Dit maak nie saak watter area in jou tuin jy wil opvrolik nie, Dianthus het die variëteit vir jou. As jy hoogte wil skep, is Dianthus barbatus, oftewel baardangeliere, die ideale keuse – dit sal jou boonop met pragtige snyblomme beloon. En moenie vergeet dat angeliere (Dianthus caryophyllus) deel is van dié familie nie; dis uitstekende snyblomme vir jou huis en om uit te deel. As jy graag rande skep, beddingrande opdollie of plante in houers plant, is Dianthus chinensis perfek. Vir ’n hitteverdraagsame en rypbestande opsie is die hibried Dianthus barbatus x chinensis ’n wenner, terwyl Dianthus x interspecific trefkrag sal verleen met ongewone kenmerke soos dubbelblomme, blomme met kartelrande of blomme met sterk geure. Plant saailinge op ’n sonnige plek in komposryke grond wat goed dreineer. Dianthusse is waterwys plante wat verkies om net af en toe diep natgemaak te word; dit sal help dat die grond rondom die stamme droog bly en stamvrot keer. Moet om dié rede ook nie ’n deklaag rondom die stele strooi nie.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6159/68f9c4b371454ba9a9c7ef2bdf6ebcbf.jpg













