Huis + tuin

Leerplan vir orde!

Maak ’n netjiese leer van herwinde hout en stal jou spoggerige skoenversameling daarop uit – of hang jou serpe of handdoeke daaroor.

tuis Mei 2014

PROJEKGIDS

Harde werk 2/10

Vaardigheidsvlak 6/10

Tyd nodig 3 uur

Klaar grootte 0,6 m (b) x 1,2 m (h)

Projeknotas

• Maak seker jou boorpunt is die regte grootte vir die tappen vir ’n stewige struktuur.

• Spandeer genoeg tyd aan noukeurige meet- en boorwerk.

• Teken die leer op jou vloer of tafel, indien moontlik, om die hoeke reg te kry.

Inkopielys

• twee 16 mm-tappenne van meranti (vir die sporte)

• twee 1,2 m-lengtes 38 x 76 mmhardehout (vir die style)

Plus

• houtlym

• 120-, 220- en 320-grint-skuurpapier

Gereedskap

• boor

• 16 mm- plat boorpunt

• potlood

• maatband

• hamer

• groot tekendriehoek

• houtsaag

Saaglys

Sorg dat die twee 38 x 76 mm-style presies 1,2 m lank is

Saag die tappenne in lengtes van 490 mm, 422 mm, 375 mm, 327 mm en 260 mm

So maak jy

1. Maak die style. Gebruik ’n verdiepskaaf om die hoeke rond af te werk, maar ’n stukkie skuurpapier op ’n houtblokkie sal ook werk.

2. Begin 224 mm van “onder” af en merk die posisies vir die sporte 224 mm uitmekaar op die style; daar behoort uiteindelik sowat 50 mm aan die bokant oor te wees. Trek dié merke op albei style af en merk ook die middelpunt van elke styl oor die breedte.

3. Boor die gate teen ’n hoek van 7° (of 83°, afhangende van hoe jy meet). Merk die boorpunt met ’n swart merkpen sodat jy net 10 mm diep boor.

4. Sit aanmekaar. Wend houtlym op die punte van die tappenne aan en druk hulle in die korrekte volgorde (langste onder) in die gate van een styl; herhaal met die ander styl. Tik liggies met ’n hamer en gee die lym kans om droog te word. Ter afronding: Skuur met 120-, 220- en laastens 320-grint-skuurpapier. Vernis of wend ’n mineraalolie aan om die kleur van die hout uit te bring.

Shané Barnard

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM