Huis + tuin

’n Lesertuin gekweek uit steggies

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

In Maya se groot en natuurlike tuin het sy baie plante wat met min moeite groei, soos bitteraalwyne wat sy van babaplantjies gekweek het en Spaanse laventel. Die laventel word nooit gesnoei nie en is 'n gunsteling-blyplek vir verkleurmannetjies.

WIE WOON HIER? Maya en Jean Pierre Pellissier en hul twee tienerkinders

WAAR Klipkop, Grabouw

GROOTTE VAN TUIN 1,5 hektaar

GRONDTIPE Sanderig met baie klip

Salies soos Salvia leucantha en Salvia splendens ‘Van Houttei' blom oorvloedig in die herfs.

"Ek is heeltyd besig om steggies te maak. Selfs my huis staan vol van hulle!" vertel Maya Pellissier.

En met dié steggies maak sy tuin in Klipkop, 'n woonbuurt in Grabouw. "Ek koop nooit blomme nie, maar pluk loof, aalwyne en takke vir glaspotte in die huis. Dié wat wortelskiet, plant ek weer."

Met 1,5 hektaar tot haar beskikking is daar altyd plek vir meer. "In so 'n groot tuin het jy baie plante nodig. Omdat dit onmoontlik is om genoeg te koop, maak ek steggies van als wat in my tuin groei. Gelukkig maak almal hier in Klipkop graag tuin en ruil ons steggies en plante uit. Ek hoef nooit na 'n kwekery toe te gaan nie; hier is oorgenoeg ander tuiniers en plase in die omgewing met alles wat ons nodig het."

Maya en haar man, Jean Pierre, het in 2004 hier ingetrek. Daar was min tuin en baie indringerplante. Hulle het begin deur rondom die huis oop te sny vir meer son in die winter, die stroompie wat deur die erf loop, skoon te maak en die inrit na die huis te verander.

"Omdat die erf so groot is, het die vorige eienaar op net sowat 'n kwart daarvan tuingemaak," onhou sy. "Die res het hy wild gelos. Dit het baie lank geneem om dit in 'n tuin te omskep. Die wattelbome teen die rivier moes uit en omdat dié indringer ook buite die erf groei en homself saai, het ons seker vier jaar daarna nog saailinge uitgetrek.

"Elke Saterdag het ons gewerk tot ons lê!" vertel Maya. "Charles Welkom en Ntontoni Ntyotyo, twee staatmakers wat ongelooflik hard kan werk, het ons gehelp. Tussendeur het hulle ook nog ons kinders in kruiwaens rondgestoot! Die tuin is nou gevestig, maar af en toe, as daar te veel werk is vir Augasten Mwenda wat een keer 'n week inkom, kom gee hulle steeds hand."

Paadjies verbind die onderskeie dele van die tuin.

Feitlik enigiets wat sy in haar tuin kry, word as versiering gebruik. Hier het Maya met takke 'n natuurlike dak vir die tafel geprakseer.

Rosie op 'n drafstap deur die skadutuin waar onder meer spoorsalies en boslelies groei.

Steggiedag

Wat is nou beter as 'n steggiedag waar jy na hartelus plante kan uitruil? Dit is presies wat die lede van die plaaslike tuinbouklub waaraan Maya behoort, doen.

"Ons het in Augustus 2017 ons eerste steggiedag gehou. Almal hier by ons het groot tuine en het altyd plante nodig. Net so het almal ook baie plante waarvan hulle kan steggies maak en kan ruil. Dan kom almal bymekaar in een tuin waar hulle hul steggies sommer in hope neersit vir selfhelp, of 'n hele pol plante staanmaak sodat elkeen met 'n graaf 'n stukkie kan afsteek. En as daar nie genoeg is nie, gaan haal jy nog in jou tuin en ruil verder uit.

"Verlede jaar is steggiedag by my gehou. Meer as 50 tuiniers het dit bygewoon en elke lid van die tuinbouklub kon 'n gas saambring. Teen die einde van die dag was daar nie 'n plantjie oor nie. Boonop het ons heerlik saamgekuier. My groot kombuistafel het gekreun onder die koek en daar het min van oorgebly! Dit was 'n fantastiese tuindag."

Ek raak verlief op 'n soort plant en begin dan al die kleure en soorte daarvan bymekaarmaak. - Maya

Maya se tuinwenke

  • Moet niks weggooi nie. Jy kan alles in jou tuin herwin en weer iewers gebruik. Ek gebruik takke wat ek afsny om oprankstrukture vir my ertjies te maak. En pleks van tou om die takke draai vir vasmaakplek, het ek jasmyn wat te wild groei, afgesny en deur die houttoring gevleg. Rankplante is net so taai en sterk soos tou.
  • Die jong latte van Australiese jamboes (Syzygium paniculatum), veral aan die boonste takke, is sag en buigbaar. Ons het dit deur ogiesdraad geryg om 'n heining tussen ons en die bure toe te maak. Met verloop van tyd word die takke droog en hard, en dit lyk baie mooier as net die draadheining. Die beste van alles is dat die honde aan weerskante van die draad mekaar nie meer kan sien nie en hulle blaf nou minder!
  • Maak steggies van alles waarvan jy kan en maak genoeg van 'n soort. Ek is baie gelukkig - my steggies groei net. Ek druk niks in hormoonpoeier nie en sit tot vyf steggies in 'n potjie met gewone tuingrond. Plant dit later uit in jou tuin of verruil dit vir iets anders.
  • Moenie jou tuin onnodig omspit nie. Daar is soveel saadjies wat opkom wat jy dan uitspit.
  • Ons hark glad nie die bladwisselende bome se blare wat in die beddings val op nie. Los dit net so vir 'n natuurlike deklaag in die somer.
  • Ons gooi die grassnysels en ander tuinafval wat nie na die komposhope toe gaan nie in die paadjies wat deur die tuin loop. Dit vorm 'n mooi natuurlike loopoppervlak.
  • Maak jou eie kompos. Hier is vyf komposhope, elk omtrent vier tot vyf meter lank, waarin al die geskikte tuinafval gaan. Perde- en hoendermis word daarby ingemeng. Erdwurmkompos en -tee is natuurlik ook fantasties. Ek het 'n 200-liter-houer hiervan en gebruik dit vir potte en spesiale plante.

1 Vingerhoedjie, 2 Lintbos, 3 Maya in haar groentetuin.

Maya se Gunstelinge

Dis moeilik om gunstelinge te kies - daar's te veel om op te noem! Ek gooi ook nie maklik 'n plant weg nie en sal altyd 'n gaatjie daarvoor kry; of dit gaan na 'n pot in my "kwekery". Dié is net 'n paar wat my baie na aan die hart lê:

  • Suurvygies wat bye lok en kaal kolle vinnig toegroei.
  • Lintbos, 'n staatmaker in die skaduwee.
  • Aalwyne, wat maklik meer word.
  • Gazanias en vygies vir kleur.
  • Fynbos soos speldekussings (Leucospermum), tolbosse (Leucadendron) en die koningsuikerbos (Protea cynaroides) wat elke jaar soveel blomme dra. Ek gee die reuseblomme weg as geskenke.

Groente soos spinasie, blaarslaai en tamaties groei saam met die ‘Blossom Magic'-roos - een van die min rose wat Maya nog in die tuin het.

Daar is altyd steggies iewers aan die groei!

Saam met die natuur

Maya het nie die tuin vooraf beplan nie, maar eenvoudig van 'n kant af begin - van die inrit af agtertoe. "Aan die begin het ek soveel foute gemaak. Ons moes menigmaal 'n bedding skuif of oorbegin omdat ons op 'n klipbank afgekom het. My man het al gesê hy gaan die plante op wiele sit, want ek skuif dit so baie rond!

"Ek moes ook aan die klimaat gewoond raak. Dit kan in die winter baie koud en nat wees met ryp en 'n reënval van meer as 1 000 mm per jaar. Tussen 50 en 100 van my rose het verdrink; daarom plant ek nou glad nie meer rose nie. Ek maak ook nie fyntuin nie, maar plant massas van alles. Agapante, plakkies, aalwyne en bolplante soos Chasmanthe is regtig staatmakers in so 'n groot tuin. En baie van die mooi klippe op die erf word deel van die tuin; die meeste is in elk geval te groot om weg te ry.

"My tuin is nie netjies nie. Ek hou van 'n natuurlike tuin. 'n Vriendin het vir my vyf papiersakke vol papawersaad gegee - van daardie perses met die groot blomkoppe. Ek het hande vol daarvan gesaai," vertel sy. "My groentetuin is ook 'n bietjie deurmekaar. Ek kweek groente en kruie soos spinasie, tamaties, rissies, rabarber, artisjokke, roosmaryn, marjolein en origanum, wat ek baie gebruik. Al die saailinge wat opkom, los ek om te groei waar hulle wil. Ek sukkel regtig om dit uit te trek. Sulke plantjies is die sterkste. Skuif jy dit, groei dit nie meer so goed nie. Die wilderoket kom selfs tussen die plaveisel op en smaak heerlik. Vanjaar het dit ook behoorlik grenadellas gereën! Ons het baddens vol opgetel. Ek kon nie eens weggee nie, want almal in Klipkop het self so baie daarvan!

"Ek is mal oor my tuin en hou van al die aspekte van tuinmaak. Om steggies te maak en uit te deel, om te snoei, te saai en te oes is heerlik. Maar om ná die reën onkruid uit te trek bly vir my die heel lekkerste!"

Papawers

Spoorsalie (Plectranthus zuluensis)

Salies soos Salvia leucantha en Salvia splendens ‘Van Houttei' blom oorvloedig in die herfs.

Verskeie vetplante

Rankaalwyn (Aloe gracilis)

Waaieraalwyn (Kumara plicatilis)

Spoorsalie (Plectranthus fruticosus)

Staatmakers in haar tuin

  • Aalwyne soos die kransaalwyn (Aloe arborescens ‘Eloff' en A. arborescens ‘Pearson') en die klein tarentaalaalwyn (Aristaloe aristata).
  • Spoorsalies (Plectranthus) in die skadukolle.
  • Salies in enige kleur.
  • Plakkies (Cotyledon orbiculata) in massas.
  • Rankplante soos Chinese jasmyn (Jasminum polyanthum), swartoognooi (Thunbergia alata); en natuurlik my grenadellas!
  • Struike soos die Kaapse mei (Spiraea cantoniensis), lintbos (Hypoestes aristata) en aasbossie (Coleonema album). Ook vlierbessies (Sambucus nigra) wat soos onkruid opkom.
  • Hier's baie bome, heelparty bladwisselend, soos die amberboom (Liquidambar styraciflua), gewone plataan (Platanus x acerifolia), witstinkhout (Celtis africana) en watereik (Quercus nigra).
  • Staatmakers wat hulself saai en min aandag vra: laventel, vergeet-my-nietjies, papawers, rankvingerhoedjies, blou syselbos, rooi brakvygie, agapante, bosplakkie, aronskelke, Kaapse kanferfoelie, hen-en-kuikens, Septemberbossie, aalwyne, vingerhoedjies, bolle soos Chasmanthe aethiopica en C. floribunda, en baie van die groentesoorte.
Marié Esterhuyse

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM