Sorg dat jou tuin dié winter die asem wegslaan …
Deur Kay Montgomery
Kry vandeesmaand jou tuin gereed vir die winter, plant kleur vir trefkrag en belê in bladwisselende bome en sitrusbome.
Wees slaggereed vir die winter
Hier is ’n paar goedjies om in jou tuin te doen voor die winter in alle erns begin …
In winterreënstreke:
• Verwyder vuilis uit geute en afvoerpype.
• Verwyder dooie hout van bome en struike.
• Bind bome en struike met oppervlakkige wortelstelsels of wat nuut geplant is aan stutte vas om windskade te voorkom.
• Hou geil klimplante wat in bome oprank of oor priële groei in toom, aangesien hul gewig takke of houtraamwerke kan laat breek.
In somerreënstreke:
• Strooi deklae rondom plante.
• Maak jou tuin vroegoggend nat.
• Beskerm tenger en halfgeharde plante teen ryp deur dit met rypdoek te bedek, en meerjariges deur ’n dik deklaag oor die grond by hul wortelnekke te strooi.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6136/56a15eeae66d4536b1ad761990e17e83.jpgKleurspel
• Bolle verskaf baie van die vroeë winterkleur.
Van die eerste bolle wat blom is sneeuvlokkies met hul fyn wit klokkies en ’n groen kol aan die punt van elke kroonblaar, en vroeë affodille met trosse geurige wit en geel blomme.
• Feetjieprimulas sal skadukolle in ’n wit, mauve en pers sprokieswêreld omtower.
• Camellia japonica-hibriede blom in die winter en kan ’n regop, bosagtige of kompakte groeiwyse hê. Hulle spog met enkel- , semidubbel en dubbelblomme in wit, pienk of rooi – sommige met spikkels of strepe – en blink, groen loof. Dié plante hou van gefiltreerde skaduwee en ryk grond met ’n goeie waterhouvermoë.
• Proteas en speldekussings uit die fynbosstreek is pragtig en sal boonop nektarvreters na jou tuin lok. Moet hulle nie met chemiese misstowwe behandel of hul wortels versteur deur plante te na aan hulle te plant nie.
• Aalwyne se blomme sal enige wintertuin lewe gee; daar is nou nuwe kultivars op die mark wat met uitgebreide kleurreekse spog.
Boom-bekoring
In die winter, wanneer tuine gestroop is van die somer se oorvloedige groei en kleur, is dit die tekstuur en kleur van bladwisselende bome se bas wat die kollig steel. Commiphora harveyi het blink, koperkleurige bas wat in lae afdop en ’n bronsgroen onderbas ontbloot. Die grys stamme van silwerberke spog met silwer-wit bas; sommige bome het bas met geel, groen en oranje-bruin strepe, terwyl ander soos gepoleerde mahonie lyk. Dombeya rotundifolia en Erythrina latissima het “krake” in hul bas wat as “geute” dien om reënwater weg te voer.
Super-sitrus
Buiten die gesondheidsvoordele wat hul vrugte inhou, is sitrusbome begeerlike landskapplante met hul aantreklike vorm, blink immergroen blare, geurige bloeisels en sierlike vrugte. Die soort boom wat jy plant, sal afhang van die klimaat in jou area, aangesien sommige sitrusbome meer bestand is teen koue. Verder sal die ruimte in jou tuin bepaal of jy ’n boom van standaard- of dwerggrootte moet plant. ’n Suurlemoenboom is een van die nuttigste bome in ’n tuin. Moderne variëteite soos die kompakte ‘Meyer’ of die hoërgroeiende ‘Eureka’ dra die grootste deel van die jaar sappige vrugte met gladde skille. ’n Koemkwat is ’n kompakte sitrusboom wat net oor ’n meter hoog word, en lyk pragtig in ’n groot pot in ’n binnehof of op ’n stoep.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6136/bc71eca286b445f8be72fbb3312955c7.jpg













