Maak ’n speelse buffet met baie bêreplek en tonne persoonlikheid.

Projeknotas
• Die buffet bestaan uit ’n basisraam waarop ’n boks gemonteer word waarin die kratte pas.
• Laat jou houthandelaar jou Supawood klaar in die regte groottes saag om tyd te spaar.
• Die mate hang af van die grootte van die kratte; hou dit in gedagte voordat jy die hout saag.
• Maak seker die pote is haaks voor jy dit vassit.
• Dis baie belangrik om gidsgate in Supawood te boor, aangesien dit maklik splyt.
Inkopielys
• twee 2,1 m-lengtes 22 x 69 mm- alkantgeskaafde (“PAR”-) dennehout vir die basisraam, gesaag in: > twee 1 495 mm-lengtes (voor- en agterkant) > vier 280 mm-lengtes (sye en stutte)
• ½ blad 16 mm-Supawood vir die boks, gesaag in: > twee 1 535 x 380 mmstukke (bo- en onderkant) > vier 380 x 380 mmstukke (sye en stutte) > een 350 x 350 mm-stuk (rak in die middel)
• vier Queen Anne-pote
• kratte (sien projeknotas)
Plus
• houtlym
• 8 x 40 mm-skroewe
• 120- en 240-grintskuurpapier
• houtvuller
• universele onderlaag en verf
Gereedskap
• boor, gids- en versinkboorpunt
• potlood
• maatband
• skroewedraaier
• groot tekendriehoek
Stap 1
Posisioneer die twee 280 mm-sye tussen die ente van die 1 495 mm-lengtes, met een 280 mm-stut in die middel. Lym en skroef dit aanmekaar (boor eers gidsgate).

Stap 2
Saag die orige 280 mm-lengte in die lengte middeldeur vir twee steunstutte om die boks aan vas te sit. Skroef dit 150 mm van die sye af gelyk met die raam vas.

Stap 3
Skuur die hoeke van die raam. Wenk Vul al die skroefgate namate jy vorder om tyd te spaar.

Stap 4
Draai die raam om, lym die pote en klamp dit in posisie – maak seker die pote is haaks met die raam. Skroef dit dan vas.

Stap 5
Lym en skroef ’n 380 mm-Supawood-sy aan die “binne”-rand van een 1 535 mm-lengte vas. Herhaal dié proses aan die ander kant.

Stap 6
Draai die eenheid om en skroef die boonste 1 535 mm-lengte in posisie.

Stap 7
Meet die lengte van die groot kratte voordat jy die regop stutte tussen die boen -onderkant vassit.

Stap 8
Klamp oorskietplanke aan die regop stutte vas om jou te help om die rak te posisioneer; skroef dan die rak vas.

AFRONDING: Verf die basisraam en die boks voordat jy dit aanmekaar skroef. Ek het die rande van die boraam met houtlym geseël voor ek dit geverf het. Wend eers ’n onderlaag aan, skuur dit en verf dan die finale laag aan.













