Huis + tuin

Ter ere van ’n tuin: Dít bring mense bymekaar

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dr. Anesu Mbizvo, stigter van The Nest Space Wellness Center, en ’n vriend van die 2024 Tuindag-bemarkingsveldtog.
Dr. Anesu Mbizvo, stigter van The Nest Space Wellness Center, en ’n vriend van die 2024 Tuindag-bemarkingsveldtog.

Plante en blomme vrolik nie net jou ruimte op nie, maar het ook gesondheidsvoordele en het al mense gered uit ellende, skryf Biénne Huisman.

Nie almal het groen vingers nie, nogtans vind ons gemoedsrus tussen die blare. Of jy nou 'n enkele potplant besit, 'n lappie grond in die opelug, of 'n vertikale woonsteltuin - die konsensus is: Tuinmaak is goed vir die siel.

Ons tuine verbind ons met die natuur; met die aarde en haar grond - die lewe wat daaruit spruit - met seisoene, en met tyd. Alles goeie redes om ons grond-juwele te besing op Tuindag, wat op 20 Oktober gevier word.

Ons tuine verbind ons met die natuur; met die aarde en haar grond - die lewe wat daaruit spruit - met seisoene, en met tyd. Alles goeie redes om ons grond-juwele te besing op Tuindag, wat op 20 Oktober gevier word.

In die gedig "Oktobermaand" loof die dokter en skrywer C. Louis Leipoldt Oktober as "die mooiste, mooiste maand" met "Viooltjies in die voorhuis . . . Viooltjies orals op die veld".

Die eksentrieke Leipoldt was 'n kranige tuinier. Sy dubbelverdiepinghuis, Arbury, teen die spoorlyn in Kenilworth, Kaapstad, het grasperke gehad met koolplantjies en katjiepierings. Ruikers het sy keurige aandete-tafels versier, waar sy gesiene gaste tot gebraaide tuinslakke kon geniet.

Maar plante is soveel meer.

Potplante verfraai jou huis.
Potplante verfraai jou huis.

Plante wat gesondmaak

Plantliefhebbers stem saam oor die voordele van vingers in die grond hê - sowel vir die gees as algehele gesondheid.

In Johannesburg bied dr. Anesu Mbizvo vinyasa- en hatha-joga en meditasie-klasse aan by The Nest Space­, die welstandsentrum waarvan sy mede-eienaar is.

Mbizvo, 'n gekwalifiseerde gesinsdokter, het uit die kliniese veld beweeg om gesondheid in 'n meer holistiese vorm na te streef. Deesdae doen sy navorsing oor inheemse plantmedisyne en die gebruik van gedistilleerde aftreksels vir gesondheid. Sy beveel 'n dieet met 'n plantbasis aan. "My lewe gaan nou oor bewustheid en welstand," sê sy.

Mbizvo, 'n vriend van die 2024 Tuindag-bemarkingsveldtog, onthou haar kinderjare in Zimbabwe. "Al my lekkerste herinneringe is oor hoe vry ek in die natuur was. Ek kon kaalvoet loop, vuil word en dit het gevoel asof die natuur my omvou."

Sy onthou hoe sy liewenheersbesies en naaldekokers uit die swembad gered het.

Babylonstoren in die Wynland is bekend vir kraakvars lekkernye uit die grond. Die plaas se meester-tuinier, Gundula Deutschländer, gee wenke oor plante met gesondheidsvoordele.

* Wildeals (Artemisia afra) is 'n gewilde inheemse krui en wonderlik vir koors, griep, maagkwale en selfs malaria as voorsorg en nadat die gogga gebyt het.

* Kankerbossie (Lessertia frutescens) is nie alleenlik vir kanker nie, maar help om die immuunstelsel te ondersteun. Beste is om die bitter blare te kou totdat daar 'n soeterige nasmaak na vore kom.

* Plakkie (Cotyledon orbiculata) is 'n algemene vetplant wat maklik groei en min water nodig het. Die blare word uitwendig gebruik om op wonde en vratjies te "plak". Die sap van die blare is ook baie doeltreffend teen oorpyn. Dompel 'n blaar in 'n koppie warm water; wanneer die blaar warm is, druk die sap uit op watte om in die seer oor in te prop.

* Geelkatstert (Balsem kopiva) groei baie maklik. Hierdie klein vetplant se blare is waardevol vir die vinnige verligting van bysteke, brandwonde en vel-irritasies. Dis wonderlik vir die genesing van wonde wat na vore kom by diabete.

* Roosmaryn (Rosmarinus officinalis): Net die reuk van die blare is reeds genoeg om jou brein op te kikker en te help fokus. Roosmaryn-olie kan gebruik word om seer spiere en rumatiek te verlig. Roosmaryn-tee help vir bloedsomloop en ondersteun die hart.

Plante en tuinmaak verander lewens

Vanuit Heidelberg, Gauteng, sê Corli Leonard, 'n voormalige bedryfsingenieur en nou 'n bloemiste bekend as Veldmeisie: "Dit was blomme wat mý gevind het in 'n moeilike tyd."

Tydens die Covid-pandemie is Leonard 'n tweede keer afgedank as ingenieur. Sy't teruggekeer na hul familieplaas, waar sy weer haar voete gevind het in die landskap van haar kinderdae.

"Die naam Veldmeisie herroep die plaaskind in my, wat ure lank in die veld gespeel het," sê sy.

Hul plaas se sprieterige grasse, wilde blomme en saadknoppe sou later haar rangskikkings met hul kenmerkend delikate skoonheid inspireer.

Vir Leonard gaan Tuindag oor tyd maak om die natuur te geniet. Sy vier dit saam met ander bloemiste. "Ons gaan blomkrone uit vrugte, blomme en groente maak - gebruik wat jy byderhand het," sê sy. "En moenie vergeet om bietjie te speel nie."

In Kaapstad het die landbou-entrepreneur Ncumisa Mkabile van Khayelitsha ook van loopbaan verander weens Covid. Die pandemie het haar spysenieringsaak geknou, waarna sy begin spinasie verbou het met YouTube as "onderwyser".

"Ek het klein begin en elke beskikbare plekkie in my agterplaas gebruik," vertel sy. Haar agterplaas het later te klein geword waarna sy 'n hektaar grond - oorspronklik bestrooi met ou motors en afvalmateriaal - gehuur het. Vandag is sy die eienaar van Dawana Fresh Produce, wat groente aan kleinhandelaars, restaurante en smouse oor die Wes-Kaap heen voorsien.

Mkabile beplan om op Tuindag 'n teepartytjie vir die gemeenskap te hou. Sy beklemtoon haar koestering vir groei - in sowel landbougewasse as in mense.

Die stadsboer Codi Marais van Ottery in Kaapstad, stigter van Grow a Garden (Groa), streef om mense te voed en hulle plantegroei-vaardighede aan te leer. Ná vyf jaar se werk op toerskepe het Marais na vaste grond verlang.

Hy vertel hoe hy die kleure en geure, die biodiversiteit en plantlewe van die Kaap gemis het.

By Groa is sy gunsteling-gewas pers Rambo-radyse met "hul diep fluweelkleurige blare en stam".

Op Tuindag wil Marais deelneem aan 'n gemeenskapsuitreikprogram.

Dit is duidelik dat tuine - groot of klein - mense bymekaarbring.

  • Raadpleeg jou dokter as jy plante as medisyne wil gebruik.

Vier Tuindag só

  • Nooi die bure vir 'n tuin-skattejag.
  • Hou piekniek saam met jou troeteldier onder 'n boom.
  • Verander jou tuin in 'n opelug-bioskoop - kry 'n projektor en gebruik 'n kaal muur of 'n wit laken as die skerm.
  • Bedien koek by jou naaste gemeenskapstuin.
  • Sing en dans rondom jou potplant.
  • Doen grasperk-joga.
  • Vir meer inligting en blomkroon-wenke, besoek www.tuindag.co.za of @gardendaysa op sosiale media.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM