Huis + tuin

Groen vars idees

Herwinning en 'n ekovriendelike leefstyl is hier om te bly. Ons wys 'n paar slim idees hoe om ou, natuurlike elemente in nuwe, praktiese pluspunte vir jou huis te omskep.

Hout werk

Gebruik 'n perfekte ronde stuk hout om jou ligte gordyne treffend op hul plek te hou. Skroef net die stomp aan die muur vas en draper jou gordyne daaroor as hulle oopgetrek is. Die kontras van ligte, deursigtige materiaal en die ruwe hout gee jou huis 'n speelse aardsheid.

Optelgoed

Maak jou vakansieherinneringe deel van jou huis se dekor. Volgende keer as jy strandlangs loop, kyk of daar nie ‘n mooi stuk dryfhout uitgespoel het nie. Neem dit huis toe, spoel dit af in seepwater - as dit droog is, maak dit ‘n handvatsel vir jou stortdeur so reg uit die natuur.

Speelstasie

Kinders is mal oor speel, hardloop, klim, spring en enigiets wat hul energie tap. Kry vir hulle hierdie natuurlike struktuur om in hul eie tuin te baljaar. Dis gemaak van boomtakke en kleurvolle sterk tou - 'n Tarzan-gim vir ure se pret. Vir meer inligting oor die speelstrukture, skakel DreamWeavers, 021 780 1092, of besoek hul webblad www.dream-weavers.co.za.

'n Hoekie vir somerlafenis

'n Tuinstort maak enige tyd afkoeltyd. Die stort is in 'n hibiskusplant verbloem.

Tekstuur vir 'n gladde muur

Dié ou, verweerde houtdeur is met verf omskep in 'n kunswerk en aan die muur gehang. So gee dit 'n landelike gevoel aan 'n moderne huis.

Versierde muur

Dié latpaneel maak 'n treffende fokuspunt op 'n andersins kaal buitemuur. Die latpaneel is wit geverf en bo en onder aan 'n houtloper vasgemaak

Van diefwering na tuin-attraksie

Diefwering is teen 'n buitemuur gemonteer en dien nou 'n dubbele doel: die tuinslang draai maklik om die lusse én dis uitstekende vashouplek vir die rankplant. Soek vir soortgelykes in tweedehands- en antiekwinkels.

Suné Esterhuizen

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM