'n Lekker road trip kan jou lewe verander, maar dit kan ook in 'n nagmerrie ontaard, veral as die kinders baklei. Bewaar die vrede met dié goeie reis-apps.
Game Drive
Beantwoord al jou kinders se dierevrae met dié mooi iPad-app van die veteraan-natuurlewefotograaf Heinrich van den Berg. Dit het 'n redelik deeglike (maar nie volledige) gids tot Suider-Afrika se soogdiere, reptiele en voëls, 'n paar interaktiewe vasvraspeletjies, en 'n diere-aftiklysie. Die spesies word beskryf met foto's, spore, opnames van geluide en verspreidingskaarte. Dis maklik om te gebruik en sorg dat die hele gesin meer leer.
Sowat R290 in die App Store; www.hphpublishing.co.za

Tracks4Africa-gids
Tracks4Africa is bekend vir sy navigasiegereedskap, maar hierdie app is iets heeltemal anders. Dis 'n "digitale papierkaart" met gidsboek-inligting. Die app is gratis, maar jy betaal om een van die nege gidse af te laai: Suid-Afrika kos sowat R300 en Namibië en Botswana sowat R200 elk. Die gids vir Suid-Afrika het 40 469 plekke van belang (kampterreine, gastehuise, eetplekke, ensovoorts) - party net met GPS-koördinate, maar ander met gedetailleerde beskrywings, foto's, webskakels en resensies.
R200-R400 in die App Store; t4a-guide-app.tracks4africa.co.za

Family Car Games
Dié app gaan nie pryse wen vir ontwerp of funksionaliteit nie, maar die uitgebreide lys van motorspeletjies is die R29 werd. Die speletjies is verdeel in kategorieë soos behou-die-vrede- en raaispeletjies. Elke speletjie het wenke om dit meer uitdagend te maak. Jy benodig net 'n motor vol verveelde mense, iets om na te kyk, en plek-plek 'n motorradio.
Sowat R29 in die App Store














