Huis + tuin

Miniwoude

As jy aan ’n woud dink, kom beelde van wandelinge onder hoë bome, die reuk van klam grond, en vars, skoon lug in jou gedagtes op. Soos baie stedelinge reeds ontdek het, hoef jy nie ’n groot landgoed te besit om die weelde van ’n woud in jou tuin te geniet nie. ’n Miniwoud verg min instandhouding en as jy bome plant wat natuurlik in jou streek voorkom, hoef jy hulle nie baie water te gee nie.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6137/61fa2ffcb7234c3a95f15f00ba442e75.jpg

Op jou werf

Plant ’n miniwoud waardeur kuiermense van die tuinhekkie tot by die voordeur kan loop, of in ’n stil hoekie waar jy kan ontspan; in jou agterplaas vir die voëls plant dan bome wat bessies of vrugte dra); in nou gangetjies tussen jou huis en die grensmuur of as ’n fokuspunt in jou tuin. Vir laasgenoemde kan jy so min as vyf tot sewe bome saam groepeer; klein boomvariëteite lyk pragtig as jy een soort digby mekaar plant – soos in die natuur. Daar is nie wandelpaadjies tussen bome in ’n fokuswoud nie. Plant altyd ’n onewe getal bome in ’n groep – dit lyk eenvoudig natuurliker.

So maak jy

Basis Plant grondbedekkers. Maak paadjies tussen die bome met trapklippe, gruis, klein klippies, boombas, grondboon- of makadamia-doppe of perskepitte. Dekoratiewe elemente ’n Hoekie met ’n bankie is ’n moet, asook ’n paar voëlvoerders. Hou die voorkoms natuurlik en eenvoudig met boomstompe en klippe wat strategies geplaas is. Lok voëls deur inheemse grassoorte onder die bome te plant, ’n voëlbadjie tussenin neer te sit en ’n paar houtkapperneste teen die bome aan te bring sodra die stamme dik genoeg is. En hang ’n hangmat of twee tussen die stamme vir die toppunt van ontspanning!

Plantlys

Klein tot middelslag-bome

Inheems

• Henkel-se-geelhout (Podocarpus henkelii)

• Luiperdboom (Caesalpinia ferrea)

• Nieshout (Ptaeroxylon obliquum)

• Gewone drolpeer (Dombeya rotundifolia)

• Bosvaderlandswilg (Combretum kraussii)

Uitheems

• Silwerberk (Betula pendula)

• Bauhinia blakeana

• Blompruim (Prunus cerasifera)

• Australiese jamboes (Syzygium paniculatum)

• Blomappel (Malus x scheideckeri)

• Goue melaleuca (Melaleuca bracteata ‘Johannesburg Gold’)

• Olyfboom (Olea europaea)

• Amberboom (Liquidambar styraciflua)

• Chinese esdoring (Acer buergerianum)

• Blomkersie (Prunus x blireana)

• Blomperske (Prunus persica)

• Japanse blomappel (Malus floribunda)

Wenk Koop die grootste bome wat jy kan bekostig, sodat jy nie jare hoef te wag voor jy jou woudtuin kan geniet nie. En moenie afskeep met die voorbereiding van jou plantgate nie: ’n Dubbele hand vol beenmeel gemeng met ’n sak kompos per boom sal dit die nodige voorsprong gee om vinniger te vestig en te groei.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6137/feab888089c64479bf349dee8aba25b1.jpg

Shané Barnard

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM