Buitelewe

Vir die Kerskous!

Getty images
Getty images

Arthur Jones (Toerusting-redakteur)

Thule Ride Along Lite

Dié fietsstoeltjie vir kinders is vernuftig ontwerp en 'n veilige manier vir Basjan om saam met Pa te ry. Hy is selfs geskik om hom vroegoggend by die kleuterskool af te laai: Geen verkeer nie en vars lug!

Die raam is lig (3,4 kg), maar kan tot 22 kg dra (ongeveer 'n sesjarige kind). Die stoel het 'n verstelbare driepuntharnas, 'n kinderbestande veiligheidsgespe, en beskermingsholtes wat jou kind se hande veilig hou wanneer die fiets byvoorbeeld teen 'n muur leun. Die stoeltjie het 'n Dualbeam-veringstelsel wat sorg dat jou passasier nie rondbons nie. En natuurlik kan die stoel verwyder word as jy sonder 'n kind wil trap.

R2 000 by Thule Stores

Salomon Supercross Trail Shoes

In die vakansie eet 'n mens baie en ryk; dus moet jy probeer om 'n bietjie oefening te kry. As jy nie lus voel vir die gim nie, is hardloop die maklikste opsie. Veldloop bied vars lug én mooi uitsigte, en jy word beloon met hope endorfiene.

Ek het hierdie skoene getoets by parkwedlope, bergroetes, kusdraffies en moeiliker enkelspoorroetes en ek was tevrede, veral omdat ek nie juis 'n drawwer is nie. Dié skoene bied genoeg ondersteuning, is duursaam en dit het goeie greep op alle oppervlakke waarop ek gedraf het. Dit sit ook gemaklik aan my voete en die Quicklace-stelsel werk goed.

R1 800 by Outdoor Warehouse

Sybokhaar-kombers

Koop iets Trots Suid-Afrikaans! Dié kombers van angorabokhare is 'n volhoubare, natuurlike vesel wat liggewig en duursaam is én dit kan asemhaal.

Danksy die kundige weefmetode krap of laat jeuk dié materiaal nie jou vel nie. Dis 'n kombersie vir elke seisoen, en 'n ekovriendelike geskenk.

Vanaf R830 by mohairmillshop.com

Waboba Pro-bal

Somer in Suid-Afrika beteken gewoonlik baie tyd langs die strand en swembad, en een van die beste speelgoed is dié goedkoop nommer. Hierdie bal kan op water bons en die hele gesin ure lank vermaak.

Hy kan klein opvou en pas in 'n paneelkissie of rugsak. Die Pro-weergawe is effens groter en swaarder as die gewone bal, maar ons dink hy's meer duursaam. Dis gaaf vir die gesin, maar is ook 'n bekostigbare geskenk vir daai vriend van jou wat eerder 'n jack russell moes gewees het.

R140 by Sportsmans Warehouse

Breazies-swembroek

Die belangrikste ding wat 'n mens in Desember nodig het, is 'n swembroek. Jy kan kies tussen die Breazies Classic en Flexi; die enigste verskil is dat laasgenoemde se materiaal meer rekbaar is. Die swembroeke is beskikbaar in verskeie kleure en ontwerpe - dus is daar iets vir elkeen in die gesin. Bestel aanlyn en aflewering is gratis.

R700 by breazies.com

Sophia van Taak (Joernalis)

Stanley-reisfles

Hierdie fles is drie dinge in een: 'n dompelfles, 'n termosfles én 'n reisbeker. Ja, kan jy dit glo?

Binnein is 'n netjiese dompelfiltertjie wat jy tot op die boom druk om die koffiemoer uit jou boeretroos te hou. Die fles het twee deksels - die onderste een seël die inhoud met 'n digte rubberring sodat dit nie lek nie, en die boonste een bedek die tuit waardeur jy die koffie kan skink óf direk uit die beker drink.

Die fles het 'n volume van 440 ml en hou koffie vir 4 uur warm, koeldrank vir 5 uur koud en water vir 20 uur bevrore.

R850 by Outdoor Warehouse

'n Turkse handdoek

'n Mens dink jy't genoeg handdoeke totdat jy een van dié outjies die eerste keer gebruik. Turkse handdoeke (oftewel peshtemals) is verbasend sag én ongelooflik mooi!

Dis 100 x 180 cm groot en van 100% katoen. Hulle is dus absorberend en word ook gou droog. En hulle rol klein op - perfek vir 'n staptoer of vakansie met min bagasieplek. Ek hou myne altyd in die kattebak - net ingeval 'n impromptu-piekniek opduik.

Elke peshtemal se ontwerp het sy oorsprong in 'n spesifieke streek van Turkye (sommige is ook uit Iran).

R270 tot R400 (afhangende van die ontwerp) by lecomfie.co.za

Reaboka-speelgoed

Dié poppies is deel van die Reabokastigting se produkreeks. Reaboka is 'n niewinsgewende maatskappy wat vroue uit plattelandse gemeenskappe ondersteun om met hulle handwerk te woeker. Hulle maak ook handsakkies, sleutelhouers, juweliersware en kombuisgoed. Elke produk pronk met 'n eg Suid-Afrikaanse tradisionele ontwerp.

R400 by ewtshop.co.za

Kyra Tarr (Joernalis)

Reishangmat

Dit maak nie saak of jy op 'n strand, in 'n berg of in bos is nie, 'n hangmat is altyd gaaf vir 'n middagslapie. Die mark vir stap- en kamphangmatte is nogal groot; dus sal jy een teen 'n goeie prys kry. Die Kiwano Double Parachute Nylon Travel Hammock is 'n goeie opsie, met knippe aan elke kant sodat jy hom vinnig kan ophang.

R600 by takealot.com

Pop-Up Lantern deur Life + Gear

Daar kom 'n tyd in elke kampeerder se lewe dat hy of sy moedeloos deur die tent en pakgoed soek na 'n flitslig. Dié silikoonlanterns los 'n gesukkel gou op: Dit het drie AA-batterye nodig, vou op so groot soos 'n CD-houertjie én kan as flitslig gebruik word. Hang dit in jou tent op of belig jou potjie terwyl jy kosmaak.

R100 by Cape Union Mart

Pierre Steyn (Redakteur)

RED-E RC5 Compact 5 000 mAh-kragbank

Dit maak nie saak of jy diep in die bos of in die woestyn gaan wegkruip nie; jy gaan onvermydelik iets hê wat gelaai moet word: Jou selfoon waarmee jy foto's neem; jou Fitbit wat treë tel; klein Koert se Nintendo. Hierdie laaiertjie van RED is die kleinste 5 000 mAH-weergawe op die mark, met genoeg woema om op 'n vyfdagstap deur die Baviaanskloof jou selfoon twee keer vol te laai. Hy's só klein dat jy nie die ekstra blikkie Weense worsies by die huis hoef te los nie. En jy kan die ingeboude LED-liggies saans as 'n flitslig gebruik. Die Powerbank kan tot 500 keer herlaai word.

R300 by Outdoor Warehouse

Kühl Response-staphemp

Kühl is 'n aweregse Amerikaanse maatskappy wat spesialiseer in buitelugklere wat jou koel hou in die somer en warm hou in die winter. Ek het dié hemp op uitverkoping gekry net voor 'n staptog in Namibië en nou dra ek dit kantoor toe én ry bergfiets daarmee.

Dis die Leatherman van hemde. Hy haal gemaklik asem; jy hoef hom nie te stryk nie; hy keer die sonstrale met 'n UPF-gradering van 30; en word blitsvinnig droog. Daar's twee sakke op die bors en 'n weggesteekte veiligheidsakkie aan die binnekant. Boonop lyk hy nogal, wel, cool.

R700 by Cape Union Mart

Jon Minster (Fotojoernalis)

Carma Quip Scout-matras

Baie jare al is Suid-Afrikaners gaande oor die Carma Quip-opblaasmatras. Hy is gemaklik en kompak, en byna onbreekbaar. Hulle kry nie sommer 'n gaatjie of lekplek nie; dus weet jy jy gaan lekker slaap. Onlangs het dié maatskappy van Durbanville 'n kleiner weergawe, die Scout, bekend gestel. Hy is 180 x 50 x 5cm groot en weeg 2 kg wanneer hy opgerol en in sy eie sakkie verpak is. Dis 'n perfekte kindermatras, maar Pa kan hom ook gebruik op 'n oornagmotorfietsrit. Dié outjie het al die eienskappe van die groter matrasse en 'n vierjaarwaarborg.

R795 by carmaquip.co.za

NODO Packs Tiny Tool Roll

Odon Human is 'n siviele ingenieur, trompetspeler en fiets-nerd van Kaapstad. NODO Packs is sy ander belangstelling: Hy maak pasgemaakte sakke vir jou fiets. Of jy nou gou koffie gaan drink of al die pad Tanzanië toe wil trap. (Dankie, Odon/Nodo...) Dié een is net wat jy nodig het vir jou Sondagoggendfietsrysessie - daar's plek vir 'n mesmoertang én 'n nodige bandherstelstel.

Die sakkie word gemaak van waksseil en is uitstekend ontwerp: Bêre jou goed in die drie sakkies, vou die bokant oor en haak hom aan jou sitplek vas. Dis netjies en onopsigtelik, en sal nie rondskuif en geraas maak nie. Jy kry dit ook in verskillende kleure.

R360 by odonhuman@gmail.com; @nodopacks op Instagram

Martinette Louw (Vertaler en teksredakteur by go!)

Wild Women and their Amazing Adventures Over Land, Sea & Air

Jy ken vir David Livingstone, maar het jy al gehoor van Amelia Edwards? Of Felicity Aston? Hierdie boek, saamgestel deur Mariella Frostrup, fokus op verskeie vroueverkenners en avonturiers wat baiekeer deur hulle manseweknieë oorskadu word.

Dié versameling van 50 reisverhale is geskryf deur die vroue self, en vertel van boeiende ervarings soos Edwards se reis op die Nylrivier, en prestasies wat rekords gebreek het, soos Aston wat vroualleen oor Antarktika op haar ski's getrek het... met net 'n bottel grondboontjiebotter as lekkerny.

Die stories speel af in verskillende wêrelddele. Die boek is verdeel in seksies op elke vasteland en strek oor verskillende eeue, van die 1700's tot vandag.

R647 by exclusivebooks.co.za

Les Deglingos-naweeksak

Les Deglingos is bekend vir sy prettige en luukse Franse speelgoed, en dié kleurryke sak is perfek vir Anna se eerste oorslaapaandjie by Ouma. Dis 48 x 23 x 25 cm en het genoeg plek vir pajamas, haar bersie en storieboek. Die sak word gemaak van poliëster en katoen; dus kan jy die sak net in die wasmasjien gooi as hy vuil word. Daar is verskeie karakters om van te kies, soos Illicos, die ysbeer, Aligatos, die krokodil (bo) en Charlos, die kat.

R560 by takealot.com

https://www.takealot.com

https://www.takealot.com

Esma Marnewick (Adjunkredakteur)https://www.takealot.com

Weg Tjirpie-kaartspeletjie

Dié Kersfees kry elke niggie en nefie hierdie leersame kaartspeletjie in hulle Krismiskous. Weg se nuwe kaartspeletjie werk soos Top Trumps-kaarte, maar met 'n kinkel of twee. Daar is 52 kaarte in die pak. Elke kaart het inligting oor Suid-Afrika se kwesbare voëls. Só kan jou kinders in die Desembervakansie allerhande interessante dinge leer oor voëls, soos dat daar net 50 witvlerkvleikuikens oor is in die land, en dat 'n pelikaan 11 kg weeg! R100 in groot winkels - kyk by die tydskrifrak of bestel een by winkel.weg.co.za.

Campground-grondseiltjie

Ek was vanjaar op twee wildernisstaptogte en was jaloers op my stapmaats wat een van dié nommers gehad het - dis basies 'n piekniekkombers. Op wildernisroetes rus, eet en slaap jy op die grond, en soms ook in 'n rivierbedding. As jy nie een van die seiltjies het nie, is jy, jou rugsak, slaapsak, Melrose-kasies - de lot - gedurig vol stof, sand of dorinkies. Die seiltjie hou dinge meer beskaafd.

R290 bytakealot.com

https://www.takealot.com

https://www.takealot.com

Marijcke Dodds (Teksredakteur by go!)

Versus-sokkies

Ja, ek weet, soap-on-a-rope en sokkies maak niemand juis opgewonde nie... maar dié prettige sokkies sál jy wil dra.

Versus vervaardig hardloop- en fietsrysokkies in byderwetse strepe en prentjies, waaronder Tafelberg, waatlemoene of 'n strand. Jy kan ook die landsvlag aan jou voete dra. Dit word gemaak van materiaal wat vog absorbeer, het versterkte hakke en tone, en maasstof wat kan asemhaal; dus sal jou voete koel en droog bly. Dis beskikbaar in verskeie lengtes.

Vanaf R100versussocks.com; ook beskikbaar by Outdoor Warehouse

Ripline Epic Zipline

Skep 'n avontuurbaan in jou agterplaas! Span 'n 24 m lange kabel van vlekvrye staal, heg die verstelbare sitplek daaraan - en jy's gereed! Dié foefieslaaid is vir kinders, maar kan tot 113 kg akkommodeer. Pa kan dus ook 'n beurt kry, mits hy nie so groot is soos The Beast nie.

Die stel is beskikbaar met al die nodige komponente en 'n instruksieblad. 'n Foefieslaaid sonder 'n sitplek is ook beskikbaar.

R1 500 by Sportsmans Warehouse

Marcelle van Niekerk (Webredakteur)

Sennheiser HD 4.50 BTNC-oorfone

Dié oorfone is perfek as jy alles van die sagste getokkel op die kitaar tot die sangers in die agtergrond duidelik wil hoor. Daarby kan dié stel die meeste geraas rondom jou uitsny.

Jy kan met Bluetooth luister ('n gewone kabel is ook ingesluit) en die beste van alles - die oorfone is slim ontwerp om gerieflik op te vou. Pak dit weg in 'n reissakkie (ook ingesluit), en vat dit saam op vakansie. Perfek vir wanneer jy langs 'n huilende baba beland op jou volgende vlug...

R3 150 op takealot.com (Hou jou oë oop - dié oorfone is dikwels teen afslag beskikbaar.)

The Great Alone

Dié verhaal deur Kristin Hannah volg 'n gesin wat trek na Alaska in Amerika in 'n poging om 'n eenvoudiger lewe in die wildernis uit te kerf.

Die beskrywings van Alaska se stilte, sneeu en swierige berge sal jou swerflus aanwakker. Dis terselfdertyd 'n spanningsroman soos wat die afsondering van Alaska se wintermaande stadig die geestesgesondheid van die gesin bedreig...

R185 by exclusivebooks.co.za

'n Goeie hoed vir die somer

Ek was bitterlik spyt toe ek dié hoed onlangs verloor, en is van plan om betyds vir die somer nog een te kry. Dit het Kansa se hoogste waarborg van sonbeskerming (UPF50+), en het 'n ekstra laag materiaal aan die binnekant om die ergste sonstrale weg te hou.

Boonop vou die hoed maklik op in 'n sak en verloor nie sommer sy vorm wanneer dit buig nie.

R550 by sunhats.co.za

Lynne Fraser (Kunshoof)

Aeropress-dompelpot

Dié dompelpot is perfek om te gaan kamp, en as jy so verslaaf aan koffie is soos ek, sal jy die rol salami op jou volgende staptog by die huis los en eerder dié outjie saamdra. Jy kan een Americano of vier espresso's maak. Die stel sluit in 'n dompelpot, seël, filtreerdeksel, filterhouer en 350 mikrofilters. Daar's ook 'n skeplepel, roerstafie en tregter. Al die dele kan in die skottelgoedwasser gewas word.

R700 by yuppiechef.com

Handplank vir swem

Dié houtplanke gaan jou soos die spreekwoordelike vis in die water laat voel dié somer. Koop een van die rak af óf laat een maak. Jy kan ook vir 'n kursus inskryf en self vir iemand 'n plank maak by 'n werkwinkel - onder leiding van die legendariese branderplankmaker Patrick Burnett. Burnett Wood Surfboards is in Scarborough buite Kaapstad. Kursusse kos R1 200, materiaal ingesluit.

R850 (aflewering ingesluit) by burnettwoodsurfboards.co.za

Opvoubare hondeswembad

Sommige honde kan net nie uit die swembad bly nie... maar ai, om die hondehare uit die filter te kry is 'n pyn. Kry dan vir Buks sy eie waterspeelplek!

Hierdie opvoubare hondeswembad word gemaak van duursame nie-giftige PVC en is perfek vir troeteldiere om in af te koel op warm dae. Jy kan hom binne 60 sekondes oopvou, en hy vou klein weg (160 x 30 cm) - ideaal vir wanneer die honde saam op vakansie gaan.

R900 by dogboxsa.com

Outdoor-honderugsak

As jou hond jou beste vriend is, is hy ook jou gunsteling-stapmaat. Met hierdie rugsak kan jy eet- en speelgoed, waterbottels en 'n eetbak saampiekel. Dit het ook plek vir jou peuselhappies en Energade. Hierdie liggewig sak is waterbestand, gemaak van materiaal wat asemhaal, en geskik vir veral groot honde.

R600 by dogboxsa.com

Saamgestel deur Arthur Jones

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM