
Gevleg en versier
Kerskranse van wingerdlote is vryelik beskikbaar by die meeste blomwinkels. Druk jou stempel daarop af met blomme uit jou tuin en 'n groot strik daarby!

'n Appel elke dag
Die kombinasie van groen appels en spierwit hondsrose en rankrosies maak 'n treffende krans. Gebruik 'n sirkel bloemisteskuim met 'n plastiekraam as basis en monteer die appels daarop met lang (22,5 cm-) spykers wat stewig in die skuim gedruk is. Vleg nou die blomme en loof tussendeur om die prentjie te voltooi.

Mooi in rooi
Niemand hoef 'n fortuin op 'n krans te spandeer nie. Pluk rooi blomme soos malvas, hibiskusse en Kalanchoe blossfeldiana ‘Calandivas' in jou tuin, koop 'n bloemisteskuimkrans met 'n plastiekraam (te kry by Bunches for Africa, bunchesforafrica.com) en rangskik na hartelus. Ons het 'n hoekie uit die skuim gesny en sommer 'n hele polyanthus-primulaplantjie met blare en al bygevoeg vir trefkrag. Plant hom ná Kersfees in die tuin uit.
Sterreprag
Ogiesdraad is 'n veelsydige materiaal om vorms mee te versier. Buig 'n ster van dik draad en trek dit oor met ogiesdraad. Versier dit dan met rooi bessies en lint - en 'n lapsterretjie uit Ouma se naaldwerkkissie.
Stokkiesdraai
Sny droë takkies in eweredige lengtes en maak die punte skerp met 'n mes. Verf die punte bloedrooi, met 'n strook wit daaronder - dit lyk kompleet soos Kersvader se baard! Plak dit met 'n gompistool in 'n sirkel aan 'n draadraamwerk vas (jy kan dun draad gebruik om dit stewiger te maak) - en siedaar: 'n indrukwekkende Kerskrans vir jou voordeur.

Mal oor Hibiskusblomme
Wanneer jy jou wingerdprieel snoei, bind die lote met 'n helder lint in 'n krans vas terwyl dit nog sag is. Dit sal so hard word en dan kan jy dit versier. Gebruik bloemistekleefband om helderkleurige blomme aan die krans te heg vir jou Kerstafel, jou tuinpartytjie, 'n troue, die blommemeisie.
Wat jy nodig het:
- ringhouer vir bloemisteskuim
- vier blokke bloemisteskuim
- kabelstroppe
- krismisrose en ander blomme wat by jou Kerstafel pas
- groenigheid uit die tuin
- mooi lint
- stewige haak om die ring mee op te hang
So maak jy:
1. Week die blokke bloemisteskuim vir minstens drie uur in water.
2. Druk die deurweekte blokke in die ringhouer en sny die oortollige stukke af. Gebruik die kabelstroppe om dit in posisie te hou.
3. Begin jou krans deur groenigheid soos die fynbostakkies in die skuimring te druk (jy kan dit die aand voor die tyd doen). Maak seker die skuim bly deurentyd klam. Druk die krismisrose en ander blomme wat gouer verlep op Kersdag in die ring.

Kom binne
Oranje is 'n warm kleur wat gaste hartlik welkom heet. Hang dié gesellige krans aan jou voordeur en sit dit die volgende dag op 'n koekstaander om die etenstafel mee op te vrolik. Kry 'n sirkel van bloemisteskuim en druk 'n paar roosmaryntakkies daarin - dit ruik ook sommer lekker. Kleur dit in met helderoranje hibiskusse, ranonkels en papawers.

Hoe rooier, hoe mooier
Met so 'n deurkrans sal almal weet in dié huis word Kersfees gevier. Die rooi Anthuriums hou lank en is in skrille kontras met die gedroogde krismisrose.
Jy benodig:
- Sirkelvormige bloemisteskuim
- Nooienshaar (Muehlenbeckia)
- Bloemiste-bloekom (Eucalyptus cinerea)
- Sipres (Chamaecyparis lawsoniana, ook bekend as die Lawson-sipres)
- Rooi roos
- Rooi Anthurium
- Rooi bessies van die heilige bamboes (Nandina domestica)

Al die veld is vrolik
Die deur is klaar rooi geverf vir die feestyd! Hang jou krans van fynbos aan die deur om verder welkom te sê. Gebruik nat bloemisteskuim vir die fynboskrans.
Die basis: 'n Basis kan die taak nog makliker maak. As jy vars plantmateriaal gebruik, sal nat bloemisteskuim help om die krans langer mooi te hou. Winkels verkoop verskillende basisse, onder meer van strooi, wingerdlote, sifdraad en selfs geroeste draad. Gebruik bloemistedraad om materiaal aan so 'n vorm vas te maak.
Gebruik dit:
- Leucadendron ‘Jubilee Crown'
- Tolbos (Leucadendron ‘Safari Sunset')
- Brunia
- Kol-kol (Berzelia lanuginose)

Liefdevolle afwagting
By hierdie huis word Kerstyd met 'n hart ingewag. Almal wat verbyloop, sal twee keer kyk en dit bewonder. Die papierblomme droog goed en sal die warm son kan verduur. Dis boonop ekonomies en maklik om te maak.
Probeer:
- Hartvormige bloemisteskuim
- Tapytmos
- Wit papierblomme (Limonium sinuatum)

Vetplant-verrassing
Selfs die krans van vetplante uit die tuin kan die buitehek feestelik laat lyk. Jy kan die plante ná die feestyd weer gaan plant. Gebruik 'n sterk basis, soos doringdraad of 'n wingerdkrans, om die vetplante aan vas te maak.
Ons keuse:
- Wingerdkrans (te kry by straatmarkte teen sowat R90, of by blomwinkels)
- Haworthia minima
- Aloe brevifolia
- Spaanse mos (Tillandsia usneoides)
- Bruin langblaar (Aloe saundersiae)
- Groen langblaar (Aloe tenuior)

Die mooiste verwelkoming
Hierdie ryk rooi-en-groen Kerskrans is deur David du Plessis van Inspired Solitude gemaak.
Jy benodig:
- Herwonne metaalkransie
- Takke om die raamwerk te maak.
- Wit magnoliatakke met blare aan - dit hou tot twee weke (moenie die perses gebruik nie, want hulle hou nie lank nie).
- Lapblomme van oorskietfluweel.
- Pers wisteria-blomme - dit kan gereeld vervang word tydens die feesseisoen.
- Tossels
- Kristalle
- Draad om alles aanmekaar te bind
Maak so:
1. Maak die raamwerk van die krans met die takke. Steek magnolia-takke oral in en vul die krans verder met die lapblomme, kristalle en pers wisteriablomme.
2. Bind al die elemente met stukkies draad aanmekaar vas. Plaas die metaalkransie aan die bopunt vir sierlike effek en laat die groot tossels onderaan die krans hang.

Die storie begint met 'n lint
Dis tyd vir vrolik wees en Okasie het dié kranse van gekleurde linte gemaak. Sit 'n blom of meer by as jy dit nog feesteliker wil hê.
Jy benodig:
- Gedroogde Pellaea rotundifolia
- Lint
Maak so:
Gedroogde pellaea-takkies vorm die krans. Rol die pellaea in 'n bol en trek dit stelselmatig uitmekaar om die krans te maak. Bind strikkies om die krans en werk lint of stroke lap daaraan vas met naald en gare. Jy kan dit ook met 'n gomgeweer vasplak.

Ou staatmaker
'n Doodgewone ou draadhanger is 'n goeie basis vir 'n krans.
Jy benodig:
- 'n Draadhanger
- Bottelborseltakke
- Bloemiste-kleefband of kabelstroppe
Maak so:
Buig die driehoek-deel van die hanger oop sodat dit 'n sirkel vorm. Weef langer en korter takkies van die bottelborsel om die draad totdat dit vol is. Bind dit stewig vas met groen bloemiste-kleefband of kabelstroppe.
Wenk: Jy kan ook gewone klimop pleks van bottelborsel gebruik.

In die pyplyn
Dié krans is van oorskietstukke PVC-pyp gemaak wat in ewe lang lengtes gesny en met PVC-sement aanmekaar geheg is. Hang dit aan 'n motorhuis- of werkkamerdeur vir selfdoen-inspirasie.

Groen en grys
Kondig die koms van Kersfees aan met 'n krans uit jou tuin. Kies plantmateriaal in skakerings van groen en grys en versier 'n bloemistering daarmee. Hier is Santolina, Brunia, Papaver somniferum, artisjokke, Scabiosa stellata, lourierblare, speldekussingknoppe en kolkol. Die dodder verleen nie net beweging nie, maar dien ook as lint om die krans mee op te hang.

Rondomtalie
Bêre al jou kurkproppe deur die jaar vir 'n vrolike Kerskrans in verskillende skakerings. Lym die proppe op 'n kartonbasis vas om die krans struktuur te gee en die ronde fatsoen te behou.



















