Huis + tuin

Lesertuin: ’n Plan kry vorm in Bloemfontein

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sharon het hierdie rustieke tafel onder die lemoenboom geplaas sodat sy heeljaar in sy skaduwee kan werk terwyl sy plante verpot.
Sharon het hierdie rustieke tafel onder die lemoenboom geplaas sodat sy heeljaar in sy skaduwee kan werk terwyl sy plante verpot.

WIE WOON HIER? Wilf en Sharon Walker, en hul kat, Noddy

WAAR Spitskop, Bloemfontein

GROOTTE VAN EIENDOM 2,1 ha (tuin: 2 000 m²)

OUDERDOM VAN TUIN 25 jaar

GRONDTIPE Rooi sandgrond

Sharon Walker. Foto: Christoph Hoffmann
Sharon Walker. Foto: Christoph Hoffmann

"My tuin het nog altyd my siel gevoed en my laat glimlag, ongeag watter vorm dit die afgelope 25 jaar aangeneem het," vertel die landskapontwerper Sharon Walker.

En voorwaar, die Walkers se tuin het oor die jare al verskeie veranderings ondergaan.

Toe hulle hier op die kleinhoewe ingetrek het, was dit geensins die apploustrekker wat dit vandag is nie.

Die uitsig van die prieel na die huis. Die bedding in die voorgrond het 'n geel tema met Inkalelies (Alstroemeria aurea) in die lente, daglelies (Hemerocallis) in die somer en geel vuurpyle (Kniphofia) in die herfs. 'n Ry sementballe kontrasteer met die vierkantige vorm van die voëlbadjie, wat van die huis af te sien is. Foto: Christoph Hoffmann

"Die tuin het destyds grootliks bestaan uit 'n kikoejoe-grasperk, verskillende vrugtebome hier en daar en enkele gevestigde bome, meestal witstinkhout," onthou Sharon. "En dit was omtrent al."

Een geluk was dat die tuin taamlik gelyk was, maar die grootste bates op die eiendom in die warm, droë Vrystaat was twee sterk boorgate.

Omdat hulle in die middel van die warm en droë Vrystaat woon, geniet waterwyse keuses voorrang in Sharon se tuin. "Ons hou altyd die klimaat in gedagte wanneer ons iets nuuts kies. Die meeste plante in my tuin is gehard en vra nie baie water nie. Dié wat wel dorstig is, soos die krismisrose, sit ek in potte in skaduryke dele waar ek hulle spesiale aandag kan gee," vertel sy. Hierdie deel langs die huis, wat oorspronklik vir 'n plonspoel gebruik sou word, is nou 'n treffende voorbeeld van hoe jy plaveistene met gruis en klippies kan kombineer. Heel agter is rame oortrek met sterjasmyn wat in blokke gesnoei is. "Alles - van die lemoenboom tot die heining van gewone buksboom - is immergroen," sê Sharon. Foto: Christoph Hoffmann

"Ons het besef dat ons die tuin van ons drome daarmee sou kon skep," sê Wilf, wat Sharon se entoesiasme vir tuinmaak deel. Tog is die Walkers altyd bedag op hoe hulle dié water benut.

In droogtetye maak hulle die tuin kleiner sodat dit die minimum water vereis, en as dit kom reën, brei hulle net weer uit.

Die beginjare

Uit die sitkamer maak skuifdeure oop op dié prieel aan die westekant van die huis. "Die wingerd wat daaroor groei, is 'n ou katôba-druif wat ons geërf het toe ons hier ingetrek het," vertel Sharon. Regs het sy 'n bedding met ‘Iceberg'-rose en aronskelke (Zantedeschia aethiopica) aangelê. Foto: Christoph Hoffmann

Die Walkers se seuns was destyds nog klein, daarom het 'n kindervriendelike tuin met 'n krieketkolfblad, trampolien en fietsryroete in daardie stadium sin gemaak.

"Ons het ook baie bome soos olienhout en riviervaderlandswilg (Combretum erythrophyllum) geplant vir meer skaduwee. Ek is in Ierland gebore en kry maar swaar in die hitte," sê Sharon.

Die seuns het later nuwe belangstellings ontwikkel en selfs hul eie verfbal- en skaatsbaan op ander dele van die kleinhoewe aangelê (een van hulle bou nou professionele skaatsparke in Europa).

Dit het Sharon die geleentheid gegee om die tuin na haar smaak en styl te verander.

Vanaf die lente gee pronkertjies die bedding nog meer kleur, net soos die waterwyse breëblaar-dyckia se lang stele wat tussen hulle uittroon. "Dis my gunstelingblom," sê sy. "Stokrose en vingerhoedjies sou beslis nie goed aard hier in die hitte nie, daarom het ek dié geharde plant gekies om hoogte te skep. Daar is variëteite met groen en ander met bronskleurige blare, wat kleur gee aan die tuin - selfs wanneer hulle nie blom nie." Foto: Christoph Hoffmann

Terwyl haar kinders klein was, het dié opgeleide onderwyser 'n liefde vir tuinmaak ontwikkel en 'n tuinontwerpkursus by die Pretoriase Technikon gevolg.

Toe hulle later Bloemfontein toe trek, het sy 'n kwekery gekoop en haar eie landskapbesigheid begin.

Bougainvillea. Foto: Christoph Hoffmann
Bougainvillea. Foto: Christoph Hoffmann

Haar volgende stap was die School of Gardening, wat kursusse in tuinontwerp aanbied (kursusse kan ook in Knysna gevolg word, en aanlyn kursusse word beplan). Dit alles het natuurlik groot inspirasie vir die ontwerp en uitleg van haar eie tuin gebied.

Kombersblom (Gaillardia pulchella). Foto: Christoph Hoffmann
Kombersblom (Gaillardia pulchella). Foto: Christoph Hoffmann

"Ek wou die idees uit my lesings in die praktyk toepas. Ek is baie lief vir lyn en struktuur, en wou my studente wys watter waarde dit vir 'n tuin inhou. Dit gaan nie net oor plante nie."

Wyer horisonne

Sharon het LM-gras in die skadu en kikoejoe in sonnige dele geplant. Sy het ook 'n paadjie na haar tuinskool en die SmartStone-toonlokaal aangelê met plaveiblokke. "Dis so maklik om te onderhou, en die rande hoef net twee keer elke jaar netjies gesny te word," sê sy. Foto: Christoph Hoffmann

Toe Wilf 'n pakket moes neem en Sharon gesukkel het om die dekoratiewe plaveiselmateriaal wat sy vir haar tuinontwerpe nodig gehad het, plaaslik te bekom, het die paartjie besluit om 'n SmartStone-plaveiselsaak te begin op hul kleinhoewe, waar die toonlokaal ook vandag is.

Sharon glo dat 'n kombinasie van verskillende vorms trefkrag gee aan 'n tuin. Foto: Christoph Hoffmann
Sharon glo dat 'n kombinasie van verskillende vorms trefkrag gee aan 'n tuin. Foto: Christoph Hoffmann

"Die onderneming het die laaste twee dekades baie goed gevaar," sê Sharon. "En dis so gerieflik vir my, omdat ek presies dit wat ek nodig het, op die eiendom kan kry."

Sharon het haar idees aanvanklik rondom die huis begin uitvoer en van daar af verder gewerk.

"Teen daardie tyd het ons die vrugtebome minder gemaak ter wille van meer hanteerbare oeste, maar 'n appelkoos- en 'n lemoenboom langs die huis behou."

Die Walkers het een van die oorspronklike appelkoosbome behou - dit dra steeds vrugte! Foto: Christoph Hoffmann
Die Walkers het een van die oorspronklike appelkoosbome behou - dit dra steeds vrugte! Foto: Christoph Hoffmann

En hoewel elke ruimte sy eie persoonlikheid het, skakel almal met mekaar danksy soortgelyke plante, heinings en plaveisel.

Graspaadjies en plaveiblokke in die gras lei jou op 'n natuurlike wyse van een deel na die volgende.

Sharon gebruik graag kurwes en reguit lyne saam en het gesnoeide heinings van gewone buksboom en duinekraaibessie gekombineer met 'n sirkel van plaveisel en klippies. Foto: Christoph Hoffmann
Sharon gebruik graag kurwes en reguit lyne saam en het gesnoeide heinings van gewone buksboom en duinekraaibessie gekombineer met 'n sirkel van plaveisel en klippies. Foto: Christoph Hoffmann

"Lyn en vorm is uiters belangrik in tuinontwerp," sê Sharon, medeskrywer van die boek Making Sense of Garden Design (Briza).

Vormgesnoeide Australiese jamboes (Syzygium paniculatum) staan op aandag tussen Madeira-klimop wat oor metaalballe rank. Die grasperkrand is afgerond met mondogras (Ophiopogon japonicus). Foto: Christoph Hoffmann

"In my klasse demonstreer ek graag hoe jy reguit lyne en kurwes in 'n tuin kan kombineer. Ek sê altyd: ‘As dit jou gelukkig maak, doen dit.' Daar's nie so iets soos die tuinpolisie nie."

Sharon kies graag dié waterwys plante

Heinings

• Gewone buksboom (Buxus sempervirens)

• Waterberg-heuningklokkies (Freylinia tropica)*

• Witolien (Buddleja saligna)*

Struike

• Berberisbos (Berberis thunbergii)

• Duinekraaibessie (Searsia crenata)*

• Heilige bamboes (Nandina domestica en N. d. ‘Pygmaea')

• Herfssalie (Salvia greggii ‘Red Surprise')

• Soutbos (Rhagodia hastata)

Bome

• Olienhout (Olea europaea subsp. africana)*

• Trots-van-Indië (Lagerstroemia indica)

• Witstinkhout (Celtis africana)*

Rankers

• Blousyselbos (Plumbago auriculata)*

• Kanarieklimop (Senecio tamoides)*

• Sterjasmyn (Trachelospermum jasminoides)

Grondbedekkers

• Dyckia platyphylla

• Fynblaarplakkie (Crassula expansa)*

• Lomandra tanika

• Spekboom (Portulacaria afra)*

* inheems

Struktuur kraai koning

Hier het sy 'n ry doringdraad-keëls, Madeira-klimop (Hedera canariensis)* wat oor balvormige metaalrame rank, langwerpige plaveiblokke en heinings van sterjasmyn gekombineer. *Madeira-klimop is as Kategorie 3-indringer in KZN verklaar. Foto: Christoph Hoffmann

Wil jy graag paadjies en sitplek skep wat struktuur, tekstuur en vorm aan jou tuin gee? Volg dan hierdie raad van Sharon:

  • Soliede plaveisel kan wel 'n goeie oplossing wees vir inritte en stoepe, maar dis nie oral in die tuin wenslik nie. Eerstens weerkaats dit hitte, wat die omgewing warmer maak en plante laat uitdroog. Wanneer dit reën, kan dit heelwat afloopwater na stormwaterpype lei, wat oorstromings kan veroorsaak. Verder ontneem dit ook die grond daaronder van water.
  • Vermy bogenoemde probleme en maak jou tuin interessanter deur plaveistene te kombineer met ekovriendeliker materiale soos plat klippe, hout- of sementdwarslêers, dekplanke van natuurlike of saamgestelde hout, gebreekte klip, skanskorwe, gruis en klippies. Sorg dat daar tussen die onderskeie materiale plek is vir dreinering sodat reënwater die grond kan indring.
"Hier het ek klippies en gruis gebruik, met keisteenrande wat die los klip op hul plek hou," sê Sharon. Die verhewe bedding gemaak van randstene in die middel is waar sy met plante eksperimenteer. Foto: Christoph Hoffmann

  • Vul hierdie dreineerruimtes met laaggroeiende plante soos tapytmadeliefie (Dymondia margaretae) of, indien dit 'n wyer spasie is, Crassula expansa; dit sal 'n verkoelende uitwerking hê. Kunsgras is ook baie doeltreffend. Kies een waarvan die halms minstens 30 mm lank is, sodat dit 'n skadu-effek skep wat donkerder en koeler lyk. Ronde klippies wat oor onkruidmat tussen plaveistene gelê word, skep lieflike tekstuurkontras en is perfek vir dele wat heeldag volson kry.
  • Vermy fel enkelskakerings wanneer jy die kleure vir paadjies en sitplek oorweeg. Kies liewer sagte skakerings wat ineenvloei en die natuur naboots. Hou die kleure van jou huis se dak en mure in gedagte en kies plaveiselmateriaal wat dit komplementeer.
  • Wanneer jy 'n paadjie of dekoratiewe plaveiselontwerp uitlê, moet jy die oppervlak so gelyk moontlik maak. Dit hoef nie perfek waterpas te wees nie - soms moet jy die natuurlike vloei van die grond volg. Sorg net dat dit nagenoeg gelyk is en water weglei van die huis se fondamente.
Sharon het die pilare tussen die traliewerk van klip en maasdraad gemaak. "As jy 'n plastiekpyp in die middel plaas voor jy dit rondom opvul, het jy minder klippies nodig. Maak seker jy het genoeg draad om die pilaar onderlangs stewig toe te hou sodat die klip nie uitrol nie," is haar raad. Foto: Christoph Hoffmann

  • As jy los klip of ornamentele gruis wil gebruik, is dit noodsaaklik dat jy 'n onkruidmat daaronder plaas. Hou die mat op sy plek deur stukkies draad in die vorm van groot kramme te buig en dit plek-plek deur die mat in die grond te druk. Skep rande om die klippies op hul plek te hou: Bou 'n fondasie van sowat 50 mm diep (gebruik 'n klaar betonmengsel) en lê klein keistene (sowat 110 x 110 mm) daarin. Ook as jy kunsgras gebruik, is 'n soortgelyke afwerking nuttig om die gesnyde rande weg te steek.
Pronkertjies. Foto: Christoph Hoffmann
Pronkertjies. Foto: Christoph Hoffmann

KONTAK Sharon Walker School of Gardening 082 796 6615, schoolofgardening@gmail.com

VERSKAFFERS

SmartStone | SmartStone Bloemfontein 079 527 2521 | bloemfontein@smartstone.co.za

http://schoolofgardening@gmail.com

Mary Jane Harris

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM