Huis + tuin

Opslaantafel

Inkopielys

Basis

  • agt 730 x 69 x 22 mm-planke (pote)
  • vier 760 x 69 x 22 mm-planke (lang stutte)
  • ses 340 x 69 x 22 mm-planke (kort stutte)
  • agt 400 x 69 x 22 mm-planke (arms)

Blad

  • twee 460 x 69 x 22 mm-planke (steunplanke vir middel-seksie)
  • vier 620 x 69 x 22 mm-planke (steunplanke vir opslaan-seksies)
  • twee en twintig 760 x 69 x 22 mm bladplanke

Ander

  • veertig 40 mm-spaanderbordskroewe
  • sestig 16 mm-spaanderbordskroewe
  • ± negentig 8 mm x 40 mm houttappenne
  • agt 200 mm-T-skarniere
  • ses 40 mm-deurskarniere
  • waterdigte houtlym
  • mediumgrint-skuurpapier (120-grint)
  • houtvuller (om versinkte skroewe toe te maak)
  • verfkwas en sponsroller
  • veeldoelige onderlaag
  • emaljeverf met waterbasis/UVbestande poliuretaanvernis

So maak jy

1 Merk reghoeke van 69 x 22 mm op elke punt, en in die middel, van die vier lang stutte (760 mm) uit. Boor dan twee versinkte gidsgate (met die kombinasieversinkboorpunt of 'n 3 mm-boorpunt gevolg deur 'n versinkboorpunt) in hierdie reghoeke.

2 Gebruik die 40 mm-spaanderbordskroewe en maak twee identiese rame deur die ses kort stutte (340 mm) tussen die vier lang stutte vas te sit (lym eers en skroef dan vas), soos aangedui.

3 Meet 150 mm van die "onderste" ent van elk van die agt 730 mm-pote. Gebruik 'ntekendriehoek of kombinasiewinkelhaak en trek 'n lyn oor al agt pote by hierdie punt, en verleng dié lyn regoor die breë (69 mm-)vlak van elke stuk afsonderlik.

4 Sit vier van die 730 mm-pote aan die binnekant van die raamwerk vas, soos aangedui; die bo-ente moet presies gelyk met die "bokant" van die raamwerk wees.

5 Sit nou die pote aan die tweede raamwerk vas, met die bokant van die onderste raam gelyk met die 150 mm-merk wat in stap drie gemaak is. ONTHOU om gidsgate te boor voor jy lym en vasskroef. Toets ook deur die loop van die bouwerk met 'n winkelhaak dat die pote en raamwerk loodreg op mekaar is.

6 Sit nou die vier uitswaaiseksies aanmekaar: een arm kom loodreg en gelyk met die bokant van elk van die oorblywende vier pote, en die bokant van die "onderste" arm kom gelyk met die 150 mm-merk op elke poot, soos aangedui. Gebruik dan die 16 mmspaanderbordskroewe en skroef die agt 200 mm-T-skarniere op die (los) punte van die arms vas.

7 Plaas die swaaistutte twee-twee teen die raamwerk se lang sye, en posisioneer elkeen so dat die poot presies buite-oor die raamwerk pas. Merk die korrekte posisie vir die skarniere met 'n potlood teen die lang stut, soos aangedui. Skroef nou die arms by dié punte aan die raamwerk vas.

8 Gebruik die figuursaag en saag 10 x 60 mm-dele 90 mm van die ente aan die "bokant" van elk van die swaaistutte uit, soos aangedui.

9 Meet en merk (baie akkuraat!) twee punte op elke ent van die bladplanke, 20 mm van elke rand af. Gebruik die 8 mm-boorpunt en boor 20 mm diep gate by elkeen van dié punte op al 22 planke. Draai maskeerband om die boorpunt as dieptegids.

10 Sit 'n tappen saam met 'n druppel houtlym in elke gat. Voltooi eers die middelste bladseksie: lê ses van die planke ongeveer 6-8 mm van mekaar neer met 'n 460 x 69 x 22 mmsteunplank alkant, teen die tappenne. Merk die posisies van die tappenne oor die lengte van die twee steunplanke. Boor 20 mm gate loodreg op dié punte vir die tappenne. Sit 'n bietjie lym in die gate en druk die steunplanke oor die tappenne. Herhaal die proses vir die opslaanseksies; gebruik twee stelle van agt planke en die vier 620 x 69 x 22 mm-steunplanke.

11 Klamp die middelste en opslaanseksies stewig aanmekaar terwyl die lym (oornag) droog word.

12 Lê die blaaie langs mekaar neer met die "onderkante" na bo (laat 'n opening van 3-4 mm tussen die blaaie) voordat jy die 40 mm-deurskarniere met die 16 mm-spaanderbordskroewe daaraan vasskroef. Sit eers die skarniere gelyk met die rande aan die middelste blad vas, daarna aan die opslaanblaaie. Twee kom in die middel en vier kom 90 mm van die kante af.

13 Plaas die raamwerk onderstebo op die middelste bladdeel en skroef dit aan die blad vas met die 40 mm-spaanderbordskroewe.

14 Die uitgesaagde dele (sien stap 8 ) pas netjies oor die buitenste skarniere, sodat die arms ongehinderd kan toeswaai. Smeer houtvuller oor alle lasse en merke; as dit droog is, skuur glad met mediumgrint-skuurpapier. Wend daarna eers veeldoelige of universele onderlaag aan en verf dan met emaljeverf met 'n waterbasis in die kleur van jou keuse, of kies 'n UV-bestande poliuretaanvernis.

Suné Esterhuizen

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM