
Elf jaar gelede het dié huismense van Johannesburg gaan naweek hou in die Middelland van KwaZulu-Natal, en daar op die mooiste plaas afgekom. Dit was liefde met die eerste oogopslag. Hulle het summier die gejaagde stadslewe vir ’n rustiger leefstyl op die platteland verruil, en teen Januarie 2004 het hulle die deure van hul eie Midlands Meander-onderneming oopgegooi. Vandag is hul plaas steeds die tuiste van die Indigo Fields Farm House and Spa; intussen het die paartjie ook St. Andrews Retreat gevestig in ’n lieflike ou Anglikaanse kerk 8 km buite Mooirivier, wat hulle in ’n selfsorggastehuis omskep het. Hier is saamwees ’n ware fees. “Toe St. Andrews in 2009 op die mark kom, wou ons dié lieflike gebou ’n nuwe lewe gee,” onthou hulle. “Ons het besluit om dié 108 jaar oue kerkgebou te omskep in ’n toevlugsoord vir mense wat ’n stil wegbreekplek nodig het. Die vloerplan is so ontwerp dat die groot middelruimte van die kerk in drie en suite-slaapkamers verdeel kon word: twee kamers onder en die hoofslaapkamer op ’n tussenvlak, kompleet met ’n trapkuil. Die interne raamwerk moes nie afbreuk doen aan die gebou nie, daarom is die kamers met droëmure afgeskort sodat St. Andrews weer êrens in die toekoms as plek van aanbidding kan dien.
Familie en tradisie
Deesdae speel die kleinkinders ’n belangrike rol in hoe Kersfees hier gevier word. “Dis vir ons heerlik om die kinders te laat help met die Kersboomversierings, maar net soos daar in Dr. Seuss se How the Grinch Stole Christmas gesê word, herinner ons hulle: ‘Sê nou maar Kersfees kom nie uit ’n winkel nie. Sê nou maar Kersfees beteken ... dalk ... baie meer!’”
In dié huis is Kersfees voorwaar ’n dag is wat die kleingoed altyd sal onthou en koester. “Daar’s niks so lekker soos om op Kersoggend wakker te word met die stemme van opgewonde kinders wat pas ontdek het dat Vader Krismis en Rudolf al die koekies opgeëet het en – sowaar! – hopies sneeu met takbokspore en al op die vloer agtergelaat het nie!” Maar hulls sê ook die beste deel van Kersfees is om te sien hoe grootmense soos kinders tekere gaan!





















