Motors

Leser vertel: Tuis in my eie dakhuis

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ek is 'n ongeduldige mens as dit kom by kamp opslaan. Dis gewoonlik 'n tydsame storie en neem gans te lank na my sin. Ek verkies eerder 'n kitsaffêre... iets wat vinnig, maklik en pynloos opslaan.

Ek het vroeër met my Oztent RV3-tent gekamp en baie komplimente vir hom gekry, maar hy het nie sonder moeite gekom nie. Hy het wel binne 30 sekondes gestaan, maar dan moes jy nog die afdakkie met sy pale span en die tentpenne moes vasgekap word - en die beddegoed en matras moes ook nog in.

My een vriend het 'n hardekapdaktent, en ek was beïndruk met dié plan. Maar om R30 000 te hoes vir iets wat uiteindelik nie regtig vir my gaan werk nie, was vir my net te veel. Ons was op pad vir 'n toer van 10 dae deur Botswana en ek het die daktent by my vriend geleen om hom op die proef te stel.

Ek het voorheen 'n gewone daktent gehad - van die soort waar die een deksel heeltemal oopswaai sodat die tentgedeelte kan staan. Dit was ook te veel moeite vir my, en ek het besluit die hardekapmodel lyk na 'n beter plan.

So gesê, so gemaak. Ek kon nie méér beïndruk wees met dié daktent nie. Nie eens die op- en afklim langs die kar was 'n probleem nie. Die op- en afslaan was moeiteloos en vinnig, en terug by die huis het my daktentprojek voorgelê. Ek het besluit my eie hardekapdaktent moet binne twee en 'n half maande klaar wees, vóór ons na die noorde van die land vertrek om langs die Giyanirivier te gaan toer.

Spring aan die werk

Meetwerk Meer as 10 verskillende weergawes van dié soort hardekapdaktente is op die mark beskikbaar. Die binnemate van een model is 2,1 x 1,3 m, met die buitekant 2,3 x 1,4 m. Volgens my is van die buitespasie 'n vermorsing en ek maak myne effens korter binne, met dieselfde breedte (2,05 x 1,3 m). Met die hardekap toegevou is hulle buitemaat voor 21 cm hoog en agter 25 cm.

Ek besluit op 20 cm rondom, wat steeds genoeg binneruimte los vir die beddegoed, klere en die leer as dit toemaak. Van die 20 cm aan die neuskant van die kar staan net 13 cm loodreg teen die wind van voor. Die boonste en onderste hoek se gesamentlike 7 cm is 45° teruggebuig, wat nie net minder windweerstand beteken nie, maar dit lyk ook mooier.

Onthou die matras

Om die aanvanklike binnegrootte te bepaal gebruik ek die grootte van my Carma Quip-selfopblaasmatras (1,95 x 0,65 x 0,06 m). Ek het 10 cm in die lengte bygelas, wat ook minder vermorsing beteken as 'n mens dit met die standaardlengte van die spesifieke aluminiumplaat vergelyk wat ek gebruik. Die gedagte is om so min as moontlik materiaal te mors en die sweiswerk tot die minimum te beperk.

Bo, onder en die sye

Vir die boonste en onderste deel asook die kante van die daktent is drie volgrootte aluminiumplate genoeg. Een plaat pas elk op die onder- en bokant, terwyl die derde een vir die kante gebruik word. Hierdie plaat word in vier stroke gesny (25 cm breed) en waar hulle op die hoeke pas, só gevou dat dit net op die 45°-hoeke gesweis moet word.

BEGIN BY DIE BEGIN. Bou eers 'n model uit karton as jy kan. Dan kan 'n mens sien of alles werk soos jy beplan, en jy kan ook die afvalgedeeltes beperk. Dié soort daktent is eenvoudig, maar 'n mens kan nie kortpad vat nie. Meet akkuraat sodat jy nie 'n tweede keer moet sny as jy iewers droogmaak nie.
BEGIN BY DIE BEGIN. Bou eers 'n model uit karton as jy kan. Dan kan 'n mens sien of alles werk soos jy beplan, en jy kan ook die afvalgedeeltes beperk. Dié soort daktent is eenvoudig, maar 'n mens kan nie kortpad vat nie. Meet akkuraat sodat jy nie 'n tweede keer moet sny as jy iewers droogmaak nie.

Maak 'n raam

Die plate pas om 'n aluminiumraamwerk van die daktent wat ek uit vierkantbuis (25 x 25 x 2 mm) en hoekyster (25 x 25 x 3 mm) gemaak het. Die meeste van die plaat word met 'n supersterk industriële gom (Sikaflex) geplak en die nate geseël. Hier en daar sit ek 'n versteekte klinknael in om dit nóg stewiger te maak.

Slim skarnier

Hierdie soort daktent laat my dink aan 'n gapermossel (clam) waar die boonste deel soos 'n bokaak van die onderste deel af oplig. Die skarnier sit aan die "toe kant" en ek het 'n reep vervoerband hiervoor gebruik. Waar die vervoerband aan die boonste en onderste deel heg, het ek 'n platstaafaluminiumstrook gebruik: Ek het gaatjies geboor en dit met vlekvryestaalboute en -moere vasgetrek.

Trek en stoot

Twee gasstutte stoot die boonste deel op en hou dit in plek. Die handvatsel sit aan die boonste deel (aan die teenoorgestelde kant as die skarnier) en help as jy die daktent toemaak. Hieraan is ook 'n gespe wat grond toe hang sodat 'n mens dit van die grond af kan bykom. By die handvatsel (maar in die onderste deel), is die kragboks met die ligskakelaars en kragpunt.

Sagte mure

Die seilgedeeltes wat tussen die twee kante inpas, het drie deuropeninge: een links, een regs en een voor. Elkeen van die deure het 'n gaasgedeelte aan die buitekant met 'n seilflap binne.

Albei die dele kan heeltemal van die bokant af ooprits, maar dis nie altyd so prakties nie. As jy saans wil uitklim, moet jy die hele deur ooprits.

Dit beteken goggas kan inkom, én al jou hitte ontsnap buitentoe. Ek het in die middel van elke flap nog drie ritssluiters ingestik om dié probleem te oorkom. Dit lyk soos 'n omgekeerde T waar die drie ritssluiters op die onderste been bymekaarkom.

So kan jy deur die opening glip sonder die gogga- en hitteprobleem. (As ek dit weer kan verander, sal ek eerder die ritssluiters in 'n omgekeerde Y-vorm maak, want wanneer 'n mens die daktent toeslaan, is die ritssluiters se oortjies soms in die pad.)

Die oopritsdeure is wel gaaf vir wanneer 'n mens byvoorbeeld jou beddegoed inpak, want jy kan dit heeltemal wegrits. én dis die antwoord op daai warm aande wanneer 'n mens die deur heeltemal oop wil los.

PROBEER NET...Die oumense sê: "Kannie is dood van kruiwastoot." Om dié soort daktent self te bou is nie onmoontlik nie. Dit verg net 'n bietjie inisiatief, geduld en 'n lekker vakansie wat wag.
PROBEER NET...Die oumense sê: "Kannie is dood van kruiwastoot." Om dié soort daktent self te bou is nie onmoontlik nie. Dit verg net 'n bietjie inisiatief, geduld en 'n lekker vakansie wat wag.

Stoepdak

Wanneer die daktent oopgeslaan is, vou 'n dakkie oor die voorste deur onder die handvatsel uit. Dit sorg vir koelte onder dié deur en vorm ook 'n skerm as 'n mens die venster wil oophou wanneer dit reën. Maar dié soort dakkie het 'n swak punt: Sodra die wind opsteek, word hierdie deel geruk en dit kan die seilwerk skeur.

'n Mens sien ander vervaardigers se seildakkies vou weer plat, maar dit flap steeds rond in die wind. Ek het twee ritssluiters op die kante ingestik wat dit ordentlik in plek hou, al waai die wind ook hóé. Nou is dit nie net veilig nie, maar dit dien ook as 'n stormseil teen die weer.

Kampkrag

Die kragtoevoer is 'n Hella- prop regs agter. Die krag loop eerstens na 'n verdeelbord; hier is ook twee ligskakelaars vir die binne- en buiteligte. By die bord is 'n dubbele USB-sok asook 'n Voltmeterleser vir die battery. Soos almal deesdae, is LED-ligte ook my keuse. Dis helder genoeg om in die bed te lê en lees én dit maak genoeg lig buite om te sien as jy teen die leer afklim.

Isolering

Ek het die dak en vloer met 25 mm-Isoboard uitgevoer. Dis heeltemal voldoende om die koue in die winter buite te hou.

Ek was eenvoudig beïndruk met dié daktent. Nie eens die op- en afklim met die leer langs die kar was 'n probleem nie.

Lesse geleer

1 Meet twee keer en sny een keer. As jy kan, bou eers 'n model uit karton. Só kan jy sien wat werk en wat nie - en jy mors nie van jou materiaal as jy iewers verbrou nie.

2 Pleks van die 45°-hoek op die boonste en onderste deel sal ek die onderste deel reghoekig los en die 45°-hoek aan die bokant groter maak. Dit sal beter lyk en vergemaklik ook die bouproses.

3 Die raam kon eenvoudiger gewees het, wat minder sny- en sweiswerk beteken.

4 Die onderstebo T-ritssluiters werk goed, maar in die vorm van 'n omgekeerde Y sal dit nóg beter werk.

5 Tans het ons net een inklimkant, maar beplan 'n leer vir albei kante. Dan hoef niemand oor mekaar te klim met die in- en uitklimslag nie.

6 Ek het 'n skoenesak teen die boonste deksel vasgesit, wat meer is as net plek vir skoene. Die sakkies is pakplek vir al die losgoed - van selfone en 'n flitslig tot sokkies en sakdoeke.

7 Pleks van 'n dubbelmatras verkies ek twee enkelmatrasse langs mekaar. In ons geval gebruik ons twee enkelbedstelle vir die beddegoed.

8 Die opslaan is vinnig - onder 2 minute - maar die afslaan neem effens langer. Jy moet eers die beddegoed regtrek voor jy kan toemaak - 3 minute en hy is toe.

9 Die klomp lae van die seildeure (die gaas en deurflappe) maak die tent swaarder, maar 'n mens kan nie vir beter ventilasie en isolasie vra nie.

Weg Ry & Sleep sê As jy die daktent soos Adam wil bou, het 'n mens nie veel gereedskap nodig nie, maar wel 'n paar vriende. Maak seker jy ken iemand met 'n plaat-buigmasjien, iemand wat kan help met die aluminiumsweiswerk, en 'n vriend met 'n industriële naaimasjien.

Wat weeg die storie?

'n Mens wil nie 'n ton op die kar se dak vasbout nie. My mikpunt was om onder 100 kg weg te kom, en die uiteindelike gewig is 99 kg.

Vierkantaluminium (22,7 m) 11,8 kg

Hoekaluminium (13,8 m) 5,3 kg

3 plate aluminium (1,25 x 2,5 x 2 mm) 46,1 kg

25 mm-Isoboard vir isolering (6 m²) 4,8 kg

400 g/m²-seil 15 kg

2 middelslag-Carma Quip-enkelmatrasse 7 kg

Verlengbare leer (2,6 m) 9 kg

'n Mens kan die daktent nie alleen op die kar se dak tel nie, maar met nog 'n paar hande is dit geen gesukkel nie. As 'n mens nóg ligter wil gaan, kan jy pleks van 2 mm-plaat 'n dikte van 1,5 mm gebruik. Só wen jy nog 11 kg, maar ek verkies die stewiger gevoel van 2 mm-plaat. Die totale koste (al die afvalmateriale en twee lere ingesluit) was net onder R16 000.

Hierdie artikel het oorspronklik in November 2017 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM