Huis + tuin

Kies feestelike rooi

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Sondag is dit amptelik die begin van die feestyd en 'n goeie rede om die huis met 'n paar vrolike Kersplante te versier. Alice Coetzee stel 'n paar voor.

Amarillis in potte kan baie jare hou.
Amarillis in potte kan baie jare hou.

Benewens Kersversierings wat reeds in die winkels skitter, is 'n seker teken dat Kersfees om die draai is potte en potte poinset­tias, wat nooit nalaat om aanklank te vind met hul helderrooi blomme nie.

Maar dit is nie die enigste rooi binnenshuise blomplante wat in die feestyd gebruik kan word nie. Daar is Kersvaderrooi flamingoplante (anthuriums), die gewaagde trompetagtige blomme van die amarillis, en die krullerige en aanskoulike rooi blomme van potbego­nias.

Selfs voordat die versierings opgaan, sal die plasing van sulke plante regdeur die huis die vakansie inwy.

Kleurgekoördineerde houers sal die kleure van die blomme verder beklemtoon.

  • Probeer om drie of vyf blommende huisplante saam te groepeer om 'n Kersfees-fokuspunt te skep, pleks van 'n tradisionele Kersboom, en plaas die geskenke daaromheen. Wees so feestelik soos jy wil deur klatergoud, snuisterye, kerse en Kersliggies by te voeg. Die poinsettia het die meeste aantrekkingskrag as huisplant met sy helderkleurige skutblare wat soos blomme lyk.

Wanneer jy joune koop, kies 'n plant waarvan die blare donkergroen is tot by die grondoppervlak. Kontroleer ook die plant se volwassenheid. Die ware blomme is aan die basis van die gekleurde skutblare geleë. As die blomme groen- of rooipuntig is en vars lyk, sal die blom langer hou as wanneer geel stuifmeel die blomme bedek.

Maak seker dat hulle baie helder, indirekte lig kry gedurende Desember wanneer hulle as binnenshuise of patioplante gebruik word. Hou die grond klam, maar nie nat nie. Hoekom nie die blomme en blare met glinster vlek om hulle te laat skitter nie?

Ná blomtyd, sny dit terug tot 10 cm en plant dit oor in 'n groter pot (as jy dit vir die patio wil hê) of plant dit in die tuin, waar dit tot 'n groot, spoggerige struik kan groei.

As tuinplante hou hulle van volson. Deur elke jaar ná blomtyd hard terug te snoei, kan jy die plant bosagtig hou en dit keer dat dit onaantreklik word.

  • Hou net in gedagte dat dit 'n euforbie is wat 'n melkerige gom afskei wanneer dit gesny word. Dit is 'n ernstige irritasie vir die oë en vel. Beskerm jou hande met handskoene en dra 'n bril om die oë te beskerm. Sny vroegoggend terug wanneer die sap laag is. Anthuriums se hartvormige blare en blink, rooi blomme is baie aantreklik. Benewens die tradisionele anthuriums met groot blomme, is daar 'n reeks mini-blom-anthuriums, waaronder in Kersrooi.

Die rooi mini's is perfek as tafeldekor, aangesien dit meer kompakte groeiende plante is. Hulle presteer goed met matige tot helder indirekte lig in 'n warm vertrek. In teenstelling met die ficus wat verwelk en hul blare laat afval wanneer dit rondgeskuif word, kan hierdie taai plante gebruik word waar jy hulle ook al plaas.

  • Hierdie baie vergewensgesinde plante het net een keer per week water nodig, of self minder as jy vergeet. Besprinkel hulle met water om die glans van hul blomme en blare uit te bring. Knolbegonias is 'n lewende blommerangskikking met hul gekrulde en gegolfde blomme. Dié plante benodig goeie lig in 'n helder vertrek, maar nie direkte sonlig nie, asook klammigheid, maar nie deurweekte grond nie. Gee elke pot twee keer per week 'n halwe koppie water, maar moenie dat die plante in water staan ??nie.
  • Ná Kersfees kan dit in 'n warm en beskutte, skaduryke plek in die tuin uitgeplant word. Daar is iets baie feesteliks aan die vet, rooi, trompetvormige blomme van amarillis. Maak dié plant 'n fokuspunt deur 'n paar daarvan met 'n groep kerse te rangskik of laat individuele blomme saam met kerse in 'n bak water dryf.

Hou dit uit direkte sonlig terwyl dit blom. Laat die boonste 5 cm grond uitdroog voordat jy dit natmaak. Wanneer die blomtyd verby is, laat die blare sterf, maar voed en maak nat om die bol te bou vir sy volgende blomtydperk. Sodra die plant begin groei, sit dit op 'n sonnige vensterbank en dit sal weer blom.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM