Nina en Donald Brown se huis op die Kleine Zalze-gholflandgoed net buite Stellenbosch, in die skadu van die majestueuse Drakensteinberge, het die perfekte ligging vir die leefstyl wat hulle gekies het.
Hier leef, werk en speel hulle sedert 2007 saam met twee van hul drie kinders - Lisa en Donald Junior - in 'n ruimte vol natuurlike teksture en lig. Die Browns het voorheen suksesvolle kinderklere- en konsepwinkels gehad.
Nou is Donald by eiendomsontwikkeling en -belegging betrokke, terwyl Nina 'n persoonlike stilis is. En haar huis gee duidelik uitdrukking aan wie sy is.

Die vroulike vorm vind oral in die huis neerslag in beeldjies, lewensgroot gebosseleerde motiewe en beeldhouwerke.
Nina, wat al haar stempel afgedruk het as kunstenaar, projekbestuurder en binneversierder van haar eie huis, sê sy word besiel deur energieke, interessante mense.
Sy put inspirasie uit haar voorliefde vir reis, tydskrifte, die mode, kuns en haar kinders se bedrywighede. Sy's ook dol op al die moontlikhede wat die internet bied, en dis hier waar sy op verskillende vervaardigingsmetodes en -mediums - veral perspeks, een van die materiale wat sy die graagste in haar huis gebruik - afgekom het.

Nina aan die werk in haar ateljee
Nina gee praktiese wenke vir 'n neutrale kleurpalet:
- Moenie bang wees om dieselfde ontwerp oor en oor te gebruik nie - solank jy dit telkens op 'n vars manier doen.
- Neutrale kleure hoef nie vervelig te wees nie. Jy kan 'n wonderlike stemming skep deur net 'n tikkie glans of lig by te voeg.
- Vloerbeligting is iets besonders en as jy dit met 'n tekstuurverf soos Pandoma van Earthcote verf, kry dit 'n unieke trefkrag.
- Kies net twee soorte vloerbedekking, in kleure wat bymekaar aansluit, om die ruimte groter te laat voel.
- Jou huis moet jou persoonlikheid weerspieël. Kies een prentjie op jou stemmingbord wat presies pas by die voorkoms wat jy wil skep, en probeer
- om daardie spesifieke stemming vas te vang.

Nina se persoonlike stemmingsbord in haar ateljee













