) en is graad 1 tot 4, met agt hindernisse op die roete. Daar is ook 'n 5 km wat 'n graad 5 kliproete is, net vir die waaghalse."

Die lekkerste deel van 'n 4x4-roete is die uitdaging wat die roete bied, sê Bregda.

Dolf meen die beste tyd van die jaar om 'n 4x4-roete aan te pak, of dit nou sand of klip is, is buite die reënseisoen, dus Augustus tot Mei in dié streek. "Dan is die roetes op hul moeilikste, want die sand is droog en los en die kliproetes is nie nat nie." (Vir veiligheid bo-op die berg wil jy nie nat klip hê nie.)

Bregda reken elke seisoen het sy mooi en enige tyd is goed.

Ervaring speel 'n groot rol, sê Dolf. "Maar daar is baie van die roetes waar 'n gids beskikbaar is wat die nodige ervaring het om jou als te leer wat nodig is om die roete of hindernis te voltooi."

Jy kan verskillende goed op 'n 4x4-roete doen. "Dit hang van die soort roete af," sê Dolf.

"Op die roetes wat ons aanbied, is daar agt hindernisse om te voltooi terwyl jy deur die pragtige fynbos ry tot bo-op die berg, wat weer bedek is met 'n groot verskeidenheid proteas.

"Daar is ook 'n boskamp met 'n piekniekplek bo-op die berg waar die manne 'n blaaskans neem om middagete te maak."

Bregda meen jy kan dit sommer 'n daguitstappie maak en piekniek hou of braai.

Berei só voor vir jou 4x4-toer

JP Crous van Argento Specialised Trading wat in 4x4-toerusting handel, deel dié wenke:

1. Veiligheid: 4x4-roetes kan gevaarlik wees, veral in afgeleë gebiede met beperkte toegang tot mediese bystand. As jy goed voorbereid is - met die regte toerusting, kennis, en vaardighede - kan jy die risiko's bekamp en 'n veilige reis help verseker.

2. Omgewingsfaktore: 4x4-roetes loop dikwels deur ruwe terrein en kan met uiterste weersomstandighede gepaard gaan. Dit help as jy voorbereid is op verskillende omgewings- en weerstoestande. Een groot faktor wat hier in ag geneem moet word, is die soort bande wat gebruik word, sowel as die geskikte banddruk op die gekose terrein.

3. Gemak en genot: Behoorlike voorbereiding kan ook jou gemak en genot tydens die reis verbeter. As jy die geskikte toerusting, kos, en veral water inpak, verbeter jy jou kans op 'n gemaklike, aangename reis.

Noodsaaklike items

1. Betroubare voertuig: Maak seker jy ry met 'n 4x4-voertuig wat goed in stand gehou is met goeie grondvry-hoogte, geskikte bande, en nodige aanpassings ter voorbereiding vir wat ook al die pad mag bied.

2. Navigasietoerusting: 'n Kompas, GPS-toestel, en kaarte (fisies en digitaal) om jou te help om op koers te bly en jou pad terug te vind in geval van 'n noodgeval.

3. Kommunikasietoestelle: 'n Tweerigtingradio of satellietfoon om in kontak te bly met jou groep en hulp in te roep in gebiede met geen selfoonontvangs.

4. Noodhulppakkette: 'n Basiese noodhulpkissie behoort items soos verbande, antiseptiese doekies, pynstillers, en enige persoonlike medikasie te bevat.

5. Brandblusser: 'n Brandblusser kan klein brande blus, soos dié wat veroorsaak word deur 'n enjin- of elektriese fout.

6. Spaarband en hersteltoerusting: 'n Spaarband, wenas, band-herstelpakket, sleeptoue en skakels kan jou help om 'n pap band om te ruil of los te kry as jy in moeilike terrein vassteek.

SPELETJIES VANDAG

CTA