’n Leser met pienk Supawood-kaste in haar kombuis wil dit graag oorspuitverf en die werkblaaie met graniet vervang. Haar muurteëls is ligpienk en die vloerteëls liggrys. Sy wil weet watter kleur die beste op die kaste sal wees.
Ashley Stemmett van Atmosphere Design antwoord: ’n Mens moet altyd holisties na jou hele huis kyk wanneer jy enige vertrek verander, en neutrale afronding is nie net tydloos nie, maar dis ook makliker om modieuse aksentkleure met behulp van bykomstighede daarby te voeg. Met inagneming van al die ander afwerkings en die veranderings wat jy beoog, sou ek die antieke wit opsie vir jou kasdeure kies. Jy kan natuurlik kleur inbring deur die ongeteëlde areas op jou mure te verf. As jy wel oorweeg om binnekort die pienk muurteëls te vervang, kies dan ook hier ’n neutraler kleur. In daardie geval kan jy natuurlik lemmetjiegroen vir jou kasdeure oorweeg – dis makliker om dié oor te spuit as om die mure oor te teël. Jy kan natuurlik ook die ligpienk teëls verf: Wend eers ’n teëlonderlaag (te kry by die meeste ysterwarewinkels) aan, laat dit deeglik droog word en verf daarna met die kleur van jou keuse.

http://tuis.co.za/doen-dit-self/tydloos-neutral/attachment/tuishome-667/













