Huis + tuin

Alles is BLOU

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Voeg blou blomme by jou April- en Mei-tuin en jy sal verheug wees oor hoe hulle teen die herfskleure vertoon, skryf Alice Coetzee.

Plumbago "Royal Cape" is 'n veerkragtige tuinstruik.
Plumbago "Royal Cape" is 'n veerkragtige tuinstruik.

Blou is 'n baie gewaardeerde kleur in die tuin en twee sulke herfsblomskoonhede is syselbos (plumbago), veral die donkerder blou "Royal Cape" en die baie blou blomvariëteite van salie (salvia).

Albei plante is waterslim, maklik om te kweek en aantreklik vir skoenlappers of bye.

Die inheemse Plumbago auriculata is die onbesonge held van die tuin. Dit is 'n ongelooflik geharde tuinplant. Dit groei vinnig en as dit eers gevestig is, het dit min aandag nodig en kan met minimale water oorleef.

Dit vaar die beste in volson en groei in enige soort grond wat goed dreineer en met kompos verryk is. 'n Goeie natmaak in die somer en 'n bietjie kunsmis aan die begin van die seisoen sal vir 'n welige blomplant sorg.

Dié plante kan tot struike van 3 m hoog en breed groei, maar skrik ook nie vir 'n bietjie terugsnoei en om gevorm te word om by 'n kleiner tuin in te pas nie.

Gebruik dit as blou agtergrondplante in 'n groot bedding, as vullers in 'n landskap, as 'n heining, in houers of laat hulle toe om teen 'n boom op te rank.

Plumbago blom van die somer af, maar sy beste blomtyd is in die herfs. Moedig meer blomgroei aan deur die plant terug te snoei. Dit blom op nuwe hout.

Ouer plante kan houtagtig word, veral om die basis, daarom is dit 'n goeie idee om plante in die winter terug te snoei. Hernu die grond met kompos en maak goed nat in die lente om die plant weer aan die gang te kry.

Omdat dit so 'n digte, bosagtige struik word, bied plumbago 'n skuilplek vir voëls en word sy blomme besoek deur skoenlappers, veral die gewone blou skoenlapper (Cyclyrius pirithous). Die skoenlapperlarwes lok ook voëls.

Een van die algemene name vir plumbago is Kaapse loodkruid omdat dit glo 'n geneesmiddel vir loodvergifting is. Die wortels en blare het glo medisinale eienskappe. 'n Tradisionele gebruik is om dit te droog en tot 'n poeier te maal wat op vratte toegedien en as snuif gebruik word om hoofpyn te verlig.

Meerjarige salie kom gewoonlik met vlieënde vaandels deur warm somers. Selfs al verlep die blare ná 'n lang, droë periode herleef hulle vinnig wanneer dit natgemaak word.

Dit lyk of die meeste salies nooit ophou blom nie en hulle kan aan hul eie lot oorgelaat word, maar snoei verbeter wel hul blom en laat die plant netjies lyk, veral die groter, bosagtige variëteite.

Heiningknippers werk goed, moet net nie in die kaal, houtagtige stingels insny nie.

Al wat hulle benodig, is 'n sonnige bedding met gewone tuingrond wat goed dreineer. Voeding met 'n 5:1:5-kunsmis (soos Vigorosa) een keer in die lente, somer en herfs sal dit tot die winter laat blom.

Nog 'n bonus van meerjarige salie is die oorvloed blompunte wat skoenlappers, bye en selfs nektarsoekende voëls lok.

'n Goeie randsalie is "Mysty", wat 'n kompakte weergawe van "Mystic Spires" is. Dit het dieselfde eg-blou blomme en donkergroen blare, maar is 35% minder sterk wat dit 'n beter verskeidenheid maak vir gemengde aanplanting sowel as in houers. Omdat dit so goed vertak, lewer dit baie blompunte.

Plante word tussen 30 en 46 cm hoog en breed. Vir groter tuine of om die agterkant van 'n grens te vul bly "Mystic Spires" 'n top­presteerder. Wanneer dit in volblom is, sal sy blompunte tot 90 cm bereik en oor die jare word dit 'n groter tros.

Deur dit gereeld terug te sny hou mens dit bosagtig en vermeerder die pragtige eg-blou blomme. Soos alle salie moet dit nie te veel natgemaak word nie, maar eerder gereelde, diep natmaak - in die tuin - kry.

Nog 'n groot struiksalie is "Black and Bloom", wat 1,2 m hoog en wyd groei. Dit begin vroeër in die lente blom en gaan voort deur die somer tot die eerste ryp.

Dit het groter blomme wat dramaties uitstaan teen die donkerder, dikker stamme. Dit is 'n hoë-impak-tuinplant wat so taai soos 'n ratel is en ook humiditeit weerstaan.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM