Enige kampeerder sal vir jou sê 'n tent is 'n baie belangrike kopie as jy en jou gesin daaraan dink om te begin kamp. Maar daar is heelwat faktore waarmee jy moet rekening hou wanneer jy jou soektog vir 'n tent begin. Ons het ons Facebook-vriende gevra om die raad te deel wat hulle al met jare se kamp wys geword het, en dit lyk of almal saamstem oor dié vyf wenke vir groentjies.
1. Hoeveel is julle?
Dit klink dalk vreemd, maar moenie 'n viermantent koop as julle vier mense is wat gaan kamp nie. Daardie "vier" is vir slapers wat soos sardientjies ingeryg lê, soms met iemand wat dwars bo die ander drie se koppe of voete moet lê. Daar is dus nie veel plek vir enigiets anders in die tent nie.
En vergeet daarvan om vier kampmatrasse in te pas. 'n Praktiese reëling is om die aantal mense te verdubbel. Koop dus 'n viermantent as dit net twee van julle is. Dit gaan egter nie net oor die ruimte op die vloer nie. Maak seker jy kan darem regop staan in die tent.
‘Kyk na jou behoeftes soos die aantal kinders en hoeveel beddens daarin moet pas. Moenie goedkoop koop nie. Dit word later duur koop.' - Piet Botha
2. Op- en afslaan

Daardie tent met sy twee slaapkamers, kombuis, woonkamer en stoep lyk dalk baie aanloklik in die winkel, maar jy moet 'n klompie belangrike vrae vra vóór jy jou bankkaart by die betaalpunt oorhandig. Hoe lank vat dit om die tent op te slaan? Hoeveel mense is nodig?
Jy soek nie 'n tent waarvoor 'n rugbyspan nodig is om dit op te slaan nie - en jy wil beslis nie vir ure sukkel om jou tent staan te maak wanneer jy by die kampterrein aankom nie, veral nie laat op 'n Vrydagaand in die donker nie.
‘Kamp moet vir almal in die gesin lekker wees, en daarom moet al die werkies, insluitend die op- en afslaan, gelyk verdeel word. Andersins werk party hulle dood terwyl die res al die genot put.' - Machiel Myburgh
3. Waarvan is hy gemaak?

Buiten die grootte is jou grootste besluit van watter materiaal die tent moet wees. Daar istwee gewilde keuses: 'n seiltent (die Engelse praat van canvas), en een wat van nylon of poliëster gemaak is.
Afhangend van jou behoeftes het albei hulle voor- en nadele. 'n Seiltent is ongetwyfeld duursamer, maar dis'n swaar ding wat nie juis klein opvou en agter jou bestuurdersitplek kan inpas nie. Een van poliëster of nylon is baie ligter en vou kleiner op, maar gaan nie naastenby so lank hou soos'n seiltent nie.
Onthou ook dat dit baie warmer isin 'n seiltent. Hy is dus gaaf in die wintermaande, maar asjy jou in Desember in die Krugerwildtuin of Richtersveld bevind,sal jy waarskynlik wensjy het 'n nylon- of poliëstertent. Wat waterdigtheid betref, vaar 'n seiltent oor die algemeen beter om jou en jou goed droog te hou.
‘Betaal meer en koop vir jou 'n ordentlike seiltent.Jy sal nie spyt wees nie.' - Albert Swart
4. Skep asem

Maak seker daar is genoeg luggate en -openinge in die tent, want jy wil nie in 'n bedompige tent slaap nie. Maar afgesien van die vars lug is dit ook onaangenaam om wakker te word in 'n tent met nat binnemure omdat die plek nie goeie ventilasie het nie.
Alles - ook jou beddegoed en klere - is klam of nat omdat kondensasie oornag plaasgevind het. Ordentlike ventilasie in die tent is die antwoord hierop.
‘Kyk dat die tent ordentlike ventilasie het, veral as jy op 'n warm plek gaan kamp.' - Chris en Alida Laing
5. Ditjies en datjies

Wanneer jy duidelikheid het oor die eerste vier faktore, is dit tyd om te besin oor die ander dinge wat jy in jou tent wil hê. Hoeveel deure het die tent? Twee is beter as een, want dan kan jy bloot die een die naaste aan jou gebruik sonder om oor iemand te klim. Het hy sakkies vir jou selfoon, beursie en sleutels wanneer jy inkruip?
Het hy 'n stoeptentjie voor die deur? En terwyl ons besig is, kyk sommer na die gehalte van die vloer ook. Maak seker dis duursaam en pas by jou behoeftes. En kry sommer van die begin af ordentlike tentpenne van staal.
‘Slaan jou nuwe tent by die huis op vóór jy gaan kamp. Merk die pale sodat jy weet wat kom waar.' - Henk van der Berg




















