Spring weg met 'n konsep waarmee jy gemaklik is, en brei mettertyd uit na ander moontlikhede.
Hier's enkele wenke:
Kies eiegoed
Versier jou huis met plaaslik vervaardigde items pleks van ingevoerdes, en koop organiese kosse by plaaslike winkels. So help jy werk skep én vervoerkoste en besoedeling beperk.
Leef eenvoudig
'n Kleiner huis vereenvoudig jou lewe. Instandhoudingswerk is minder en kos minder, en minder ruimte sal jou dwing om meer skeppend te werk te gaan. Skaf goeie veeldoelige meubels aan wat deur die hele huis gebruik kan word.
Spaar waar jy kan
Ons moet eenvoudig energie bespaar. Begin deur alle ligte met energiebesparende gloeilampe toe te rus. Onthou om kragproppe af te skakel en uit hul sokke te trek wanneer hulle nie gebruik word nie. Gebruik gas om mee te kook, eerder as elektrisiteit. Plant 'n boom - dit help om lugbesoedeling te bekamp, dit verbeter die lewensgehalte, en is onontbeerlik vir 'n volgehoue bestaan.
Gebruik minder - en gebruik weer.
Raak 'n slimmer verbruiker: kies kwaliteit bo kwantiteit, gebruik wat jy het en koop items wat herwinbaar is. So verminder jy onnodige vermorsing en verlig jy die druk op die aarde se hulpbronne.
Seisoenswys
Leef volgens die seisoene. In die somer kan jy meer vars, rou kos eet en so die krag spaar wat jy op koskook sou gebruik; maak vensters oop en laat 'n vars bries - in plaas van 'n lugreëlaar - koelte bring. Bly in die winter warm met laag op laag klere en komberse, en nie verwarmers nie.
Groen is goud
Bring die natuur tot in jou huis met plante en blomme. Hulle reinig en verfris die lug met hul geur en sorg terselfdertyd vir spatsels natuurlike kleur. Maak tuin - dit moedig plant-, voël- en inseklewe aan en verryk die grond, én sorg vir vars, organiese vrugte en groente op jou tafel.













