• Natuurlik is daar niks wat by ’n kaggelvuur kom vir winterwarmte nie. Vul dit aan met staanlampe en kerse, en laat die gloed in metaal en glas weerkaats.
• Blomme sit ’n warm glimlag op elkeen se gesig. Miskien is dit omdat die natuur beloftes van nuwe lewe ná die koue inhou?
• Warm kleure soos geel, oranje, rooi en bruin dra graag hul energie aan die kyker oor enbring warmte vir die siel.
• Kies ryk teksture soos fluweel, wol en kunspels vir jou sagte meublement, en ’n mat wat nie net jou voetsole warm hou nie, maar ook die kringetjie om die kaggel afbaken.
• Kies oortreksels van warmer stowwe en in snoesiger kleure vir die winter, en hou bypassende oorgooidekens byderhand vir wanneer ’n kouefront jou buurt besoek.
• Maak seker jou gordyne kan dig toetrek om saans die koue uit te hou. Dis ook wys om dié tyd van die jaar ekstra lae in die vorm van ’n agtergordyn of blinding by te voeg.
• Sorg dat jou leefvertrek jou mense se gunsteling-winteraktiwiteite kan akkommodeer: stapels boeke, neersitplek vir ’n warm pot tee of glühwein, ’n houer met bordspeletjies of DVD’s en ’n mandjie breiwerk!

Warm byderwets
Swart en wit saam met heldergeel gee dié sitkamer ’n warm, dog moderne gevoel waar jou byderwetse vriende alte graag nader aan die kaggel sal wil skuif.













