Huis + tuin

Modieuse dekor

Lief vir die jongste modes, maar weet nie hoe om jou persoonlike styl by jou dekor te inkorporeer nie? Ons het twee byderwetse uitrustings as inspirasie gebruik om treffende dekorskemas te skep.

Ouwêreldse bekoring

Hierdie lieflike Wang-rok van Klûk CGDT sê: Jy koester jou natuurlike skoonheid, waardeer kosbaarhede uit die verlede en leef jou romantiese geaardheid uit met sagte tekstuur en kleur. Jy’t net ’n titsel van die moderne nodig om jou jeugdigheid te bevestig.

Bou jou dekor op ’n stewige, aardse basis met natuurlike sementmure, gladgeskuur en met Hydrout XL van Midas geseël. Die afgevlakte vloer is met ’n onderlaag geseël om die kleur te bewaar, en daarna met twee lae Acrithane Matt Clear van Midas afgerond. Houtinlegsels gee trefkrag en sal keer dat die vlaklaag kraak.

Die rondings van ’n treffende bed van Block & Chisel, ’n weelderige skerm en antieke laaikas eggo die vloeiende lyne van jou gunsteling-uitrustings, terwyl moderne badkamertoebehore en ’n lineêre sytafeltjie van LIM as vars inspuitings dien (selfs die laaikas is met Plascon se Candles Glowing Pink opgedollie).

As daar pêrels in jou juwelekissie is, sal vergulde afwerking in jou meubels en gewyde ikone teen jou mure tuis voel.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6156/aa2b96d980c240d8b51de4985bb1de82.jpg

Kies groen!

’n Smaraggroen rok met natuurlike valle van Klûk CGDT weerspieël ’n onopgesmukte aardsheid wat geen tierlantyntjies nodig het om treffend te wees nie. Leef dit ook uit in jou dekor!

Die spierwit agtergrond is ideaal vir ’n tuin vertrek in skakerings van groen. Hier herhaal die botaniese patrone op die stoffering en die plakpapier, albei van St. Leger & Viney, die natuur daarbuite. Die gestreepte rusbank van Mavromac en die wit gordyne van St. Leger & Viney eggo die lig wat deur die vensters en daklig instroom, met dieselfde lugtigheid as die fyn diamanté-armband. Die unieke konsoletafel en staanlampe is op bestelling gemaak deur Hot Cocoa.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6156/c2048f71797c4c28b785b9f43abeb601.jpg

As dit kom by ontwerp, geld die reël: Dra dit vandag, sit môre daarop! – Andrea Ford, Kanadese ontwerper/stilis

Shané Barnard

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM