Huis + tuin

Karaktervolle rame

Inkopielys

  • profielplanke vir die maak van die rame; ons het vier verskillende planke gebruik
  • houtlym
  • petroleumjellie
  • donkerbruin skoenpolitoer
  • waterbasisverf - ons het wit, grys en blou gebruik om by die kleure in die vertrek in te skakel

Gereedskap

  • verfkwas en sponsroller
  • verfskraper
  • kramgeweer met krammetjies
  • sagte lap of kombuispapier

So maak jy

1 Vryf heelwat skoenpolitoer in die hout in, al met die grein langs. Dis 'n maklike manier om die hout donkerder te maak. Onthou net dat die wasagtige eienskappe van die politoer sal keer dat opeenvolgende lae verf aan die hout sal kleef. Dit gaan juis help om die afskilfer-voorkoms te gee.

ONTHOU Moenie die politer by die verstekrande invryf nie, want dan sal die lym daar ook nie ordentlik kleef nie.

2 Verf die hout met twee lae wit verf.

LET WEL Die skoenpolitoer kan die verf pienk maak; laat die verf droog word en verf nog 'n laag wit verf oor.

3 Laat die verf heeltemal droog word en vryf 'n egalige lagie petroleumjellie oor die oppervlak. Dit sal keer dat opeenvolgende (gekleurde) lae verf aan die wit laag kleef, en help om die voorkoms te gee van verf wat kraak n afskilfer.

4 Verf nou 'n dun lagie grys of blou verf met vinnige hale aan die hout en laat goed droog word. LET WEL Petroleumjellie kan die droogtyd beïnvloed.

5 Skraap plek-plek met die verfskraper deur die wit lag verf om die verdonkerde hout daaronder te ontbloot. WENK Die verhewe dele sou met die jare die meeste verweer - skraap dus meer verf hier af om dit outentiek te laat lyk.

6 en 7 Smeer 'n bietjie lym aan die verstekrande van die hout en druk die hoeke styf teenmekaar terwyl dit van die agterkant af vasgekram word. Hier sal 'n ekstra paar hande dalk help. Sit die raam met die voorkant ondertoe neer en sit vir 'n uur lank 'n gewig daarop. Neem die voltooide raam na 'n glashandelaar en laat sny 'n stuk glas wat in die groef pas. Monteer die foto of prent in die raam en stal dit uit.

Nuttige wenke

  • Dennehoutvloerlyste of dadoreling-profielplanke is ideal vir die maak van sierrame.
  • 'n Groef van 5 x 5mm moet aan die binnerand van die raam gemaak word. Die glas en monteerbord sal hierop rus.
  • Onthou, hoe breër die profielplank is, hoe groter moet die raam wees.
  • Werk met die afsonderlike planke en plak dit eers aanmekaar nadat die verftegnieke voltooi is. Dit versterk ook die outentieke voorkoms.
  • As jy meer verf afskraap van twee planke wat teenoorstaande kante gaan word, en jy los die ander kante nes dit is, sal dit lyk asof die raam uit verskillende planke gemaak is.
  • Eksperimenteer met die tegniek om die voorkoms te kry wat jy wil hê.

Ander materiaal wat gebruik kan word om 'n verweerde verfvoorkoms te skep:

Kerswas As dit tussen verflae aangewend word, kan die boonste laag verf maklik afgeskraap word terwyl die onderste laag onaangeraak bly.

Verfstroper 'n Dun lagie wat voor opeenvolgende lae verf aangewend word, sal veroorsaak dat verf met 'n waterbasis blasies vorm as dit geverf word oor verf met 'n oliebasis. Dit kan dan liggies met 'n draadborsel geskraap word om 'n ware verweerde voorkoms te skep.

Suné Esterhuizen

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM