Vir klein ruimtes
Om jou kompakte woning atmosfeer te gee, of as geskenke soos vir Moedersdag: Hier is 'n
paar selfdoen-idees.
A
AANSTEEKBORD
Benodighede
'n Ou prenteraam; Plascon Velvaglo in die volgende kleure: Scalloped Potato vir buiteraam, High Grass vir binneraam en goue stokperdjieverf vir dun binneraampie; 'n stuk linne-materiaal, effe groter as raam, asook dun watteer sel; 'n verskeidenheid oorgetrekte knope van jou geliefkoosde lappies; hardebord so groot soos binnemaat van raam; gomstiffie.
Maak só
• Verf raam in 3 kleure.
• Trek binneraam op linnestof na.
• Plaas watteersel agter en ryg aanmekaar.
• Werk knope eweredig gespasieer deur al die lae vas.
• Plaas hardebord op watteersel, knip lg. weg en smeer gom aan rande van hardebord.
• Vou linne om en plak vas.
• Plaas binne-in raam en hou in posisie met knoplose spykers.
B
MOSAÏEKSPIEëLTJIE
Benodighede
'n Ronde spieël van sowat 20 cm in deursnee; mosaïekteëltjies in lig- en donkergroen, pers, blou, pienk, geel, oranje en rooi; mosaïektang; Flex-mosaïekgom; wit voegbry.
Maak só
• Merk met 'n permanente viltpen 'n ronde raam rondom die spieël van sowat 4 tot 5 cm en doen mosaïekwerk binne die spasie.
• Knip die gekleurde teëltjies eers in die helfte en dan weer in kleiner blaarvorms.
• Knip uit kwart-stukkies teëls rooi, oranje en geel blomkrone.
• Smeer 'n klein bietjie gom met 'n peusel stokkie aan elke stukkie teël en plak elke blommetjie, met blomkroontjie in die middel.
• Knip blare en stingeltjies uit donkergroen en plak tussen blomme.
• Knip liggroen teëls in kwarte en vul spasies tussenin om mosaïekraam te voltooi.
• Laat vir 24 uur.
• Maak voegbry aan volgens aanwysings op pakkie.
• Laat staan 'n rukkie en smeer tussen teëltjies.
• Laat vir sowat 20 minute en vee skoon met 'n klam spons.
C
HANDGEBORDUURDE LINNE
Benodighede
'n Gekoopte laken en kussingslope; DMC-stringkatoen in kleure wat by die slaapkamer pas; borduurnaald; verdwynpen.
Maak só
• Teken ‘n eenvoudige blomrankie en merk die posisies.
• Ons het die hele omvourand van die laken en die gestikte rand van elke kussingsloop borduur, maar 'n enkele blomtakkie sal net so mooi lyk.
• Gebruik eenvoudige borduursteke soos ketting-, satyn-, stam- en agtersteek, asook bouillonrosies.
• Borduur kettingsteke met 3 borduurdrade en die res met 2 drade.
• Spuit nat om verdwynpen te verwyder.
D
TEETAFEL MET KOEKSTAANDER
Benodighede
'n Glasskyf van sowat 25 cm in deursnee en 3 mm dik; glasklonte, verkrygbaar by stokperdjie- of kralewinkels; 'n ou glasbakkie; helder silikoongom.
Maak só
• Laat sny die glasskyf by glasverskaffers en laat hulle die skerp rand glad skuur met 'n skuurmasjien (nie nodig om die rand te politoer nie).
• Neem silikoongom en plak glasklonte styf teen mekaar rondom die rand van die skyf, asook om die buiterand van die glasbakkie en die voetstuk.
• Laat goed droog word.
• Keer glasbakkie om en plak voetstuk aan onderkant en in middel van glasskyf vas. (Die koekstaander het ons slegs R28 gekos.)
E
GASTE-HANDDOEKIES
Benodighede
Wit-en-room wafeldoek van sowat 45 x 120 cm; siergalon en 'n bont strokie katoenstof.
Maak só
• Stik some rondom elke handdoekie.
• Stik siergalon op rand van een vas.
• Stryk soompies in die katoenstrokie en stik sowat 3 cm vanaf die rand op ander handdoekie vas.
F
KLEIN FOTO-ALBUM
Benodighede
2 stukke karton, A5-grootte of soos verkies; dunnerige handgemaakte papier (ons het herwonne papier van Oasis-boekwinkel gebruik - werkverskaffers vir verstandelik gestremdes, 021 674 5570); enige tipe kleursel soos vir voedsel; persoonlike memento's van die familie; tuisrekenaar met drukker.
Maak só
• Kleur die papier na jou smaak (moenie te nat laat word nie).
• Laat droog word.
• Werk op jou tuisrekenaar en skandeer foto's swart en wit in (m.a.w. jy kan kleurfoto's na swart/wit verander).
• Druk dit uit op handgemaakte papier en skeur 'n eweredige buiterandjie rondom elke prentjie.
• Plak op 'n effe groter stukkie papier om 'n raampie te vorm.
• Trek die 2 kartonne oor vir 'n voor- en agterblad.
• Plak 2 of 3 velle aanmekaar tot 'n lang strook en vou 'n konsertina.
• Sny tot regte breedte en plak aan kartonne.
• Plak lint tussen voorblad en eerste konsertina.
• Voltooi album met foto's, gediggies en gesegdes.
Wenk: Scrapbooking is deesdae 'n gewilde manier om herinneringe te bewaar. Maak so 'n plakboek vir aandenkings of as geskenk soos hier beskryf, so groot of klein as wat jy verkies.












