Huis + tuin

Saai self beet

Beetkweek is glad nie bloedsweet nie, en as jy eers verby die vet rooi boudjies van jou eie plante gestap het, sal jy die Romeine ewig dankbaar wees dat hulle dié Mediterreense groentesoort op hulle Europese segetogte saamgeneem het.

Beet sal maklik groei op enige sonnige plek mits dit in tuingrond geplant is wat goed dreineer. Die plante groei vinniger in die koeler maande, maar dis ’n aanpasbare groentesoort wat heeljaar gesaai kan word, behalwe in baie warm klimaatstreke waar Maart tot Julie die beste planttyd sal wees.

Kweekwenke

• Beet kan van die vroeë lente tot in die herfs gesaai word. Saai dit regstreeks in die voorbereide beddings in rye wat sowat 20 cm uitmekaar is.

• Week die beetsaad eers vir sowat twee uur in warm water voordat dit gesaai word. Dit sal help om die saad vinniger te laat ontkiem.

• Hou die grond klam totdat die saadjies ontkiem het. As die plantjies te dig opkom, kan hulle uitgedun word tot sowat 8 cm uitmekaar.

• Hou die plantjies deurgaans goed nat en voed gereeld met ’n algemene vloeibare kunsmis. Beet moet vinnig groei om soveel as moontlik van hul soet sappigheid te behou.

• Moenie die beet plant in beddings wat onlangs met kraalmis bemes is nie. Beet verkies grond wat nie te ryk is nie. Hulle hou ook nie van grond waar ’n ander groentesoort onlangs suksesvol gekweek is nie.

Die beste variëteite

• ‘Crimson Globe’ het donkerrooi ronde knolle.

• ‘Detroit Dark Red’ spog met helderooi ronde knolle wat ’n heerlike geur het.

• ‘Formanova’ se knolle is langerig en ligte rooi.

Oestydwenke

• Begin die beet oes as die knolle omtrent so groot soos gholfballetjies is. Só verseker jy die groente is soet en sappig.

• Oes beet net deur dit aan die blare uit die grond te trek, óf gebruik ’n tuinvurk om dit versigtig uit te lig.

• Verwyder die blare met ’n vinnige draaibeweging sowat 3-5 cm bo die knolle. Los die kort steeltjies net so aan die knol omdat dit sal keer dat die beet “bloei” en hulle dieprooi kleur verloor wanneer dit gekook word.

Wat’s fout?

• Smaak- en geurloos, houterig en harig: Die grond is te ryk of te suur. Die pH-vlak kan reggestel word met ’n toevoeging van landboukalk. Ander moontlike oorsake is te min water of ’n gebrek aan gereelde blaarvoeding met mikro- en makro-elemente.

Het jy geweet?

• Beetsaad sal beter ontkiem as dit tussen volmaan en die laaste kwartier gesaai word.

• Beet en uie is omgewingsvriendelike pasmaats wat mekaar in die groentetuin komplementeer, maar moet liewer nie bone of tamaties naby beet plant nie.

• Vryf jou vingers goed met sout en suurlemoensap as beet dit gevlek het. Was jou hande dan met seep en water.

• Die rooi kleurstof in beet is kankerwerend. Dié groentesoort bevat ook kalium en mangaan, maar moenie van die blare vergeet nie - dis propvol kalsium, betakaroteen en yster.

Shané Barnard

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM