Lise-Marie Fogwell skryf: Ons het onlangs van ’n droë Pretoria na ’n uiters humiede Durban verhuis en het nou al ’n paar keer muf op verskillende plekke in die huis opgemerk. Dit kom selfs op die bamboesblindings en op ’n matras voor. Het julle enige raad hoe ek daarvan ontslae kan raak, hoe ek die materiaal waarop dit voorkom kan skoonmaak en moontlik hierdie oppervlakke kan behandel sodat dit nie weer gebeur nie?
Amanda van Wyngaardt antwoord: Muf in die huis lyk nie net sleg nie, dis ook skadelik vir jou gesondheid. Mediese navorsing het ’n verband tussen muf en stofmyte in die huis, en keel- en longkwale gevind. Klammigheid wat deur kondensasie veroorsaak word kan ook pleisterwerk en houtvensterrame beskadig. Gaan maak gerus ’n draai by Mica in Durban; hulle hou ’n produk genaamd “Mouldbuster” aan wat jy op mure kan gebruik en, volgens hulle, ook op jou blindings. Bel hulle by 031 566 3650. Muwwerige mure moet ook met ’n swamwerende verf behandel word. Vee vensters, rame en ander areas wat aangetas is af met ’n lap wat in vloeibare swamdoder gedoop is. Maak seker dat jy die vervaardiger se aanwysings noukeurig volg. Laat klere wat deur meeldou aangetas is droogskoonmaak en sjampoe muwwe matte. Ná behandeling kan aangetaste vertrekke weer versier word met ’n swamwerende verf van goeie gehalte. Waar moontlik, verwyder voering- en plakpapier, behandel die pleister en verf of plak die mure.
Volgens www.avertdisasters.org kan jy skimmel só van materiaal verwyder:
• Borsel los skimmel van die buiteoortreksel af. Doen dit buite sodat jy nie die skimmel in die huis versprei nie.
• Stofsuig die oppervlak. Gooi die stofsuiersak buite weg, om te verhoed dat jy spore daarvan in die huis vrylaat.
• Waar skimmel op wasbare materiaal bly sit, kan jy dit liggies met ’n dik seep- of reinigerskuim afspons. Vee met ’n skoon, klam lap af. Probeer om nie die stopsel te laat nat word nie.
• As niks anders help nie, vee die item af met ’n klam lap wat in verdunde alcohol (een koppie gedenatureerde alkohol op een koppie water) of ’n chloorbleikmiddel (’n kwartteelepel bleikmiddel op ’n koppie water) gedoop is. Toets eers op ’n onopsigtelike deel van die item.
• Maak die artikel deeglik droog.
• Gebruik swamdoder in ’n laedrukspuit om van muwwe reuke en enige hardnekkige skimmel ontslae te raak. Maak alle oppervlakke goed nat daarmee. Spuit gereeld as die skimmel nie wil weggaan nie.












