Buitelewe

Sleeptoets: Peugeot Landtrek

Dis nie net Peugeot se eerste bakkie in dekades nie, maar boonop sy eerste dubbelkajuit. 'n Mens is nie regtig verbaas nie, want dis 'n gewilde marksegment, en as daar een ding is waarvoor dié bakkies gerat is, is dit sleep.

Die Landtrek se 1,9 l-dieselenjin is die kleinste enjin in 'n dubbelkajuitbakkie. Dit is natuurlik om die vermoë van so 'n klein enjin te bevraagteken, maar hieroor het Volkswagen 12 jaar terug al die skeptici se monde gesnoer.

Die Amarok se 2 l-enjin was destyds ook die kleinste enjin onder sy mededingers. Daardie enjin het 90 kW en 340 Nm gelewer, terwyl die 1,9 l van Landtrek se syfers onderskeidelik 110 kW en 350 Nm is.

Amarok se 2 l-enjin het hom oor die jare bewys en daar is dus geen rede om die Landtrek se 1,9 l-enjin skeef aan te kyk nie.

Twee uit een

Twee modelle is in Suid-Afrika beskikbaar, en die grootste verskil is die aandrywing en prys: Jy kan die 4x2 (R599 900) kies óf of 4x4 (R689 900). Albei het dieselfde enjin en ratkas (met diesefde ratverhoudings), én die waaddiepte (600 mm) en grondvryhoogte (235 mm) is dieselfde.

Vir daardie ekstra R90 000 vir die 4x4 kry jy 'n paar dinge ekstra. Die 4x2 se voorsitplekke stel met die hand, terwyl albei op die 4x4 elektries werk, en pleks van die 4x2 se 17"-wiele het jy op die 4x4-model 18"-bande plus banddrukmeters.

Jy het ook 'n ewenaarslot, maar die aandrywing met sy ekstra komponente beteken dié model weeg ook 130 kg swaarder.

Al is die 4x4 dus effens weelderiger, het albei dieselfde sleepvermoë: 3 000 kg. Natuurlik is dit net 'n teoretiese syfer, want met die 4x4 mag jy op die pad 'n woonwa sleep wat 130 kg swaarder is.

Net as jou woonwa se BVM bo 1 965 kg is (en nie meer as 2 095 kg nie), speel dit dus 'n rol. Die swaaibeheer is standaard op albei modelle, maar volgens die handleiding moet die spoed vir hierdie funksie minder as 85 km/h wees. As die rekenaar dus teen dié spoed swaai bespeur, sal dit die Landtrek rem en die enjinkrag inperk om die swaai te probeer verminder.

Maar as jy wil sleep, moet jy vir die verkoopsman vra om 'n stang in te sluit, want op albei modelle is dit opsioneel.

Stang tot blinkgoed

Die stang is van Bosal en word gesertifiseer vir 'n sleepvrag van 2 450 kg en 120 kg op die bol. Die stangarm waaraan die bol vasbout, is verwyderbaar, en buiten die gebruiklike dwarspen het hierdie een ook 'n bout om dit stewig te hou. Jy het dus 'n moersleutel nodig om die stang te verwyder.

Ry en Sleep sê

As jy byvoorbeeld 'n fietsrak op die stang wil gebruik, mag jy wetlik steeds nie die bolgewig van 100 kg oorskry nie, en ook nie meer as vier fietse (of twee elektriese fietse) laai nie.

Waar die bol vasbout, pas 'n sakplaat, ingeval jy die bolhoogte wil verstel, maar as jy die sakplaat lig vir meer hoogte, het jy minstens 'n 1 cm-spasieerder nodig tussen die stang en die plaat, anders is die buffer bo dit in die pad. Dit is werklik 'n mooi bakkie wat die koppe laat draai, maar hy is vol chroomwerk.

Die blink leeu-embleem staan 15 cm hoog teen die sierrooster, net soos die een op die agterklap, en dan is daar nog chroom op die stampstaaf, syspieëls, ekstragroot deurhandvatsels, rolstaaf en die twee hoeke van die agterste buffer.

Moet ook nie van die naam Peugeot en Landtrek op die agterklap vergeet nie. Onder die Landtrek-letters is 'n beskeie blou-wit-en-rooi vlaggie wat jou herinner wat die bakkie se land van herkoms is.

Mooi... en minder mooi

Wanneer jy inklim, weet jy jy sit in 'n "ander" bakkie, want die uitleg is omtrent eiesoortig. 'n Truskerm (24 cm) staan soos 'n groot kennisgewingbord in die middel, met daaronder 'n stel knoppies wat aan 'n klawerbord herinner.

Hiermee verstel jy dinge soos die ewenaarslot, afdraandebeheer en vastrapbeheer. (Ook dié knoppies is blink.)

Volgens die Landtrek se handleiding word die trusensors gedeaktiveer wanneer jy 'n woonwa haak, maar met ons bakkie was dit nie die geval nie.

Tog is die rondomvisie op die truskerm seker van die beste wat jy kry - met al die hulpmiddels is dit omtrent onmoontlik om die bakkie teen 'n stadige spoed te stamp.

Die instrumentepaneel gaan nie in almal se smaak val nie. Daar is twee analoë meters weerskante voor jou wat die spoed en toere wys, maar die lesing begin op die onderpunt.

Van hier af swaai die spoednaald kloksgewys en die toerenaald antikloksgewys boontoe. Dit voel omtrent of die twee meters teen mekaar werk.

Tussen hierdie meters is 'n elektroniese skerm wat jou byvoorbeeld waarsku as iemand op die agtersitplek nie vasgegordel is nie of as jou deur nie mooi toe is nie.

Die meters vir die temperatuur en brandstoftenk is hieronder en lees moeilik. Die twee meters lyk dieselfde en is bloot agt stippels langs mekaar - op grond daarvan moet jy dan besluit hoe warm die enjin is of hoeveel brandstof in die tenk oor is. Die liggie gaan aan as daar ongeveer 11 l brandstof oor is waarmee jy omtrent 80 km kan ry as jy sleep.

Jy moet die skynhoek van die ligte self stel na gelang van die vrag in die bakkie. Hierdie knoppie is regs van jou been by die deur.

Langs die rathefboom is twee knoppies met "Eco" en "Sport" daarop. Uiteraard sorg die Eco vir beter brandstofverbruik en die Sport vir 'n ratser bakkie.

Die handleiding raai jou egter af om die Sportmodus te gebruik wanneer jy die ewenaarslot inhaak, vierwielaandrywing gebruik of terwyl jy sleep.

Daar is twee USB-sokke vir die voorste mense en een by die agtersitplek.

Die rugleunings van dié sitplekke kan heeltemal platslaan sodat jy iets daarop kan laai - nogal prakties as jy dink waarvoor 'n mens alles 'n dubbelkajuitbakkie gebruik.

(Desiree Hartney)

Dit is wat Pieter Crous, ons sleepkenner, sê

Die Landtrek is regtig 'n mooi bakkie, binne én buitelangs. 'n Mens wonder egter waarom Peugeot op so 'n klein enjin besluit het. Suid-Afrikaners is gewoond aan frisser enjins.

Van buite af het die Landtrek 'n sportiewe voorkoms... maar dan die enjin. Laat ons wegspring.

Die enjin is eintlik heel wakker en sukkel nie met die vrag op die sleepstang nie. Ek kan nie kla oor sy versnelling nie en die ratkas self is net so slaggereed.

As jy trap, is hy daar vir die oorskakel. Maar hier teen Vissershok uit, net buite Durbanville, begin jy die enjingrootte voel. Ondanks my voet in die hoek kon ek net by 80 km/h uitkom.

Ek moet sê die Landtrek sit op spoed stewig in die draaie en daar is omtrent geen bakrol nie. Dit voel wel of die bakkie skerper moet kan draai, veral as jy dit met ander 4x4-bakkies vergelyk.

Die 4x4 se draaisirkel is 14 m en die 4x2 s'n 13,5 m. Ek wonder hoe hy op die grondpad gaan vaar, want jy vereenselwig Peugeot nie noodwendig met 'n grondpad nie.

Maar kyk net daar: geen rattles op die grondpad nie, ondanks meer as 18 000 km op die klok. En hy gly ook nie rond nie.

Maar as jy wegtrek, tol die wiele maklik op 'n grondpad. 'n Mens kan dit seker te wagte wees, maar selfs met 'n outomatiese ratkas fluit die bande op die teer as jy vinnig versnel.

Die Landtrek het geen probleme om op 'n grondpad te sleep nie.

Een of twee dinge pla my wel: Die instrumentepaneel en truskerm is onduidelik wanneer die sonlig direk daarop val. En die holtes vir die twee bekers of bottels tussen die voorsitplekke het nie soos gewoonlik kloue nie - wat beteken jou beker staan los en stort maklik.

As 'n mens na die brandstofverbruik kyk, kan jy sien die enjin moes werk: 14,3 l/100 km (dit is 7 km/l). Die bakkie het 'n baie mededingende prys, hy lyk goed, ry en sleep lekker, maar tog soek ek 'n groter enjin.

Na dese dink ek dis die mooiste bakkie wat ons het. Ek sal maklik een koop.

Van die mededingers

1,9 l-dubbelkajuitbakkies

JAC T6 1.9 TDi Comfort (320 Nm, R364 900)

Het 'n 5 spoed-handratkas, 1 815 kg-tarragewig en tweewielaandrywing.

Mazda BT-50 1.9 L Active (350 Nm, R667 500)

Het 'n 6-spoed- outomatiese ratkas, 1 815 kg-tarragewig en ook tweewielaandrywing.

Isuzu D-Max 1.9 Ddi LS (350 Nm, R629 300)

Het 'n 6 spoed- outomatiese ratkas, 1 935 kg-tarragewig en vierwielaandrywing.

Die sleepding

Fabrikaat Bush Lapa

Model Baobab

Jaarmodel 2017

BVM 1 800 kg

Gelaaide gewig op die as tydens toets 1 220 kg

Ry en Sleep het die Bush Lapa Baobab by Kubu 4x4 Trailer Rental geleen. Hulle het takke in Krugersdorp, Brackenfell, Potchefstroom en Ballito, en jy kan tussen 'n verskeidenheid boswaens en boswoonwaens kies.

Kontakkubu4x4.co.za; jannie@kubu4x4.co.za

Leon Botha (teks en foto’s)

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM