Jou slaapkamer is jou koninkryk ... jou bed jou sierlike troon. Tooi dit met al die glans en swier wat jou adellik laat voel as jy saans jou kop neerlê.
Frans-Mediterreens
Elegant, sonder om styf te wees. Skep dié styl met 'n eklektiese versameling gehaltemeubels in subtiele kleure. Wees suinig met kleur; hou liefs by wit, naaswit, neutrale kleure en natuurlike hout in jou dekor, muur- en vloerafwerking, met net een of twee aksentkleure daarby. Kies enkele groot meubelstukke wat 'n stelling maak, eerder as 'n bonte mengelmoes. En plaas ornamente bymekaar op 'n tafelblad of bo-op 'n klerekas - dit skep orde.
Manlik, maar sjiek!

Hoe klee jy 'n vertrek in sodat 'n man en 'n vrou ewe gemaklik daarin voel? Kies 'n paar manlike elemente soos blindings, donker plakpapier en donkerhoutmeubels met reguit lyne - 'n moderne platformbed, byvoorbeeld. Versag dan dié elemente met chiffongordyne voor die blindings, vroulike patrone op die plakpapier en 'n geplooide fluweelpaneel teen die kopstuk. Die resultaat? Sjiek, sensueel en nie oorheersend manlik óf vroulik nie.
Uit eie bodem

Proteas, aalwyne en dryfhout gee dié kontemporêre slaapkamer 'n eg Suid-Afrikaanse geur. Skakerings van wit saam met aardse teksture hou die vertrek modern, sonder dat dit steriel voorkom. Die gestoffeerde bed op 'n klein platform dra by tot die elegansie.
Wenke vir soete drome
- Maak jou bed op met laag op laag materiale van verskillende teksture en bypassende skakerings.
- Verruil jou duvet vir goeie lakens van 'n natuurlike materiaal, komberse en 'n bedsprei soos van ouds. Kies weelderige stowwe wat jou elegansie weerspieël.
- Hou jou oë oop vir glanssatyn-katoenperkal met 'n 300-draadtelling - dis 100% katoen, maar voel soos satyn.
- Jy kan 'n gewone kopstuk vorstelik laat lyk met 'n eenvoudige sloop wat oor die bestaande paneel pas. Of plak 'n kamma-kopstuk van viniel teen jou muur.
- Kies bykomstighede soos bedtafeltjies, los matte, spieëls en bedlampies wat by die res van die vertrek inskakel.













