Jaarliks veroorsaak haelstorms groot skade iewers in die land. Maak dus seker jy het behoorlike dekking.
1. Is my polis voldoende?
Omvattende motorversekering dek gewoonlik haelskade. Net derdeparty-, brand- en diefstalversekeringspolisse sluit dit gewoonlik uit, maar as jou motor skade aan ’n ander voertuig veroorsaak weens hael, kan daardie skade gedek word.
Die meeste gebouversekeringspolisse sluit haelskade aan byvoorbeeld dakke, mure en vensters in.
Huisinhoudspolisse dek gewoonlik stormskade, byvoorbeeld wanneer hael jou vensters stukkend slaan en daar waterskade aan meubels en elektroniese toestelle is.
2. Hoe eis ek vir voertuigskade?
Dien die eis so gou moontlik in. Moenie herstelwerk laat doen sonder jou versekeraar se toestemming nie. Neem foto’s en video’s van die skade aan byvoorbeeld jou ruite, spieëltjies, ligte en bakwerk as bewys. Die skade sal dan geassesseer word.
Onthou: As jou versekeringspolis haelskade dek, maak dit nie saak waar jou motor geparkeer was nie.
3. Sal my versekering vir motorhuur betaal?
Dis gewoonlik ’n opsionele ekstra op omvattende motorversekeringspolisse. As jy dus nie die opsie uitgeneem het nie, sal jou motorhuur nie betaal word nie – al slaag jou eis vir haelskade aan jou persoonlike voertuig.
4. Wat van my huis?
Verskaf weereens volledige besonderhede, soos die aantal gebreekte vensters en waar die dak of mure beskadig is. Bevestig dit met foto’s en video’s.
5. Wanneer is dit sinvol om te eis?
Jou motor: Soek vir duike, krake of gebreekte vensters. Vra ’n hersteldiens wat dit jou gaan kos. Vergelyk dit dan met jou versekering se bybetaling. Dis sinvol om te eis wanneer die herstelkoste hoër is as jou bybetaling, of onbekostigbaar vir jou. As die herstelkoste laer is as jou bybetaling, moet jy in elk geval self opdok.
Jou huis: Weereens moet die herstelkoste meer as die bybetaling wees. Dis ook die moeite werd om te eis vir strukturele skade wat toekomstige probleme kan veroorsaak, soos gebreekte dakteëls. Oorweeg ook om te eis as daar ’n veiligheidsrisiko is, byvoorbeeld onstabiele dakgedeeltes.
6. Kan eise my versekeringspremie opjaag?
As jy die afgelope jaar of twee reeds verskeie groot eise ingedien het, kan jou premie duurder word. As dit skerp styg, kan jy onderhandel. Versekeraars verminder dikwels die premie as jy ’n groter bybetalingsopsie kies, of jou huis- en motorversekering saamvoeg.
7. Kan ek eis as ek die skade eers later opmerk?
Die meeste polisse het ’n spesifieke tydperk waarbinne eise ingedien moet word. Jy kan met jou versekeraar praat as jy skade eers later opmerk, maar hulle sal dalk bevraagteken of dit werklik haelskade was.
8. Hoe gou word ek uitbetaal?
Dit hang af van die erns van die skade en hoe doeltreffend jou versekeraar is. Vir dringende herstelwerk, soos ’n nuwe voorruit, kan jy toestemming vra om voort te gaan. Jy sal ’n faktuur vir die voltooide herstelwerk moet verskaf.
1630












