Is hierdie ’n Mission Morris-stoel, en hoeveel sou dit werd wees?


Jo-Marie Rabe, historikus en mede-eienaar van Piér Rabe Antiques,antwoord: Die stoel is inderdaad ’n Morris-stoel; dit is vernoem na die Engelse ontwerper William Morris (1834–1896), die vader van die Engelse Arts and Craftsbeweging. Sy maatskappy, Morris & Co., het dié stoel rondom 1866 begin vervaardig. Morris het nie die stoel ontwerp nie; volgens bronne was dit ene Ephraim Colman van Sussex. Morris was nie die enigste meubelmaker wat deur dié stoel geïnspireer is nie. Die Amerikaner Gustav Stickley se stoele, wat soortgelyk is, is ook deur Colman se oorspronklike ontwerp beïnvloed. Die herkenbaarste eienskap van die Morris-stoel is die rug wat met ’n skarnier aan die sitplek geheg is. ’n Reeks kepe of penne agter maak die rugleuning verstelbaar, en so word die regop stoel ’n leunstoel. Die breë armleuning en latte in die sye is nog twee stylkenmerke van dié stoel. Morris-stoele word vandag nog gemaak en is baie gewild, ook in Suid-Afrika. André se stoel is heel moontlik plaaslik vervaardig. Die spesifieke manier waarop die pote afgeplat is laat my dink dit kom uit die 1940’s. Volgens die foto lyk die hout na ingevoerde mahonie.
OUDERDOM Circa 1940’s
WAARDE R2 500–R3 500













