Huis + tuin

Sit-sit so

Nicole Dippenaar skryf: Ek het hierdie stoel by ’n vriendin van my ma gekry – blykbaar het dit aan haar ma behoort. Sy sê dis van Poolse oorsprong en beslis antiek. Toe ek dit gekry het, was dit baie vuil en in ’n vuilblou fluweel oorgetrek. My oom het dit afgeskuur, skoongemaak en met my eie lap oorgetrek. Hy vermoed dis beukehout wat donker gebeits is.

Jo-Marie Rabe, historikus en mede-eienaar van Piér Rabe Antiques, antwoord: Opvoustoele soos dié vorm deel van ’n meubelgroep wat “patente-meubels” genoem word. Die voorbeelde wat ons hier vind, is bykans almal in Amerika gemaak. Gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog (1861–1865) is voustoele in talle style gepatenteer en deur die offisiere in hul tente gebruik. Die feit dat die stoele kon opvou en van ligte houtsoorte gemaak is, het beteken dat dit maklik vervoer kon word. Dis waarom daar in die literatuur oor meubels soms na hierdie en ander soorte voustoele as “Campaign”- meubels verwys word. Ná die oorlog is voustoele steeds gemaak en het dit ’n tuiste in die voorkamers van woonhuise gevind. Baie is uitgevoer – moontlik juis omdat dit kon opvou en dus maklik en ekonomies verpak en verskeep kon word. Die Art Nouveau-motief op die rug van dié stoel dui aan uit watter era dit kom.

OUDERDOM Circa laat 19de eeu

WAARDE Ongeveer R1 500

Shané Barnard

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM