Net soos die kombuis is badkamers 'n sterk verkooppunt van 'n huis en moet die uitleg ook vooraf haarfyn uitgewerk word - krane en loodgieterswerk kan immers nie na willekeur geskuif word nie. As jou begroting dit toelaat, is die ideaal om 'n hoofslaapkamer met 'n en suite- of oopplanbadkamer te hê, 'n tweede badkamer wat die res van die huismense kan gebruik, en 'n aparte toilet waar gaste maklik kan uitkom sonder om deur die slaapgedeelte van die huis te stap. As dit by die uitleg van 'n badkamer kom, is daar basiese minimum ruimtevereistes wat dit gerieflik maak.
Die Italiaanse ontwerper Roberto Palomba het onlangs op die bekendstelling van sy nuwe reeks by Italtile in Suid-Afrika vertel wat die nuutste tendense is, maar gewaarsku dat mense die volgende moet onthou wanneer hulle die afwerking kies: "Badkamers skep atmosfeer en emosie, maar dis ook deel van die argitektuur. Jy kan dit nie sommer net verander as die gier jou beetpak nie; jou stylkeuses behoort vir minstens tien jaar te oorleef."
Wat sê die kenners?
Roberto Palomba het die nuutste badkamertendense met ons gedeel:
- Wasbakke is nie rond of vierkantig nie, maar iewers tussenin: "Cut the angles."
- Oopplan-badkamers is 'n groeiende tendens en 'n manier om ruimte te skep. Dit laat slaapkamers groter lyk.
Losstaande baddens is tans baie gewild. En die argitekspan Ronél en Stephan sê die volgende:
- Ons blyplekke raak al hoe kleiner, daarom voeg 'n groter badkamer waarde toe.
- Die ideale badkamer het 'n stort, 'n bad, twee wasbakke, 'n toilet en 'n bidet.
- Steek die toilet weg agter 'n muur, of bou dit apart.













