Buitelewe

Sleeptoets: Mahindra XUV700

Ons was ses jaar gelede agter die stuurwiel van 'n Mahindra vir 'n sleeptoets, maar as 'n mens na die heel nuutste weergawe kyk, meet jy die verskil omtrent in ligjare.

Destyds was die visoogdaktruspieëltjie in die XUV500 'n slim teenvoeter vir blindekolle; nou sit 'n kamerabeeld reg voor jou in die paneel hand by. Verder is die 360º-rondomsigbeeld 'n groot verbetering op die eenoogtrukamera waarvan die lens boonop nie in die middel van die romp sit nie.

Die paneel met sy konsentriese spoed- en toeremeter is vervang met 'n raakskerm wat oor meer as die helfte van die binneruim strek. Dit is eenvoudig 'n ander wêreld.

Die ou 2,2 l-dieselenjin het ook ses ratte gehad, maar sy 330 Nm kan nie armdruk teen die 2 l-turbopetrolenjin se 380 Nm nie. Mahindra reken dis die beste turboaangejaagde enjin in sy klas.

Die vyfde en sesde rat in die XUV500 was nie regtig vir sleep bedoel nie, en dit was juis merkbaar met die handrat. In hierdie seepgladde outomatiese ratkas is die spesifieke rat 'n bysaak en die XUV700 sleep asof hy in 'n woonwa-aanleg aanmekaargesit is.

Die XUV700 staan dus myle uit teenoor die XUV500 wat ons destyds getoets het. Maar staan nader, want dis net die begin van die lys.

Goud in ruil

'n Mens wil die XUV700 as 'n winskoop beskryf, maar dit gee dit eerder 'n "goedkoop" gevoel wat hoegenaamd nie die waarheid is nie. Maar teen R570 000 gaan jy vér moet soek vir wat jy in die nuwe sikspens kry.

Daar is drie modelle beskikbaar: die vyfsitplek-XUV700 AX5 wat R480 000 kos, en twee sewesitplekmodelle, die XUV700 AX7 en AX7L, wat onderskeidelik R535 000 en R570 000 kos. Ons kry 'n geleentheid in laasgenoemde.

Vir 'n oomblik lyk dit of die kar nie deurhandvatsels het nie, maar kyk mooi, want dit staan 100% gelyk met die bakwerk. As jy die afstandsleutel se knoppie druk, spring die een kant van die bestuurderdeur se handvatsel uit - dit herinner nogal aan die flikkerligte van ou VW Kewers uit die jare vyftig.

As jy die knoppie twee keer druk, spring die ander drie deure se handvatsels ook uit. Dit voel vreemd om die deur aan so 'n stokkieagtige handvatsel oop te maak, maar dis heeltemal stewig genoeg. én jy kan met een oogopslag sien of die kar gesluit is of nie.

Die roomkleur leerbekleedsel voel werklik luuks. Maar 'n mens is amper skoon afgehaal wanneer jy die sitplek wil verstel en agterkom daar is net een groot knop langs die sitplek wat kan draai: Dit verander net die stramheid teen jou lae rug.

Die bestuurder se sitplek verstel wel elektries, maar die knoppies sit in die deur, voor die handvatsel. Die bestuurder se sitplek skuif ook outomaties uit die pad en keer weer terug na die laaste posisie wanneer jy aanskakel.

Ongelukkig moet jou maat langsaan sy of haar sitplek met die hand verstel. 'n Mens raak vinnig gewoond aan die swier. En dan verskyn die enorme raakskerm voor jou wat jou laat voel jy sit agter die stuur van 'n toekomstige vliegding.

Die gesig van die elektroniese instrumentepaneel is 14 cm hoog en op sy breedste 71 cm - breër as die helfte van die binneruim. (Dit is in der waarheid twee skerms langs mekaar met een gesig.)

Die skerm vir die meters agter die stuur is 26 cm, net soos die een links met funksies wat jy gewoonlik in die middelkonsole van 'n kar verwag. Dit is egter allermins tipies: Jy kan selfs 'n grafiek oproep wat die kar se wringkrag en krag wys terwyl jy bestuur. Nou kan jy met een kyk sien hoe die twee kragte elk 'n afsonderlike rol speel wanneer jy sleep.

Uiteraard is die goue woord "wringkrag", want dis enige sleepvoertuig se eintlike spiere. Mahindra vat dit boonop verder: In die middel van die krag-wringkraggrafiek is 'n derde aanwysing.

Dit is 'n sirkel met een rooi kolletjie in die middel wat aan 'n radarskerm herinner en wys waar die XUV700 se swaartekragmiddelpunt lê soos jy ry. As jy dus wegtrek, skuif die rooi kolletjie na onder, en as jy ankers gooi, beweeg dit in die teenoorgestelde rigting.

Dit beweeg ook sywaarts soos jy links en regs deur draaie swiep, of enige plek tussen- in soos die padtoestande verander.

Dis interessant om te sien, maar uiteindelik meer kosmeties as prakties. Jy kry selfs 'n beskermingslaag vir die enorme skerm en is net soos die stang 'n ekstra saam met die standaardkoop. Wanneer jy die flikkerligte gebruik, wys 'n beeld tussen die toere- en spoedmeter na agter van die spesifieke kant se syspieël.

As jy dus net op die truspieëls (binne en buite) sou staatmaak, het die kar nie 'n blindekol nie. Tussen die twee meters kan jy onder meer ook van die brandstofverbruik tot die banddruk en temperatuur nagaan.

Selfs die wringkrag- en kragvoorstelling kan jy hier oproep. Die grafika van die meters is slim saamgestel met 'n minimalistiese aanslag.

As die enjin teen byvoorbeeld 3 000 toere draai, verlig die toeremeter tot by 3 000. Die XUV500 was wel beter daaraan toe met sy kombinasiegewig, want hy kon tot 2,5 t sleep.

Die 700 mag net tot 1,5 t sleep as jy die gewig bereken deur die brutovoertuigmassa (BVM, 2 357 kg) van die brutokombinasiemassa (BKM, 3 857 kg) af te trek. Dit pla nie te veel nie as jy na die gewig van 'n gemiddelde woonwa kyk.

Die sleepstang self kom van Bosal en is vir 'n sleepgewig van 1 900 kg gegradeer. Al het die 700 een van die indrukwekkendste elektroniese panele, skort daar wel een ding: Die blikbrein registreer nie wanneer jy die woonwaprop inprop nie.

Die rekenaar dink in trurat jy gaan teen die wa vasry wanneer dit gehaak is. Die trusensors laat jou dit goed weet, maar ons kon ook nêrens 'n skakelaar kry om die sensors te deaktiveer nie.

Soos met die 500 sit die trukamera se lens ook nie in die middel van die kar nie. Op die beeld is die haak dus effens af van die middellyn af, maar dit bly 'n welkome hulpmiddel om tot teen die koppelstuk van die wa terug te stoot.

Jy het ook 'n opsie om 'n boskoot van die koppelstuk te kry, en dan laat die rekenaar jou selfs toe om 'n skermgreep van die beeld te neem... wil jy nou meer!

'n Kleiner brandstoftenk pla nie noodwendig nie, maar teen 60 l (10 l minder as die XUV500), perk dit jou reikafstand soveel in dat jy nie van Gauteng af die KwaZulu-Natalse kus sal haal nie.

Dit is wat Pieter Crous, ons sleepkenner, sê:

Die enjin het woema en die outomatiese ratkas is rats. Hy reageer in 'n kits en 'n mens sou verwag die ratkas het meer ratte om van te kies - iets soos agt of tien.

Maar daar is niks fout met die ses wat hy het nie. Die kar het kruisspoedbeheer wat spoed verminder as jy stadiger verkeer nader. Hy hou maklik spoed op 'n snelweg, bultop en bultaf.

Selfs teen die steiler bulte is daar g'n gesukkel nie. Tipies Mahindra werk die lugreëling soos 'n bom. Plek-plek moes ek dit afskakel.

Die middelste konsole teen die dak waar jou sonbril byvoorbeeld inpas, herinner my sterk aan die een in my Mercedes-Benz. Die rekenaarstelsel met sy groot skerm is maklik om te gebruik en beïndruk 'n mens.

Die blindekolbeeld wat jy in die paneel voor jou sien wanneer jy die flikkerligte gebruik, is nuttig en werk ook goed.

Jy kan die voorwielaandrywing op die stuur voel, veral as jy vetgee in die draaie, maar dit pla 'n mens geensins nie. Die voorwiele tol ook maklik met die wegtrek op 'n grondpad, en selfs meer so as jy teen 'n bult staan.

Natuurlik het die voorwiele effens minder byt as gevolg van die gewig op die stang. Die draaisirkel is heel gaaf en daar is geen gesukkel met 'n woonwa op die haak nie.

Jy sal in 'n goedkoper klas voertuie verwag dat jy hier en daar rattles hoor, maar hierdie een is tjoepstil en die toetsvoertuig het amper 10 000 km op die klok.

As ek oor een ding mag kla, is dit die plasing van die vensterknoppies. Dis reg waar jou arm in die deur rus. Dis nader aan my elmboog en effens ongemaklik om by te kom.

Jy gaan waarskynlik niks in hierdie prysklas kry wat die XUV700 kan klop nie. Hy is goed afgewerk, ry lekker en trek net so lekker met 'n woonwa. Die prys is hoogs mededingend as jy kyk na ander sewesitplek-nutsvoertuie op die mark - jy praat van 'n paar honderdduisend se verskil.

Ek sal wel dié een tipies met 'n VW Tiguan vergelyk en steeds gaan jy nie die prys klop nie. Hoe meer ek die Mahindra 700 ry, hoe meer geniet ek hom. Ek is regtig beïndruk.

Spesifikasies

Model XUV700 AX7L

Enjin 2 l-turbopetrol

Krag 149 kW @ 5 000 r.p.m.

Wringkrag 380 Nm @ 1 750-3 000 r.p.m.

Ratkas 6 spoed-outomaties

Aandrywing Voorwiele

Tenk 60 l

Brandstofverbruik met woonwa 14,2 l/100 km (7,02 km/l)

Reikafstand met woonwa 421 km

Tarragewig (lisensieskyf) 1 825 kg

Gewig tydens toets (neusgewig van wa ingesluit) 2 060 kg

BVM 2 357 kg

BKM 3 857 kg

Kombinsasiemassa tydens toets 3 220 kg

Sleepvermoë (volgens BVM en BKM) 1 500 kg

Sleepstang-gradering 1 900 kg

Sleepstang se maksimum vertikale gewig 100 kg

Is die stang verwyderbaar? Ja, die arm en die bol.

Is daar plek vir 'n sakplaat? Ja.

Prys R570 000

Ry en Sleep sê: As jy al ooit dubbel en dwars die waarde vir jou geld sou terugkry, staan die XUV700 voor in die koor, én dan sleep hy boonop soos 'n droom.

Van die mededingers

Nutsvoertuie met 7 sitplekke

Chery Tiggo 8 Pro 1.6 TGDI Distinction R504 900, 290 Nm, 1 500 kg-sleepvermoë

Mitsubishi Outlander 2.5 GLS R729 995, 245 Nm, 1 600 kg-sleepvermoë

Nissan X-Trail Acenta Plus R782 700, 244 Nm, 2 000 kg-sleepvermoë

Die sleepding

Fabrikaat Invader

Model Duo X

Jaarmodel 2023

BVM 1 500 kg

Gelaaide gewig op die as tydens toets 1 160 kg

Ry & Sleep het die nuwe Duo X by Invader geleen.

Kontak invader.co.za

Leon Botha (teks en foto’s)

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM