Klip en staal
Daar is ’n sekere bekoring aan ’n tafel met ’n blad van natuurlike klip en ’n staalraam. Dié tafels is nie net mooi nie, maar is goed bestand teen die elemente. Boonop is dit baie swaar en sal dit nie sommer wegwaai (of weggedra word) nie. Maak seker die staal is behoorlik teen roes behandel en die blad geseël sodat dit nie maklik vlekke opdoen nie.
Beton
Vergeet van lelike witgeverfde betonbankies waaragter tuindwergies wegkruip. Beton is veelsydig en kan in enige denkbare vorm volgens jou behoeftes gegiet word. Jy kan dit ook in enige kleur en afwerking verf, en so gereeld as wat jy wil – ideaal as jy jou tuindekor elke nou en dan opkikker. Beton is uiters duursaam en sal nie sommer in jou leeftyd verweer nie, maak nie saak hoeveel reën daarop val of hoe skerp die son daarop skyn nie. Jy kan voorafvervaardigde meubels by ’n betonhandelaar koop of jy kan vra dat hulle iets spesiaal vir jou ontwerp.
Op die patio
As jy graag ’n eetstel op jou patio wil gebruik, moet die ruimte minstens 2,5 x 2,5 m groot wees – dan sal ’n viersitplektafel gemaklik daarop pas, sê argitek Sorina van Deventer. Hoewel dit ’n bietjie beknop is, sal jy gemaklik by die tafel kan sit en maklik om jou gaste se stoele kan loop. Die ideale ruimte vir ’n ses- of agtsitplektafel is 4,2 x 4,2 m. Onthou, behalwe vir die meubels en die braai, moet daar ook genoeg plek wees om te kan rondbeweeg. Sorg vir ’n spasie van sowat 900 mm om die tafel en 450 mm om die stoele.
Kunsrottang
Kunsrottang is vuurwarm modenuus en dié seisoen in bykans al wat winkel is, te kry. Kunsrottang word van plastiek of ander sintetiese materiaal gemaak, maar word net soos regte rottang gevleg en het dieselfde sjarme. Dit is duursaam en omgewingsvriendelik en is in ’n groot verskeidenheid kleure en style te kry. Hoewel dit die elemente in ’n mate kan trotseer, moet dit nie permanent buite in die son en reën staan nie, anders sal dit mettertyd verbleik en kraak.
Aluminium
Aluminium is ideaal vir stoepe wat nie bedek is nie, aangesien dit die wind en weer beter as meubels van ander materiale kan weerstaan. Aluminium is roes- en onderhoudvry en daarom ideaal vir iemand wat nie ’n patio het nie of wat nie baie tyd aan die onderhoud van ’n tuinstel wil bestee nie. Koop die beste gehalte wat jy kan bekostig, aangesien aluminium in verskillende grade te kry is.
Voor jy koop, vra jouself:
- Gaan die meubels onder ’n dak staan waar dit meer beskut gaan wees teen die elemente?
- Is ruimte ’n probleem? Moet die stoele opgevou en weggepak kan word?
- Moet die meubels gereeld verskuif word – van die patio na die grasperk of swembad – en dus liggewig wees?
- Moet die meubels ook van tyd tot tyd binne gebruik word as ekstra sitplek?
- Is jy bereid om van tyd tot tyd onderhoudswerk aan die meubels te doen?
Ontwerpersplastiek
Ontwerper-plastiekmeubels of meubels van poliëtileen is dikwels weens die stewige prysetiket nie almal beskore nie, maar as jy lank genoeg rondsoek behoort jy iets te kry wat jou sak sal pas. Dié meubels is in ’n verskeidenheid ergonomiese en organiese vorms en in enige kleur denkbaar te kry. Onthou, moenie plastiekmeubels permanent buite laat staan nie, want dit sal metteryd verkleur en kraak.
Hout
Hout bly ’n gewilde opsie en is in verskeie prysklasse te kry. Van die gewildste soorte is balau, meranti, saligna en kiaat. Hoewel hout aan die elemente oorgelaat kan word om ’n verweerde voorkoms te kry, is dit beter om dit te olie – veral as die stel van ingevoerde Indiese kiaat is, want dié houtsoort is gewoond aan ’n vogtige klimaat en sal in ons warm, droë weer kraak as dit nie behoorlik geseël is nie. Olie jou stel gereeld in die eerste jaar en daarna jaarliks. Vermy liewer vernis, aangesien dit kan afsplinter en jy dit eers moet afskuur voor jy dit kan oorverf. Olie kan aangewend word sonder enige voorbereiding.













