Plantbakke is eevoudige harde landskapelemente wat enige huis sal opkikker – en dis glad nie moeilik om te maak nie!
Projekgids
Harde werk 5/10
Vaardigheidsvlak
5/10
Tyd nodig
Omtrent vier uur
Klaar grootte
±600 (h) x 500 (b) x 500mm (d)
Maak dit self vir
±R680 (dennehout R380, skroewe en lym R80, onderlaag en verf R220; opsioneel: houtbeits en seëlaar R180)
Projeknotas
• Ons het 44 x 44mm-dennehout gebruik vir die raamwerk, 44 x 22mm-dennehout vir die sypanele, en 96 x 22mm-dennehout vir die boonste raam.
• Vir trefkrag het ons die ente van die lengtes wat vir die sypanele gebruik is, teen 45° gesaag om ’n eenvoudige patroon te skep (opsie A). Maar jy kan tyd en geld spaar deur bloot 352mm-lengtes horisontaal aan die raamwerk vas te sit (opsie B).
• Ons het die raamwerk geverf en toe die rande geskuur om ’n verweerde voorkoms te skep; die sypanele is gebeits. Jy kan jou plantbak twee verskillende kleure verf of selfs herwinde hout vir die sypanele gebruik.
Onthou, as jy onbehandelde hout gebruik, moet jy die hele oppervlak verf of vernis om te keer dat dit verweer.
Inkopielys
Raamwerk
• Een 2400 x 44 x 44mm-dennehoutlengte, gesaag in:
vier 600mm-lengtes (pote)
• Twee 1800 x 44 x 44mm-dennelengtes, gesaag in:
tien 352mm-lengtes (dwarsstutte)
• Een 1800 x 44 x 22mm-dennehoutplank, gesaag in:
vier 412mm-lengtes
Boonste raam
• Een 2400 x 96 x 22mm-dennehoutplank, gesaag in:
vier 500mm-lengtes
Sypanele
OPSIE A: Patroon
• Sewe 2400 x 44 x 22mm-dennehoutplanke, gesaag in:
ses en vyftig 292mm-lengtes
OPSIE B: Horisontaal
• Agt 1800 x 44 x 22mm-dennehoutplanke, gesaag in:
ses en dertig 352mm-lengtes
PLUS
• waterdigte houtlym
• 50mm-spaanderbordskroewe
• 60- en 120-grint-skuurpapier
• onderlaag en verf
• verfkwas of sponsroller
Gereedskap
• boor
• 3mm-boorpunt, versinkboorpunt
• tekendriehoek
• hoek-/verstekklamp
• potlood
• maatband
• verstekbak
• handsaag
So maak jy
1 Plaas die vier 600 x 44 x 44mm-lengtes langs mekaar en trek ’n lyn 44mm van die ente aan die een kant; meet en merk dan nog ’n 44mm-strook, 100mm van die ente af, aan die ander kant. Gebruik ’n tekendriehoek om seker te maak die lyne is loodreg.

http://tuis.co.za/wp-content/blogs.dir/1/files/2013/07/step1.jpg
2 Boor versinkte gidsgate in elke lengte, in die middel van die 44mm-stroke.
WENK Gebruik ’n kombinasie-versinkboorpunt wat ’n gidsgat gelyktydig boor én versink.

http://tuis.co.za/wp-content/blogs.dir/1/files/2013/07/step2.jpg
3 Maak twee dele van die raamwerk deur vier van die 352mm-lengtes tussen die 600mm-“pote” vas te sit; lym en skroef dit vas met spaanderbordskroewe. WENK Gebruik ’n hoek-/verstekklamp om die hoek 90° te hou terwyl jy die stukke aanmekaar sit.

http://tuis.co.za/wp-content/blogs.dir/1/files/2013/07/step3.jpg
4 Voltooi die raamwerk deur die ander vier 352mm-lengtes met spaanderbordskroewe vas te skroef by die 100m-lyne wat jy in stap 1 getrek het. Onthou om versinkte gidsgate te boor en maak seker jy posisioneer die gate effens bo of onder dié wat jy in die vorige stappe geboor het.

http://tuis.co.za/wp-content/blogs.dir/1/files/2013/07/step4.jpg
5 Skroef die orige twee 352mm-lengtes aan die onderkant van die raamwerk vas, soos aangedui.

http://tuis.co.za/wp-content/blogs.dir/1/files/2013/07/step5.jpg
6 Saag die lengtes vir die sypanele in die regte groottes en die ente teen die verlangde hoeke. Sit die stukke langs mekaar neer om die sypanele te skep – wend waterdigte houtlym aan die rande van elke stuk voor jy dit in posisie plaast. Sit nou ’n 412 x 44 x 22mm-lengte op die lasplekke (in die middel van elke sypaneel) vas.

http://tuis.co.za/wp-content/blogs.dir/1/files/2013/07/step6.jpg
7 Voltooi al vier sypanele en skroef dit van bo en onder af aan die raamwerk vas, soos aangedui; ons het die sypanele met 10mm ingelaat.

http://tuis.co.za/wp-content/blogs.dir/1/files/2013/07/step7.jpg
8 Gebruik ’n handsaag en verstekbak om die ente van die 500 x 96 x 22mm-lengtes teen 45° te saag. Sit dit as ’n raam bo-op die raamwerk vas, soos aangedui. Skuur die sypanele liggies; beits dan albei kante van die sypanele met ’n sagte lap en wend onderlaag met ’n kwas op al die raamdele aan. WENK Kleur gerus die onderlaag – dié kleur sal deur die bolaag sigbaar wees wanneer jy die rande skuur. Wag tot die onderlaag droog is en wend een of twee lae verf in ’n ander kleur aan; ons het ’n staalblou verf gekies. Rond die gebeitste sypanele met ’n helder mat seëlaar af. Skuur die rande van die raamwerk met 120-grint-skuurpapier en die plat oppervlakke met 60-grint-skuurpapier om die kleur(e) onder die bolaag te ontbloot; skuur totdat die onderlaag en selfs die hout plek-plek sigbaar is.

http://tuis.co.za/wp-content/blogs.dir/1/files/2013/07/step8.jpg

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6151/c5f0b9a23d53483f96d186b36c77c214.jpg













