Buitelewe

TOERUSTING: Oor berge met sandale

Foto: Getty Images
Foto: Getty Images (Anetlanda)

Rip Curl Bondi Metallic

Rip Curl Bondi Metallic
Rip Curl Bondi Metallic

Die Aussies is nie altyd ons gunsteling op die rugby- en krieketveld nie, maar hulle geniet die buitelewe amper net soveel soos Suid-Afrikaners.

Australiese maatskappye soos Rip Curl is bekend dat hulle uitstekende swemklere en branderry-toerusting maak. Hierdie plakkie is genoem na Bondi in Sydney, een van die bekendste strande in die wêreld. Dit herinner aan Clifton, maar die water is baie warmer.

Die Bondi kry 'n klomp dinge reg: Die voetbed van skuimrubber is baie gemaklik; die toonriem is gemaak van 'n duursame stof wat lánk gaan hou; en dit kos net R200 - heelwat minder as die Havaianas wat elke tweede San en haar bestie dra. Ook is dit stylvol genoeg om die oorgang van strand na strandrestaurant te maak.

R200, ripcurl.co.za

Tsonga Umhlanga Tslops

Tsonga Umhlanga Tslops
Tsonga Umhlanga Tslops

Die verhaal van Tsonga is 'n mooie - een van pragtige leerskoene en bybehore wat in KwaZulu-Natal deur plattelandse vroue met die hand gemaak word. Tsongas word deesdae na die res van die wêreld uitgevoer (jy kan dit selfs op Amazon koop). Die maatskappy het hom ook verbind tot ekologiese volhoubaarheid.

Die eenmalige gebruik van plastiek word uitgeskakel, sole word herwin en bemarkingsmateriaal word weer gebruik om drasakke te maak.

Hierdie Tslops lyk nie net mooi nie (die rieme is beskikbaar in 'n verskeidenheid van kleure), maar jou voete word vertroetel deur 'n voetbed van sagte suède gemaak word, en die toonriem skaaf nie nadat jy net tien treë gestap het nie. Daarby is die sool sterk en buigbaar.

R299, tsonga.com

Rare Earth Inge

Rare Earth Inge
Rare Earth Inge

Rare Earth is een van Cape Union Mart-Old Khaki se handelsmerke - nóg 'n Trots Suid-Afrikaanse produk. Die dae waar jy plakkies slegs strand toe gedra het, is lankal verby. Jy kan hierdie stylvolle sandaal gemaklik met 'n jeans, 'n kortbroek of 'n somersrok dra.

Die boonste band word van regte leer gemaak (dis beskikbaar in swart, oker en geelbruin) en die sool met sy unieke patroon word gemaak van termoplastiese rubber wat 100% herwinbaar is.

Die binnesool word gemaak van poliuretaan, 'n skuimrubber wat die sandaal gemakliker maak om te dra.

R299, oldkhaki.co.za

Croc Serena Flip

Croc Serena Flip
Croc Serena Flip

Crocs het nou al 'n ver pad gestap sedert hulle die mark in 2001 stormgeloop het. Deesdae word dié skoene in veelvuldige kleure en style gemaak, maar die Serena Flip is dalk net die fynste van almal.

Die minimalistiese ontwerp het 'n dun band wat van die toon oor die brug van jou voet strek en jou hak omarm.

Min mense gaan raai jy dra Crocs saam met jou Guess-jeans! Maar in tipiese Croc-styl is die skoene só gemaklik dat jy in elk geval jou stoute voetsoolgeheimpie met jou vriendinne gaan wil deel.

R299, crocssa.co.za

Croc Classic

Croc Classic
Croc Classic

Daar is 'n paar name wat onmiddellik 'n geselskap in twee bitsige kampe verdeel: Donald Trump, Marmite, Naas Botha... én Crocs. Daar was nog nooit iets soos 'n louwarm Croc-ondersteuner nie!

Hierdie klompe was oorspronklik ontwerp om op bote en seiljagte diens te doen. Dis in 2001 by die Fort Lauderdale-bootskou in Florida bekend gestel, en die eerste 200 pare is glo binne enkele ure uitverkoop. Sedertdien is meer as 300 miljoen Crocs reeds vervaardig.

Om my huwelik te bewaar dra ek my paar nie dorp toe nie, maar na my mening is hierdie skoene - wat van 'n gepatenteerde skuimharpuis met die naam Croslite gemaak word - een van die wonders van ons wêreld.

Hulle is onvernietigbaar (al sou baie mense wou), ideaal om in die tuin rond te skoffel of om as waterskoene te gebruik as jy weer op die Oranjerivier roei. Soos 'n goeie cabernet sauvignon raak hulle ook net beter met ouderdom danksy die skuimharpuis wat die vorm van jou voet leer ken. (En anders as met jou wyn, hoef jy nie jou Crocs met enigiemand anders te deel nie!)

R299, superbalist.com

FitFlop iQushion

FitFlop iQushion
FitFlop iQushion

Die eerste FitFlop is in 2007 bekend gestel en skaars 'n jaar later was die maatskappy die grootste verkoper van somerskoene in die wêreld - amper 12 miljoen pare!

FitFlop het beweer dit kombineer die voordele van kaalvoetloop met die gemak en beskerming van 'n skoen. Die wonderbestanddeel is "microwobbleboard" - 'n middelsool wat deur 'n biomeganikus ontwerp is om druk op die voet te versprei en as 'n skokbreker te dien. Aanvanklik is die FitFlop bemark as 'n plakkie wat jou beenspiere versterk en jou kuite slank hou - g'n wonder mense het dit opgeraap nie!

Sedertdien het die maatskappy aanbeweeg, en deesdae sing hy eerder lofliedere oor gemak en styl pleks van om gesondheidsbeloftes maak. Self glo ons nie sommer die plakkies bied revolusionêre verjonging nie, maar daar is geen twyfel dat hulle gemaklik is nie.

R449, takealot.com

Croc Capri V Flip

Croc Capri V Flip
Croc Capri V Flip

Hierdie is 'n plakkie wat die Zombie-oordeelsdag sal oorleef. Met die eerste oogopslag lyk dit na net nóg 'n loslit plakkie, maar die een het 'n dubbeldosis gemaksinspuiting gekry.

Sien jy daai sool met die dikkerige hak? Dís waar die towerkuns plaasvind. Daar vind jy 'n sagte skuimvoetbed wat met 'n dieperige hakholte saamsing. Die sool - gemaak van Croslite-skuimharpuis - gee nog 'n bykomende tiksel gemak.

Hierdie plakkies is duur, maar jy gaan in jou Capri's vinniger en verder as die res van die span kan stap.

R599, capeunionmart.co.za

Hi-Tec Savanna II

Hi-Tec Savanna II
Hi-Tec Savanna II

As die strand verder weg is as net oorkant die pad, of jy soek iets wat jou voet 'n bietjie meer ondersteuning bied as net 'n plakkie, is 'n sandaal die regte keuse.

Die Savanna is een van Hi-Tec se gewildstes, en dit is nou vernuwe vir 2021. Die naam dui dalk op 'n stap deur die bosveld, maar hierdie sandale is meer geskik om langs 'n promenade te wandel as om deur die boendoes te ploeg.

Die boonste gedeelte het verstelbare touweefsel-bandjies, die voetbed is gemaak van 'n gevormde polimeerstof wat sag en buigbaar is, en die gekontoerde rubbersool bied beskerming en gemak.

R499, hi-tec.co.za

K-Way Fiji

K-Way Fiji
K-Way Fiji

As die Fiji 'n motor was, was dit 'n Toyota Hilux - 'n rateltaai voertuig wat die meeste terreine sal baasraak. Dit sal selfs 'n onderdompeling oorleef wanneer jy deur 'n rivier moet loop om die waaddiepte te bepaal.

Dié ligte sandaal het touweefsel bolangs wat met 'n verskeidenheid van Velcro-bandjies verstel kan word. As jy eers die gemaklikste verstelling vir jou voet gevind word, kan jy die skoen tjoef-tjaf aan- en uittrek danksy 'n rekbare veter.

Dit het 'n gevormde EVA-middelsool, en bied ekstra beskerming vir jou tone en die rubbersool help jou om lekker vas te trap as die terrein steil begin raak.

R699, capeunionmart.co.za

Hi-Tec Ula Ultra

Hi-Tec Ula Ultra
Hi-Tec Ula Ultra

Hierdie is nóg 'n fieterjasielose sandaal van Hi-Tec. Danksy die verstelbare hak- en lushegsels is dit maklik om die Ula Ultra by die vorm van jou voet te laat pas. Die boonste touweefsel is gemaak van 'n duursame nylon, en die gekontoerde binnesool is vervaardig van EVA (etileenviniel-asetaat), 'n rubberagtige materiaal, en jou voete beskerm terwyl jy stap.

Hi-Tec het sy vastrapsool, bekend as Traction, tot die Ultra toegevoeg sodat jy nie sommer sal rondgly op jou volgende dagstap of wandeling in die bos nie.

Jy gaan dalk nie die modeblaaie van 'n glanstydskrif haal nie, maar hierdie is 'n sandaal wat jy gemaklik van sonop tot sononder kan dra.

R599, hi-tec.co.za

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM