Huis + tuin

Oop vir ontbyt

Vou dié tafel elke oggend oop vir ’n gesonde ontbyt; daarna vou dit netjies plat teen die muur.

Inkopielys

• een stuk gelamineerde dennehout van 1 800 x 610 x 22 mm

• een 1 800 x 69 x 22 mm-dennehoutplank gesaag in twee 900 mm-lengtes (pote)

• een 1 800 x 69 x 22 mm-dennehoutplank gesaag sodat daar twee lengtes van 472 mm is (dwarsplanke vir raamwerk)

• een 1 800 x 44 x 22 mm-dennehoutplank gesaag sodat daar twee lengtes van 610 mm is

(onderste stut en klap)

• 610 x 22 x 22 mm-plank (boonste stut; ons het ’n afvalstuk gebruik)

Ander items

• houtlym

• 8 mm x 40 mm-tappenne

• ses 50 mm-deurskarniere

• skuifgrendel

• Hilti-muurankers

• mediumgrint-skuurpapier (120-grint)

• veeldoelige/universele onderlaag

• emaljeverf met waterbasis en swartbordverf

Gereedskap

• (koordlose) boor en 4 mm- en 8 mm-boorpunt

• maatband

• skerp potlood

• kombinasiewinkelhaak of tekendriehoek

• sirkelsaag

• verfkwas of sponsroller

• tappen-stel

• skuifklampe

• G-klampe

• boorgids

• waterpas

• rubberhamer

Stap: 1

Gebruik die maatband en winkelhaak en trek ’n lyn loodreg oor die gelamineerde plank vir die blad. Dit moet 922 mm lank wees – 22 mm langer as die tafel se pote.

(FRANCOIS OBERHOLSTER)

Stap: 2

Gebruik die sirkelsaag om die tafelblad te saag. WENK So maak jy ’n skoon snit: Merk eers die lyn waarlangs jy wil saag op die hout. Gebruik die gids op die saagtafel om seker te maak die lem is presies in lyn met die lyn wat jy moet saag. Klamp dan ’n reguit plank met G-klampe aan die bord vas om as gids te dien.

(FRANCOIS OBERHOLSTER)

Stap: 3

Klamp die twee 472 mm-stukke aanmekaar en trek twee lyne oor albei punte (22 mm-sye), eweredig uitmekaar. Merk die middelpunt van elke plank by dié punte – dis waar die tappenne moet kom.

(FRANCOIS OBERHOLSTER)

Stap: 4

Gebruik ’n boorgids wanneer jy die 8 mm-gate vir die tappenne boor.

(FRANCOIS OBERHOLSTER)

Stap: 5

Sit die tappenmerkers in die gate.

(FRANCOIS OBERHOLSTER)

Stap: 6

Plaas die ente van die 472 mm-planke tussen die twee 900 mm-planke (pote). Nommer die ooreenstemmende punte sodat jy kan seker wees die tappenne pas perfek in die gate.

(FRANCOIS OBERHOLSTER)

Stap: 7

Tik die planke liggies met ’n rubberhamer.

(FRANCOIS OBERHOLSTER)

Stap: 8

Die punte van die tappenmerkers dui die middelpunte van die ooreenstemmende gate in die teenoorstaande planke aan.

(FRANCOIS OBERHOLSTER)

Stap: 9

Plaas ’n druppel lym in elke gat voor jy die tappenne daarin druk. Pas die genommerde ente inmekaar.

(FRANCOIS OBERHOLSTER)

Stap: 10

Hou die raamwerk stewig met behulp van skuifklampe terwyl die lym droog word.

(FRANCOIS OBERHOLSTER)

Stap: 11

Skroef nou die skarniere aan die pootraamwerk, en die pootraamwerk onderaan die blad, vas.

(FRANCOIS OBERHOLSTER)

Stap: 12

Gebruik ’n 4 mm-boorpunt en boor vier gate eweredig uitmekaar op die een 610 x 44 x 22 mm-lengte (onderste stut) en die 610 x 22 x 22 mm-lengte (boonste stut). Dié stutte word later aan die muur vasgeskroef.

(FRANCOIS OBERHOLSTER)

Stap: 13

Sit die oorblywende 610 x 44 x 22 mm-lengte (klap) met behulp van twee skarniere aan die 610 x 22 x 22 mm-stut vas.

(FRANCOIS OBERHOLSTER)

Stap: 14

Skroef die skuifgrendel aan die pootraamwerk en die sluiter aan die klap, soos op die foto. Smeer houtvuller aan om gate en merke te verbloem en wanneer dit droog is, skuur liggies met skuurpapier. Wend dan ’n veeldoelige of universele onderlaag, gevolg deur emaljeverf met waterbasis in die kleur van jou keuse, aan of gebruik eenvoudig ’n poliuretaanvernis. Verf die onderkant van die blad met swartbordverf.

(FRANCOIS OBERHOLSTER)

Sit dit aan die muur vas    

Merk 900 mm van die grond af en gebruik dan die waterpas om ’n lyn van 610 mm teen die muur te trek. Skroef die 610 x 44 x 22mm-lengte (onderste stut) met Hilti-ankers aan die muur vas. Sit die oorblywende twee skarniere aan die tafelblad vas (aan die teenoorgestelde kant as die pote) en skroef aan die onderste stut vas. Vou die tafel op en merk waar die boonste stut teen die muur moet vaskom. Sit die 610 x 22 x 22 mm-stut met behulp van Hiltiankers vas sodat die 610 x 44 x 22 mm-klap daaroor hang. Wanneer jy die tafel wegvou, lig jy die klap oor die blad se rand en skuif die grendel toe.

admin

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM