Huis + tuin

Heuningblommetjies

(CONNALL OOSTERBROEK)

As jy ’n kaal, sonnige kol in jou tuin wil opkikker, is wit, pienk, pers of geel heuningblommetjies (Alyssum) net die ding. Heuningblommetjies hou van middagskaduwee, maar nie van volskaduwee nie – hou dit in gedagte wanneer jy dit plant. As jy die grond waarin jy dit gaan plant goed voorberei, sal dit nie nodig wees om die

plantjies verder veel te voed nie – hulle verkies dit eintlik om nie té veel aandag te kry nie. Maar as die grond arm is of jy die plantjies in houers plant, moet jy hulle een keer ’n maand met ’n wateroplosbare misstof voed. Heuningblommetjies is uitstekende grondbedekkers en dien as ’n lewende deklaag vir hooggroeiende plante – hulle is ideaal hiervoor, want hulle het nie indringende wortelstelsels nie. Sny die plantjies net terug wanneer nodig. Dié plante sal ook pragtig lyk in hangmandjies op ’n stoep of balkon en sal jou met ’n heerlike geur bekoor wanneer jy by hulle verby stap. Dit sal boonop voëls, bye, skoenlappers en ander voordelige insekte na jou tuin lok. Inligting verskaf deur die Beddingplantkwekersvereniging. Vir meer inligting, besoek lifeisagarden.co.za.

(Connall Oosterbroek)
admin

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM